Wanneer jy wil braai, kom ’n oondpan maar net nie die mas op nie. Daar is nou maar net iets aan ’n vuur wat met die oermens in ’n ou praat. Om nie eens te praat van die lekker atmosfeer en kuier om ’n vuur nie. Maar om te bepaal watter hout “die beste” is, kan jy net een ding doen: Jy gaan soek hout van regoor Suid-Afrika (houtskool en brikette is nie oorweeg nie, want sies!) en toets hulle objektief en wetenskaplik. 

Beskikbaarheid en bewaring

’n Groot verskeidenheid houtsoorte word elke week in Suid-Afrikaanse braaivleisvure gebruik. Maar al is baie van hulle streeksgebonde, sal dit jou help om te weet watter een gaan werk in die omgewing waar jy jou vorentoe mag bevind.

Ons het agt houtsoorte getoets wat taamlik algemeen beskikbaar is. Ons verduidelik onderaan die artikel hoe ons die hout getoets het.

Ons het ook twee bedreigde boomspesies ingesluit – hardekool en kameeldoring. Maar die hout wat ons gebruik het, kom van bome wat gevrek het en toe opgesaag is vir braaihout. 

Die Aussie-swartskaap

Hierdie hout is oorspronklik uit Australië ingevoer as vuurmaakhout en hout vir bouwerk. Deesdae is dit eintlik ’n pes wat weiding vir vee en wilde diere bedreig. Swartwattel is taamlik algemeen as brandhout beskikbaar, weeg min en is lig van kleur. 

Vlambaarheid (uit 10): 6
Hoeveelheid rook uit 10 (1 is baie, 10 is min rook):
Tyd om kole te vorm: 1:11
Eerste lesing (brandende hout): 428,5 °C
Tweede lesing (kole): 629,9 °C
Laaste lesing (2:00): 341,4 °C
Gemiddelde temperatuur: 528,9 °C

Opmerking: Die hout was effens nat, ’n algemene verskynsel met swartwattelhout. Dit het ’n bietjie moeite gekos om aan die brand te kry, maar toe dit eers brand, het dit goeie vlamme gemaak. Toe dit uitgebrand was, het die vuur aanvanklik dood gelyk, maar die kole het vir langer as verwag redelik warm gebly.

Nie die wurm nie

Mopaniebome kom hoofsaaklik in die noorde van die land voor (nes mopaniewurms) en saam met kameeldoring en hardekool is dit die mees algemene vuurmaakhout anderkant die Vaalrivier. Dit lyk baie dieselfde as kameeldoring en is goed bestand teen peste, dus sal jy altyd stewige, soliede stukke kry om vuur te maak.

Vlambaarheid: 6
Rook:
Tyd om kole te vorm: 0:43
Eerste lesing: 535,1 °C
Tweede lesing (0:00): 583,5 °C
Laaste lesing (2:00): 263,6 °C
Gemiddelde temperatuur: 506,8 °C

Opmerking: Mopaniehout brand redelik maklik, met genoeg vlamme om ook ’n lekker kuiervuur te maak, maar dit brand vinnig uit. Dit was teleurstellend dat die kole nie baie lank warm gebly het nie. Die temperatuur het ook nie baie hoog gestyg nie, wat dit dalk ideaal sal maak om hoender stadig te braai. 

Nie die tee nie

Die enigste ooreenkoms tussen rooiboshout en ’n warm drankie is die naam. Die hout is donkerrooi en brand met kleinerige vlamme. Dis hoofsaaklik in die noorde van die land beskikbaar.

Vlambaarheid: 7
Hoeveelheid rook:
Tyd om kole te vorm: 0:42
Eerste lesing: 652,1 °C
Tweede lesing (0:00): 552,5 °C
Laaste lesing (2:00): 423,3 °C
Gemiddelde temperatuur: 559,2 °C

Opmerking: Aanvanklik het die rooibos goed gebrand, maar dit het vinnig weggesak tot as. Die vinnige, skerp daling in temperatuur beteken dit is nie die beste hout vir lekker braai nie. Omdat dit so maklik brand, kan jy oorweeg om dit te kombineer met ander hout wat beter kole maak, maar sukkel om vlam te vat.

Die hardebaardhout

Hardekoolhout word nie verniet leadwood in Engels genoem nie. Dis ’n digte, donker, soliede hout wat ook vir meubels en spoorlyndwarslêers gebruik word.

