Die bedoeling van die lys is dat jy daaruit kies wat vir jou werk. Onthou, koop gehalte as dit by gereedskap kom – dit moet reg werk en dit moet sterk genoeg wees.

Die hardeware

Banddrukmeter. Dis van jou belangrikste stukkies toerusting in ’n 4x4.

Klepsleutel. Jy kan ure lank staan en bande afblaas deur die klep met ’n vuurhoutjie in te druk, of jy kan die klep uitdraai met jou klepsleutel en tjop-tjop klaar wees.

Bandherstel-stel. Jy moet ’n ruimer, ’n bandnaald, snotproppe, rubbergom, ’n ekstra klompie kleppe, mushroom-proppe, patch en solution hê.

Bandysters. Kry vir jou ’n stel en maak seker jy weet hoe dit werk.

Wielmoersleutel. Een van daai kruis-sleutels met verskillende groottes sokke kan goed te pas kom, veral as jy allooiwiele laat opsit het waarvan die wielmoer ’n ander grootte het.

Domkrag. Jy moet besluit of die domkrag wat jy saam met die voertuig gekry het, sterk genoeg is. Indien nie, kry ’n goeie hidrouliese domkrag (bottle jack) – maak net seker hy kan onder die onderstel inpas as die wiel pap is. ’n Sterk blok hout of ’n basisplaat om onder die domkrag in te sit kan ook goed te pas kom, veral as jy op sand staan.

Mesmoertang. Leatherman, Gerber, Victorinox… Kies jou wapen. ’n Mesmoertang is altyd nuttig. Dit kan veral help om stywe skroewe los te kry omdat jy gewoonlik ’n T-handvatsel kan bewerkstellig om meer wringkrag te kry.

Moersleutels. Kry vir jou ’n stel spanners met groottes 8 tot 22. Maak seker jy’t die sleutels om die ewenaars en ratkas se dreineermoere los te draai.

Soksleutelstel met verlengstukke. Soms kan jy net nie met ’n plat sleutel by daai moer uitkom wat jy moet losmaak nie. Maak seker jy’t ’n sleutel vir jou vonkproppe.

Groot en klein verstelbare moersleutels. Ja, ’n shifting man. Dis baie belangrik om ’n goeie gehalte te koop, want as jy gly, draai hy jou moer se kop rond.

Tange. ’n Gewone draadtang, langbektangetjie en, uiters belangrik, ’n groterige sykniptang (sidecutter). ’n Klemringtangetjie (circlip plyers) kan baie frustrasie spaar. ’n Waterpomptang kan ook van onskatbare waarde in die veld wees, omdat dit kan stel en veelsydig is.

Skroewedraaiers. Dis belangrik om ten minste drie groottes van sowel plat- as Phillips-punt skroewedraaiers te hê, en dan ook ’n ekstra kleintjie.

Skroefbektang. ’n Vicegrip is ’n tang en ’n klamp en kan onontbeerlik wees in die veld.

Hamer. Soos hulle sê, hoe groter die hamer, hoe kleiner die probleem. Kry ’n goeie gehalte bolpenhamer.

Allensleutels. As jy ’n allensleutel nodig het en jy kort dit, sit jy…

Oorbrugkabels. Jumpers wat jy in ’n onderdelewinkel koop, haal gewoonlik nie die paal nie. Die beste is om self sweiskabels te koop en klampe aan te sit.

Multimeter. As jy iets van elektrisiteit weet, kan jy meet of daar krag is op ’n kontak en jy kan ook sien hoe vol of pap ’n battery is.

Beitel en pons. As iets gebreek het, kan hierdie van onskatbare waarde wees en jy sal beslis van jou skroewedraaiers spaar.

G-klamp. Pak gerus ’n G-klamp of twee. Dis soos ’n mini-bankskroef en ’n ekstra paar hande.

Ystersaag. Jy kan enigiets met daai nuttige klein ystersagies saag om dit te maak pas.

Vyle. Gebruik saam met die ystersaag om noodonderdele te maak en modifiseer tot dit pas.

Sweisbrille en sweisstafies. As dit nodig is, kan jy sweis met twee batterye in serie geskakel met twee stelle oorbrugkabels. Moenie die hele bonkige sweisbril saamry nie – maak een met sweisbrillense, ’n gewone donkerbril en duct tape.


Skuurpapier. Neem ’n paar velletjies van verskillende grofheid saam, om saam met die ystersaag en vyl te help as jy iets moet verander of aanpas.

Skêr. Wat is ’n man sonder ’n skêr? Maak seker dis ’n growwe skêr wat blik ook kan sny.

Aansteker. Met daai aanstekertjie wat eintlik ’n mini-blaasvlam is, kan ’n mens soldeer.

Seiltjie. ’n Seiltjie van sowat 1,5m x 1,5 m waarop jy kan lê as jy onder die kar moet werk of om onderdele op neer te sit wat nie in die sand moet kom nie.


Die sagteware

Penetreerolie. Sonder dié ry ’n mens nie. Gebruik dit om iets wat vas is weer los te maak. Kies tussen Q20, WD-40, Wynn’s No. 5, Spanjaard en ander.

