Voordat vlak 3 van die inperking in werking getree het, kon Conqueror net die helfte van sy personeel in die fabriek toelaat om produksie aan die gang te hou. En omdat die aandklok van krag was, kon hy byvoorbeeld nie skofte oorweeg vir hoër produksie nie. Die goeie nuus is dat die oorgrote meerderheid van plaaslike woonwavervaardigers – Conqueror inkluis – daarin kon slaag om al hulle personeel te behou.

Sedert die inperking is alle uitvoere gestaak. Dit is ’n groot slag vir ’n vervaardiger soos Conqueror, wat na Australië, Amerika en Europa uitvoer. Tog is die produksie van uitvoerwaens nie gestaak nie. Philip sê hulle moes ook plaaslike klante se bestellings afhandel, want hulle het byna geen kansellasies gehad nie.

“As ek vorentoe kyk, verwag ek dat ons mense in die nabye toekoms eerder plaaslik sal reis en vir eers die buiteland sal vermy. Dit behoort ’n positiewe uitwerking op ons kampbedryf te hê.”

Echo
Echo
Bush Lapa
Bush Lapa

Philip meen ’n prysverhoging is onafwendbaar. Die rand is swak en verskepingskoste het dramaties toegeneem – en sowat 95% van Conqueror se onderdele word ingevoer.

Willie Grobler van Echo4x4 beaam dat woonwavervaardigers nie ’n ander keuse gaan hê nie as om hulle pryse met 10-15% te verhoog. “Ek het gister 32 batterye bestel en vanoggend is die prys 30% hoër. Dit geld maar vir alle komponente – woonwavensters, rubber en staal. Alles is duurder, selfs die komponente op asse. Hierdie prysverhoging het ’n sneeubaleffek en gaan almal raak.

“Dit klink dalk of ek negatief is, maar dit is bloot die werklikheid. Die pandemie het die wêreld verander en ek kan nie sien dat dit regtig gaan herstel tot hoe dinge voorheen was nie.”

Sedert van die werkers gedurende die inperking weer kon terugkeer werk toe, het Bush Lapa weggespring met ’n 30%-werkmag, sê Jannie Oeschger. “Ons het genoeg bestellings om ons besig te hou, maar met ’n uitset van 30% kan jy ook net 30% van jou inkomste verwag. Maar in die proses het ons ons produksielyn meer vaartbelyn gemaak.

“Ons het die jaar met ’n knal begin, maar ongelukkig moes ons vandeesmaand ook ’n prysverhoging aankondig as gevolg van die hele storie. Die herstel van die woonwabedryf hang af van hoe goed al die ander ondernemings herstel.”

Die inperking het Mobi Lodge intussen laat besluit om sy jongste vlagskip, die Continental, aanlyn bekend te stel. Hoewel motorvervaardigers dié platform reeds die afgelope paar maande gebruik, is dit ’n nuwigheid vir woonwavervaardigers. “Ons het om 08:00 die aanlynbekendstelling gedoen en ’n uur later was die eerste deposito’s inbetaal,” sê Leon Ras van Mobi Lodge.

Jurgens
Jurgens
Mobi Lodge
Mobi Lodge

Die inperking het wel die afleweringstyd met twee maande uitgeskuif, maar Leon-hulle het ’n buffer by nuwe bestellings ingebou sodat klante hulle waens teen die verwagte tyd in ontvangs sal kan neem. Die Continental se eerste modelle was beplan vir Oktober, maar sake verloop só goed dat die eerstes reeds teen September uit die aanleg behoort te kom.

Volgens Leon is hulle van die grootste invoerders van sekere woonwatoerusting, en omdat hulle grootmaataankope doen, word hulle nie soveel geraak nie. Waar die kostes wel hoër is, kan hulle dit vir nou absorbeer, sê Leon.

Jurgens Manufacturing se afleweringstyd is ook twee maande later, sê Ina Dreyer. “Maar produksie gaan aan met die hoeveelheid mense wat ons mag hê. Ons het ’n klomp klaargeboude voorraad wat by ons perseel in Ga-Rankuwa staan, maar kan dit tans nie na die handelaars stuur nie omdat ons nie oor provinsiale grense mag beweeg nie. Baie van die waens is voorraad wat by handelaars moet uitkom, maar daar is ook bestellings. Intussen staan ons darem nie stil nie en is juis besig om te kyk na twee nuwe sleepwaens, die Jurgens LT1500 en LT1800 wat ons wil bekend stel.”

Dan-Pierre Louw van Invader sê dié vervaardiger beskou die inperking bloot as ’n tydelike beperking. “Sake is aan die gang by ons, net teen ’n stadiger pas. Ons roteer ons werkers sodat almal kan hand bysit, en ons het genoeg werk – dus kan ons nie kla nie. Ek is net bang vir ’n effense paniek na afloop van die inperking wat mense hulle geld laat vashou. Ons is steeds baie positief oor die toekoms, en die pandemie sal wel tot ’n einde kom sodat ons so normaal sal kan aangaan as wat ’n mens kan.”

Woody Loftus van Loftus-woonwaens in Randburg is ook Okto-woonwaens se woordvoerder, en hy sê al het Okto sy produksie met omtrent die helfte gesny, is hy steeds besig omdat die bestaande bestellings van klante moet klaarkom. As handelaar self, sê Woody, sien hy ’n nuwe neiging onder klante: Hulle stel meer belang in ’n woonwa met ’n eie badkamer. “Dit is heel waarskynlik omdat mense hulle eie risiko in die kampplek wil verminder.”

Okto
Okto
Invader
Invader

Woody glo ook mense gaan in die afsienbare toekoms eerder plaaslik wil reis. “Hier was gister mense wat na ’n woonwa kom kyk het omdat hulle eerder só wil vakansie hou as om elders heen te vlieg.”

Aan die begin van die inperkingstyd kon klante natuurlik nie woonwahandelaars besoek nie. Wesley Dempster van Tygerberg-woonwaens in die Kaap vertel hy het selfs ’n woonwa aan iemand verkoop wat hy nie van aangesig tot aangesig gesien het nie. Hy het foto’s en video’s aangestuur, en eers met die aflewering het hulle mekaar ontmoet.

Later kon voornemende kopers woonwahandelaars per afspraak besoek, iets wat volgens Wesley sy eie voordele inhou. “Dit gaan swaar met ons omdat ons minder voete kry. Maar as iemand ’n afspraak maak, is hulle gewoonlik ernstige kopers. Ek verwag nietemin kopers gaan minder word wanneer dinge na normaal terugkeer, en net die sterker besighede gaan oorleef. Waarvan ons seker kan wees, is dat daar ’n groot oplewing in die kampbedryf op pad is.”

Stealth
Stealth

Adri Conradie van Pretoria-woonwaens sê Jurgens het waens teen ’n afslag aangebied om handelaars én kopers te help. Adri stem saam met Vivian de Villiers van Bloemwa in die Vrystaatse hoofstad dat klante nie meer kan wag om te gaan kamp nie.

’n Prioriteit in die groter bedryf behoort te wees om te kyk hoe vinnig kampplekke weer besoekers kan ontvang, meen Garry Coady van Stealth-woonwaens. Dié vervaardiger se produksie is net-net aan die gang met bestaande bestellings.

“Wie gaan ’n nuwe woonwa koop as hulle nie weet óf en wanneer hulle sal kan gaan kamp nie? Die belangrikste is dat kampplekke so gou as moontlik weer aan die gang kom.”

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook