Foto’s: James Garaghty

Intex River Rat-opblaasbinneband

Hierdie binneband is op twee maniere ’n verbetering op die standaard-trekkerbinneband: Dit het ’n dubbele lugkamer vir veiligheid (as die een kant ’n gaatjie kry, sal dit steeds dryf) en dit het ’n tou buite-om om aan vas te hou of die band te dra.

R150 by Sportsmans Warehouse


CapeStorm Riptide Aqua-skoen

p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 8.5px Helvetica}

Skerp goed kruip dikwels in die vlak water weg: stukkies koraal, klippe, stokkies, gebreekte glas van die vorige ou se braai...

Hierdie waterdigte tekkies het ’n taai rubberbuitesool om jou voete te beskerm en dreineer goed danksy die maasbokant.

R500 by Sportsmans Warehouse


Aqua Marina Thrive opblaas-SUP-bord

Om te SUP (dit staan vir “stand-up paddle”) is ’n kruising tussen kajak- en branderplankry. Die bord is groot en dryf, maar hy’s ook vaartbelyn en lig genoeg sodat jy vinnig oor die water kan beweeg.

Dis selfs nóg makliker met ’n opblaasbord. As jy dié een koop, kry jy ’n pomp, spaan en enkelvin wat jy by die bord inhaak. Dit weeg net 12 kg en rol op in ’n rugsak wat in die kattebak van ’n Kia Picanto sal pas. Geen dakrakke is nodig nie.

In terme van draagbaarheid, is hierdie die maklikste en veel-sydigste manier om enige stuk water te verken – van die Vaaldam tot die deinings by Muizenberg.

R8 250 by Sportsmans Warehouse


Leatherman Crater C33SX

Dis altyd goed om ’n mes byderhand te hê as jy ver van die beskawing af is. Dié een het ’n hoëgehaltelem met ’n reguit én getande snykant, en jy kan dit met net jou wysvinger oopknip.

Die C33SX is veral nuttig vir branderplankryers, met ’n 3/32 duim-Allensleutel om die vinne van ’n bord af te haal, en ’n ¼ duim-platskroewedraaier vir ander noodgevalle. Die vaskniphakie werk ook as ’n botteloopmaker – vir daai welverdiende bier ná die surf.

R1 370 by awesometools.co.za


Clear-kajak

Dís mos ’n plan – ’n roeiboot van deurskynende polikarbonaat! Nou hoef jy nie Mauritius toe te vlieg vir ’n vaart op ’n boot met ’n glasboom nie; met die Clear-kajak kan jy kyk wat skuil in die dieptes van Bassmeer of in die bamboeswoude rondom Simonstad.

Die boot weeg net meer as 11 kg en het plek vir twee mense. Sy badvorm is nie ideaal vir rowwe water of wind nie, maar jy sal lekker in die vlak water kan baljaar.

R7 475 by clearatkayak.co.za


Tribord Easybreath-duikmasker

Jy gaan soos karakter in ’n wetenskapfiksiefliek voel as jy met dié ding op jou gesig see-in loop by die Kosiriviermonding, maar dit gaan jou ’n heel nuwe snorkelduikervaring gee.

Jy hoef nie soos met ’n tradisionele snorkel onnatuurlik deur jou mond asem te haal nie – doen dit net normaalweg deur jou neus. Die enkele lens gee jou ook ’n onbelemmerde uitsig van 180° op die onderwaterwêreld, en ’n spesiale lugvloeistelsel keer dat dit toewasem.

R900 by scuba.co.za


Patagonia Yulex-duikpak

Die meeste duikpakke word gemaak van neopreen – ’n sintetiese rubber wat gewoonlik vervaardig word uit petroleumgebaseerde stowwe.

Patagonia se Yulex-pak is ’n omgewingsvriendelike alternatief: ’n mengsel van 85% natuurlike rubber van volhoubare bronne en 15% chloorvrye sintetiese rubber.

Yulex het dieselfde isolasie-eienskappe as neopreen, maar Patagonia sê die vervaardigingsproses is beter vir ons planeet.

Die pak is noupassend, en rekbaar in die dele wat moet beweeg. Dit het ’n vervangbare ritssluiter om die pak se lewe te verleng, én duursame kniekussings en enkelflappe.

Dis ontwerp vir branderplankry, maar sal werk vir enige watersport. Die pak is beskikbaar met of sonder ’n kappie en in verskeie diktes vir watertemperature van 3 °C tot 16 °C.

R5 500-R7 000 by goneoutdoor.com


First Ascent 30 l- droërugsak

’n Droësak met ’n bokant wat oprol is die veiligste manier om jou goed droog te hou as jy op die water is. Hierdie een vat die ontwerp ’n stappie verder: Dit het ook gestopte rugsakstroppe en ’n heupstrop wat ’n mens kan afhaal.

Met die stroppe is die sak veel meer veelsydig: Gebruik dit op ’n dagstap as dit lyk na reën, wanneer jy met jou fiets werk toe ry én wanneer jy roei.

R700 by Sportsmans Warehouse


D’Arcs Urbane-sonbril

’n Donkerbril met gepolariseerde lense werk die beste op die water. Dit verminder die weerkaatsing op die oppervlak en jy kan sien wat onder aangaan.

Dié bril sou Baywatch se Mitch Buchannon jaloers gemaak het. Die prys is billik – jy hoef dus nie bekommerd te wees as jou bril nat of vol sand word nie.

R280 by Sportsmans Warehouse


Nikon Coolpix W300

Jou foon hou waarskynlik nie so baie van swem soos jy nie.

Verewig eerder jou herinneringe met dié taai kamera. Dis waterdig tot op 30 m, sal stampe en stote oorleef en blykbaar steeds werk as die temperatuur -10 °C is. (Dis nou as jy dalk besluit om in Ysland op ’n binneband te gaan dryf – Red.) As jy weer op droë grond staan, kan jy die ingeboude Wi-Fi gebruik om jou foto’s te deel en jou vriende jaloers te maak.

R5 990 by takealot.com


Fluid Locomotion-kajak

Een van die irriterendste dinge van ’n tweemankajak is hoe bonkig dit is. Dis swaar en lank, wat beteken dis baie moeite om te bêre en te vervoer. En wat maak jy as net een mens wil roei?

Die Locomotion – van die Parysgebaseerde maatskappy Fluid Kayaks – los dié probleem op. Dis ’n enkelsitplekkajak waarin ’n mens sit, wat maklik neus-teen-agterkant aan ’n ander Locomotion vasgemaak kan word om ’n tweemanboot te vorm. Jy kan selfs ’n derde kajak bysit... of ’n vierde! Die agterkant van die boot is plat en dis dus kinderspeletjies om te bêre: Laat hom eenvoudig op sy agterent staan teen jou garagemuur.

Elke boot het ’n bykomende sitplek vir ’n klein passasier, handvatsels en ’n luik waarin jy goed kan bêre.

R6 000 by fluidkayaks.com

Pryse was korrek teen druktyd, maar is onderhewig aan verandering.