Hardekool is ’n bedreigde spesie, maar ons het oorskothout van ’n meubelmaker gekry. In die natuur kan die bome meer as 1000 jaar oud word. Omdat die hout so dig is, staan dit soms vir lank nadat dit dood is. Dit word dikwels in die wildernis gebruik om kampvure te maak wat heelaand moet brand om wilde diere weg te hou. Dié hout het die warmste kole in ons toets gelewer.

Vlambaarheid: 6
Hoeveelheid rook:
Tyd om kole te vorm: 1:28
Eerste lesing: 629,3 °C
Tweede lesing (0:00): 748,1 °C
Laaste lesing (2:00): 594,0 °C
Gemiddelde temperatuur: 670,2

Opmerking: Hardekool het loshande die hoogste gemiddelde temperatuur in ons toets getoon. Die vlamme is nie baie groot nie, maar die hout brand lank. Dit is dus nie die ideale kuiervuur nie, maar werk soos ’n bom as jy die volgende oggend nog kole wil hê om koffie te maak. Dit verg ’n bietjie moeite om die hout aan die brand te kry omdat dit so digte samestelling het. Die as op die kole vorm ’n dik laag wat jy selfs ná ’n paar uur kan afblaas om steeds warm kole te hê.

Kalahari se kind

Kameeldoringhout is moontlik die gewildste hout van die lot en is oral in Suider-Afrika beskikbaar.

Dit kom meestal van die Kalahari af, maar kom elders ook voor. Jy kan kameeldoring uitken aan die rooi kern van die hout en die ligter wit dele verder van die stompe se pit af. Jy mag dié bedreigde boom  se hout slegs as vuurmaakhout gebruik as die boom in die natuur dood is. 

Vlambaarheid: 6
Hoeveelheid rook:
Tyd om kole te vorm: 0:45
Eerste lesing: 791,8 °C
Tweede lesing(0:00): 739,2
Laaste lesing (2:00): 402,5 °C
Gemiddelde temperatuur: 580,3 °C

Opmerking: Kameeldoringhout is nie verniet so gewild nie. Dit brand goed as jy dit eers aan die brand het (dis bietjie traag om vlam te vat) en die kole hou hulle temperatuur taamlik goed. Dit word ná die eerste uur redelik vinnig koud, maar dis ook nie die einde van die wêreld nie. Omdat dit so geredelik beskikbaar is, kan jy maklik nog ’n sakkie koop en op die vuur gooi.

Nóg ’n ou doring

Swarthaak is ’n doringboom wat algemeen in Afrika voorkom. Dit word dikwels gebruik vir omheining, veevoer en om hutte te bou. Dis ’n minder digte houtsoort as die kameeldoring en brand dus heelwat vinniger. Dit lyk ook baie soos kameeldoring, maar die kern is donkerbruin eerder as rooi. 

Vlambaarheid: 10
Hoeveelheid rook:
Tyd om kole te vorm: 0:34
Eerste lesing: 704,9 °C
Tweede lesing (0:00): 736,7 °C
Laaste lesing (2:00): 360,9 °C
Gemiddelde temperatuur: 585,1 °C

Opmerking: Van al die soorte wat ons getoets het, is dit die hout wat die vinnigste en maklikste gebrand het. Teen die tyd wat ek die kameeldoringvuur langs hom aan die brand gekry het, was die swarthaak goed aan die gang met lekker groot vlamme en goeie hitte. Die kole was nie so indrukwekkend nie, maar op standaard met die kameeldoring. Die swarthaak hou egter sy hitte langer, maar as hy begin koud word, word hy vinnig koud. In die natuur is daar nie vreeslike dik stompe nie en daarom is kameeldoring beter braaihout. 

Wéér ’n Aussie

Nes die swartwattel is die red-eyed wattle, of rooikrans, ook ’n indringerspesie uit Australië. Rooikrans is oorspronklik ingevoer om winderosie op kusduine te voorkom.

Vandag is dit ’n pes wat volop in die Wes-Kaap as vuurmaakhout gebruik word. Die aanvraag is egter so groot dat jy dit selde droog kan koop. As jy dit nat koop, moet jy dit vir ’n paar maande los om uit te droog voor jy dit gebruik. Ons het egter ’n droë sakkie in die hande gekry vir die toets. 