Duct tape. Baie nuttige en sterk kleefband, onderskryf deur die Amerikaanse weermag. Dit help om iets vas te kry wat weer moet vas wees.

Kabelrepies. Is daar iets wat jy nie met ’n cable tie kan regmaak nie? Vat sommer ’n paar verskillende groottes saam.

Pakkingsilikon. Dit help om byvoorbeeld ’n gasket te maak as jy ’n petrolpomp vervang.

Silikonband. Met dié soort band kan jy in ’n noodgeval ’n rubberseëltjie (O-ring) maak.

Vulkaniseerband. Neem ’n soort waarmee jy verkoelerpype kan regmaak.

Ou lappe. As jy olie van iets moet afvee, gaan jou kinders baie omgekrap wees as jy hulle nuwe Groot Vyf-T-hempies gebruik.

Handskoonmaakmiddel. Party ouens maak sommer ’n mengsel van skottelgoedseep en water in ’n bottel wat hy saamry, maar die ware Jakob werk die beste vir smerige, olierige hande.

Draad. Vat ’n stuk dun binddraad en ’n ent dink bloudraad saam. ’n Mens weet nooit wanneer jy dalk ’n uitlaatpyp moet vasbind nie.

Elektriese draad. Vat sowat 2 m elk van verskillende diktes met klampies wat vaskrimp. Vat ’n goeie lengte speaker-draad, want dubbelbatterystelsels is van die groot sondaars wat vakansies bederf.

Isolasieband. ’n Rolletjie swart en ’n rolletjie rooi, vir positief en negatief.

Sekerings. Kyk in jou motor se fuse box watter soort sekerings hy gebruik, en maak seker jy’t ekstra sekerings van alle groottes en formate.

Gloeilampies. Baie van die gloeilampe in die verskillende ligte is dieselfde. Jy’t uiteindelik net twee of drie nodig.

Gom. Vat superglue, kontakgom, epoksie en staalepoksie.

Soldeersel. Dis nie noodsaaklik nie, maar as jy ’n draad gesoldeer het, hou dit die konneksie soveel langer. Vat ’n soldeerbout of blaasvlammetjie om te soldeer.

Pot veeldoel-ghries. As jou ergste nagmerrie waar word en ’n wiellaer moet vervang word, gaan jy ghries nodig hê.

Vyf liter motorolie. Jy weet nooit wanneer jy dit nodig het nie. Ons moes al ’n Land Cruiser deur die Kalahari kry met ratkasolie in die enjin.

Twee bottels ratkasolie. Dit kom nie net in die ratkaste nie, maar ook in die ewenaars. As jy ’n gat in die ewenaar slaan, kan jy dit met staalepoksie regmaak en nuwe olie ingooi.

Remvloeistof. Dis belangrik vir ’n noodgeval. As ’n pyp breek of vloeistof lek uit, dan is ekstra altyd nuttig. Het jy geweet jy kan remvloeistof met water afwas?


Kragstuurolie. Oftewel outomatiese transmissievloeistof. Dis nie doodbelangrik nie, maar ’n kragstuurpypie kan dalk lek en dan moet jy die reservoir volmaak.

Ekstra onderdele


Boute en moere. Gooi sommer ’n hand vol 4mm-, 6mm- en 8mm-boute en moere in ’n blikkie.

Rubberwasters. Dit het baie gebruike. Jy kan byvoorbeeld ’n skokbrekerrubber hiermee vervang as dit tot niet gegaan het.


Skroefstaaf (threaded rod). Vat ’n stuk elk 6 mm-, 8 mm- en 10mm- skroefstaaf saam met die nodige moere en wasters. Dalk moet jy iets soos ’n U-bout prakseer.


Wiellaer. Maak seker jy weet wat jou voertuig gebruik en pak maar een in. Jy gebruik dit dalk nooit nie, maar jy weet nooit…


Waaierbande. Vergeet Ma se sykous. Kry die regte groottes vir jou voertuig. Hou jou oues ná die diens gedoen is, dan weet jy dat dit die regtes is.


Ekstra motorsleutels. Bedink ’n plan om iewers ’n ekstra sleutel weg te steek (natuurlik nie in die kar nie). Die beste plan is om dit in iemand anders se motor in die konvooi te sit.


Brandstoffilter. Vuil diesel of petrol is een van die algemeenste oorsake van probleme in Afrika. Jy weet nie wat jy kry as jy onder ’n kameeldoringboom volmaak nie.


Stroppe. Sperratstroppe maak styf vas en die meganisme van ’n cam buckle-strop breek nie. Hou maar ’n paar van enige soort iewers in jou bakkie. Koop gehaltestroppe.

En as jy niks anders vat nie…

As jy weet jy ry saam met ’n groep manne wat groot tool-bokse saamvat en baie weet, vat ten minste die volgende saam:

•    Q20 en duct tape

•    Banddrukmeter

•    Die algemeenste ringsleutels op jou voertuig. Vir Toyota is dit 10, 12, 14, 17

•    ’n Tang of twee en ’n rolletjie draad

•    ’n Phillips- en ’n platskroewedraaier

•    ’n Hamer

•    ’n Waaierband(e) en sy diagram

•    ’n Leatherman

•    ’n Kannetjie olie