Dit is sekerlik een van die onderwerpe wat die meeste op forums vir 4x4-geesdriftiges bespreek word, maar hierdie twee soorte vering het elk besliste voordele en nadele. Mic van Zyl bekyk hulle.



Wat’s die verskil tussen ’n vaste as en onafhanklike vering?

Vaste asse


Vaste asse is tradisioneel vir viertrekvoertuie gebruik omdat geglo is hulle is sterker. Aanvanklik is viertrekvoertuie met vaste asse met bladvere toegerus. 

Die bladvere het ook die as onder die voertuig in posisie gehou deur beweging vorentoe, agtertoe en sydelings te beperk en net beweging op en af toe te laat. 

Hierdie ontwerp het min bewegende dele en verg min onderhoud. Bladvere werk wonderlik as jy vrag dra, maar nie as jy gerief soek nie.

Ter wille van groter gerief is spiraalvere pleks van bladvere later saam met ’n vaste as gebruik. Dit gee ’n geriefliker rit, maar is dalk minder geskik om gedurig swaar vragte te dra.

Die spiraalveer kan ook nie die as in posisie hou soos ’n bladveer nie. Dit noodsaak verskeie arms wat die as met die onderstel van die voertuig verbind om die as in posisie te hou en die beweging van die as onder die voertuig te beheer.

Hierdie arms moet keer dat die as vorentoe, agtertoe en sydelings beweeg en keer dat die as vorentoe en agtertoe beweeg wanneer jy versnel of rem.


Onafhanklike vering


Die tipiese ontwerp van onafhanklike vering vir ’n viertrekvoertuig bestaan uit boonste en onderste beheerarms wat die kneukel/stompie van die stuurmeganisme in posisie hou.

Hierdie arms beheer die beweging van die kort asse aan weerskante van die voertuig. Daar is dus nie ’n lang, swaar as so lank as wat die voertuig breed is nie.

Spiraalvere, lugvere en wringstawe word ingespan. Onafhanklike vering is veronderstel om geriefliker te wees as ’n vaste as omdat meer gewig deur die vere pleks van die suspensie self, die wiele en die bande gedra word. Daar is dus minder beweging wat geraas, vibrasie en ’n harde rit in die kajuit veroorsaak.


Die voor- en nadele: 


Menings verskil. Jy kry uitsonderings, maar hier is die vernaamste vergelykings:


Met dit alles gesê, moet ’n mens byvoeg dat die soort vering selde van deurslaggewende belang is met die keuse van ’n voertuig. Dit is nie toevallig nie dat ’n Land Cruiser 70 steeds toegerus is met vaste aste, spiraalvere voor en bladvere agter, terwyl ’n Discovery op al vier wiele onafhanklike vering het. Die een word beskou as duursamer as enigiets anders en die ander een is ongelooflik gerieflik.

In die algemeen kan ’n mens sê voertuie met ’n vaste as is meer geskik vir veldry vanweë beter vastrap. Daar is egter ’n klompie bekwame voertuie met onafhanklike vering. Ek vermoed jy gaan net in ekstreme toestande werklik ’n duidelike verskil sien.