Vlambaarheid: 7
Hoeveelheid rook: 7 
Tyd om kole te vorm: 0:42
Eerste lesing: 789,1 °C
Tweede lesing (0:00): 772,1 °C
Laaste lesing (2:00): 339,1 °C
Gemiddelde temperatuur: 578,9 °C

Opmerking: Al is die aanvanklike temperatuur baie warm, hou dit vir omtrent ’n halfuur, waarna dit vinnig koud word. Die hout is ook nie so dig soos die ander soorte wat ons getoets het nie, dus verbrand hy heeltemal tot as en los weinig kole. Dit brand egter goed vir ’n kuiervuur en as jy genoeg voorraad het, kan jy lank daarop braai. Mits jy bereid is om gereeld nuwe kole te maak. 

Die Jacques Kallis van braai

Die sekelbos is ’n kleinerige boom wat in baie dele van die Suidelike Halfrond voorkom. Jy sal dit in die noorde van Suid-Afrika kry. Dit is donkerrooierig en as dit droog is, val die bas gewoonlik heeltemal af. Die buitekant rondom die kern kan soms ook lig van kleur wees.

Omdat die boom nie baie hoog groei nie, is dik stompe skaars, maar dié wat jy wel kan kry, is digte, swaar hout wat lekker kole maak. Sekelbos kry WegRy se toekenning vir “Beste hout vir kuier en braai”.

Vlambaarheid: 6
Hoeveelheid rook:
Tyd om kole te vorm: 1:01
Eerste lesing: 719,6 °C
Tweede lesing (0:00): 699,1 °C
Laaste lesing (2:00): 500,0 °C
Gemiddelde temperatuur: 628,9 °C

Opmerking: Ná die hardekool is dit die hout met die hoogste gemiddelde koletemperatuur. Dis ook nie net in die noorde van die land beskikbaar nie. Sekelbos is die arm man se hardekool. Dit brand stadig tot kole, hou die hitte lank én maak lekker vlamme – ’n goeie bouler, kolwer én veldwerker, dus.

Die toets

Om agt afsonderlike vure te maak en vir elkeen te wag om uit te brand is nie baie prakties nie. Dus het ons Welgelegen-4x4 naby Stellenbosch se kampterrein vir ’n dag bespreek en die braaiplek met plek vir vier vure op ’n slag gebruik.
Vir elke vuur is ’n gelyke hoeveelheid hout uitgesit en twee stukkies vuuraanstekers is per vuur toegelaat. Waar meer nodig was om die vuur aan die brand te kry, noem ons dit.

Nadat die vuur aan die brand gesteek is, is die tyd gemeet wat dit geneem het om tot kole uit te brand. Dit het reeds ’n aanduiding gegee van hoe goed of sleg die kole gaan wees (as jou braaivuur ooit in minder as ’n halfuur reg is om te braai, moet jy maar weet die kole gaan nie lank hou nie). 

Wanneer die vuur uitgebrand het en die kole reg was om oopgekrap te word, het ons begin om weer die tyd te neem.

Daarna het ons gereeld die temperatuur met ’n infrarooi-termometer gemeet totdat die kole uiteindelik vir twee uur gelê het. Ons het dit nooit oopgekrap of die as afgeblaas nie. Só het ons seker gemaak dat geen hout bo ’n ander bevoordeel is nie.
Daar is ook nie op die kole gebraai terwyl ons dit getoets het nie, maar na twee uur was dit steeds warm genoeg om ’n stuk boerewors of twee mooi gaar te kry.

Verder is daar glad nie aan die vuur verander as hy eers aan die brand gesteek is nie. Die meeste wat ons sou doen, was om ’n brandende stomp weer bo-op die vuur te sit as dit afgerol het. Elke vuur is gemeet net waar hy gemaak is en die kole se temperatuur is gevat net soos hulle gelê het.

Na twee uur het die meeste vure se temperature merkbaar begin val. So kon ons sien watter een sy hitte die beste gehou het en ook watter een die warmste was.

Ons het ook punte gegee vir die gemak waarmee die vuur gemaak word – hetsy dit ’n gesukkel was om aan die brand te kry of maklik gevat het. 

Die hoeveelheid rook wat brandende hout afgee, bepaal ook hoe lekker ’n mens om die vuur kuier as die vleis klaar is. Om dié rede het ons punte toegeken vir hoeveel die hout gerook het.

As jy al hierdie inligting in ag neem, kan jy bepaal watter hout sal die beste werk om hoender stadig gaar te maak, of ’n steak vinnig te braai sodat hy lekker sappig van die kole afkom.