Ek het eintlik ’n ander onderwerp in gedagte gehad vir vandeesmaand se rubriek, maar dit het verander toe ek onlangs van die werk af huis toe ry. Die verkeer op die snelweg was swaarder as gewoonlik en Google Maps het my gewaarsku ek gaan ’n uur langer as gewoonlik in my trokkie moet deurbring voor ek my afrit haal.

Ek het van Pink Floyd se vroeëre musiek op die radio gelaai en uiteindelik by die toneel verbygery wat tot die verkeersknoop gelei het. Tussen al die noodvoertuie en brandweerwaens was die uitgebrande oorblyfsels van ’n voertuig, met ’n skare mense wat verslae rondstaan. Daar was geen leidrade dat hier ’n ongeluk plaasgevind het nie, en ek het aangeneem die voertuig het bloot aan die brand geslaan.

Ek hoop en vertrou niemand het seergekry nie.

Dit het my laat wonder hoekom voertuie aan die brand slaan. Met alle respek aan my mede-Ford-eienaars wie se karre (dit is nou sekere modelle) sommer self aan die brand geslaan het, is daar nie regtig ’n rede hoekom ’n voertuig sommer net moet begin brand nie.

Ek dink die meeste voertuigbrande ontstaan weens bedradingskwessies. Ek is redelik oortuig hiervan op grond van wat ek al waargeneem het in die 4x4-voertuie wat na ons werkswinkel toe kom vir elektriese installasies.

Dit sluit dinge in soos kolligte, bosbrekers met bykomende ligte, dubbelbatterystelsels, vrieskaste, sonpanele en dié klas van dinge. Ek is gereeld verstom oor wat ek sien – nie net die swak vakmanskap van sommige van die installasies nie, maar ook die blatante verkeerde gebruik van die verskillende komponente. En dit het veral te doen met bedrading en smeltdrade.

As jy enige bykomende elektriese komponente in jou veldryer het, is dit ’n goeie idee om ’n brandblusser byderhand te hou.

Ek is allermins ’n elektriese ingenieur en my kennis van elektriese teorie is basies, maar ek weet genoeg om te besef dat jy letterlik met vuur speel as jy dit nie 100% korrek doen nie.

Voertuigbrande en elektriese skokke is nie my idee van pret nie. Wanneer ons oor die installering van bykomdende elektriese toebehore in ’n veldryvoertuig gesels, is daar ’n klompie fundamentele dinge wat ’n mens korrek móét doen om ’n veilige en doeltreffende elektriese stelsel te verseker.

Doeltreffendheid is belangrik om te keer dat energie verlore gaan. Veiligheid is voor die handliggend en die installasie moet ook nie met die voertuig se eie elektriese stelsel inmeng of dit in gevaar stel nie.

Om dit te bereik moet jy die ontwerp van die stelsel, die verskillende komponente en die gehalte van die installasie versigtig oorweeg. Tipiese installasies in ’n veldryvoertuig sluit in ’n dubbelbatterystelsel en ’n herlaaistelsel vir dinge soos jou ys-vrieskas en beligting in en om die voertuig.

As jy ’n kranige fotograaf is, moet jy waarskynlik ’n Pure Sine Wave-220 V-omsetter laat aanbring om die batterye vir jou kamera, skootrekenaar en hommeltuig te laai.

As jy daarvan hou om selfversorgend te kamp, het jy waarskynlik sonpanele nodig om die voertuig se battery deur die dag te laai. ’n Stelsel wat sleg ontwerp is, maar veilig geïnstalleer is met die korrekte bedrading en smeltdrade, sal waarskynlik geen probleme oplewer nie, behalwe dat dit nie doeltreffend is nie en jou geduld toets.

Maar die teendeel is ook waar: Selfs die besontwerpte stelsel kan vir ’n uitgebrande voertuig langs die pad sorg as hy nie korrek geïnstalleer is nie.

As jy enige bykomende elektriese komponente in jou veldryer het – ongeag hoe goed die installasie gedoen is – is dit ’n goeie idee om ’n brandblusser byderhand te hou.

In volgende maand se rubriek gaan ek dieper delf in die onderwerp en gesels oor die dikte en lengte van die bedrading in jou trokkie, die gradering van smeltdrade en die fundamentele dinge wat jy moet onthou wanneer jy namarkse toebehore op jou veldryer laat installeer.