FOTO’S: JAMES GARAGHTY 

Sealand Gear-swerwersak

Hierdie sak is lekker groot (21 l), toepaslik ontwerp en het veeldoeldige kompartemente, insluitend ’n gleuf vir ’n skootrekenaar. Dis prakties, selfs as jy met ’n fiets of bromponie werk toe ry.

Dié spesifieke Ocean-swerwersak is gemaak van seil, met ’n versterkte basis van Ripstop-materiaal. Ander swerwersakke is beskikbaar in ander materiale en ander kleure. Elkeen is handgemaak met ’n lewenslange waarborg.

R2 900 by sealandgear.com

Buff Original Reborn

Hierdie ikoniese stuk toerusting kan op vele maniere ingespan word. Dié spesifieke een is liggewig en raak maklik droog.

Dit bied UV50-beskerming, maar hou jou ook warm in koue weer. Draai dit om jou gesig om wind uit te hou, of dra dit soos ’n kopdoek of gewrigsband.

Gebruik dit as ’n handdoek, of verband in ’n noodgeval. Hierdie buff het geen nate wat die vel kan irriteer nie, en rek goed.

Die beste deel? Die poliëster-mikrovesel is gemaak van twee herwonne plastiekbottels.

R240 by adventureinc.co.za

K-way Cove Softshell-baadjie

Dís die Jacques Kallis van baadjies: veeldoelig! Hierdie baadjie is buigsaam, die materiaal kan goed asemhaal en kan op sy eie of as ’n laag gedra word namate die weer kouer word.

Die Cove word gemaak van drie lae herwonne poliëster. Die materiaal is ten volle rekbaar. Dis windbestand en hou water uit. Die onderkant kan verstel word om koue uit te hou.

Al die ritssluiters is gemaak van herwonne materiaal en ’n deel van die verkope word geskenk aan die Wêreldnatuurfonds.

Die Cove is ontwerp vir vroue, en die mansweergawe is die Cliff.

R1 100 by Cape Union Mart


Adidas Alphabounce+ Run Parley-skoene 

Dis ’n geruime tyd dat klere van herwonne materiaal gemaak word, maar skoene is ’n nuutjie, veral hardloop- en oefenskoene.

Adidas is ’n leier op dié gebied: Die Parley-reeks sluit in alle soorte oefenklere (hemde, kortbroeke, skoene, rekbroeke en baadjies) en al die items is gestik met garing wat gemaak word van plastiek wat op strande opgetel is.

Hierdie skoene boet geensins gerief of werkverrigting in nie: Die bokant is buigsaam, kan asemhaal en die middelsool spog met die jongste Bounce+-sponstegnologie vir gemak.

R1 600 by shop.adidas.co.za

Adidas 25/7 Rise Up n Run Parley-T-hemp

Net soos vir die Adidas-skoene is die garing wat vir dié T-hemp gebruik word, gemaak van plastiek wat van strande en kusdorpe verwyder is – plastiek wat andersins in die see sou beland. Dit het heelwat tegniese eienskappe soos Climacool, wat jou koel en droog hou op ’n staptog, en maasinsetsels wat warm lug uitlaat en koel lug binne hou. Die T-hemp pas los, maar is goed gesny en dis beskikbaar in verskeie kleure vir mans en vroue. Kies ’n stylvolle WND Parley-baadjie om die prentjie af te rond.

R650 by shop.adidas.co.za 

Patagonia Houdini-baadjie

Hierdie liggewig baadjie (102 g) het ’n beskermende buitelaag gemaak van herwonne Ripstop-materiaal wat wind goed uithou, en dit het ’n DWR- (Durable Water Repellent) laag. Hy is nie heeltemal waterwerend nie, maar sal jou darem droog hou.

Dis groot genoeg gesny sodat jy ’n basislaag kan dra, of dalk saam met ’n dun pluisstof as middellaag. Die baadjie kan opgevou word in sy eie borssakkie.

My gunsteling-eienskap is die trektoutjie aan die kappie wat dit dig om jou gesig kan vou. Patagonia se waarborg is ook uitstekend: Jy kan enige item enige tyd gratis laat regmaak.

R1 700 by goneoutdoor.com

Patagonia Better Sweater ¼ Zip

’n Warm, gemaklike top wat geskik is vir werk en speel is altyd ’n aanwins. Hierdie een weeg net 498 g.

Dié trui bied die beste van wol met duursaamheid en buigsaamheid, en die ekovriendelikheid van ten volle herwonne poliësterpluisstof. Die kleurproses gebruik minder kleurstof, elektrisiteit en water en die some is gestik volgens Fair Trade-metodes. Elke top het ’n sakkie met ’n ritssluiter op die arm, en ’n windflap agter die hoofritssluiter.

Die truie is beskikbaar in verskillende kleure (ek hou van die New Adobe op die foto bo). Die smal moue is ondersteunend, maar nie beperkend nie.

R1 600 by goneoutdoor.com


FOTO’S: JAMES GARAGHTY
FOTO’S: JAMES GARAGHTY

K-way Raven Eco-baadjie

Hierdie baadjie bied hope warmte en is gemaklik. Dis gevul met liggewig herwonne “Clo-I”-isolasiemateriaal. Dis wind- en waterbestand danksy ’n spesiale buitelaag. Die mouboordjies is rekbaar, asook die some. Die hoofritssluiter is bedek om wind uit te hou, en alle sluiters is gemaak van herwonne materiaal.

’n Deel van die verkope word geskenk aan die Wêreldnatuurfonds. Die mansweergawe staan bekend as Rowan.

R2 000 by Cape Union Mart

Sealand Gear Dune-duffelsak

Hierdie is ’n trots Suid-Afrikaanse suksesverhaal: Sealand gebruik drie prosesse om sy produkte te vervaardig: herbruikbare materiaal, herwonne materiaal, asook eko-herwinning.

Die herbruikbare produkte word gemaak van bootseil, seil en poli-keperstof; die herwonne produkte gebruik Recover – ’n materiaal gemaak van uitsluitlik plastiekbottels en katoenoorskot, vervaardig in ’n fabriek wat 50% sonkrag gebruik; en die eko-herwonne produkte is meestal klere en gebruik volhoubare merinowol, organiese katoen en hennep.

Hierdie sak is beskikbaar in drie groottes en in bootseil of Recover-materiaal. Die middelslag-een is 55 l, met ’n groot pakruimte, ’n lang binneritssluiter en ’n kompartement vir vuil klere en skoene.

Danksy die grootte en duursaamheid is dié sak perfek vir reis. Elke sak is handgemaak en uniek afhangend van die materiaal wat gebruik is. Én dit het boonop ’n lewenslange waarborg.

R2 450 by sealandgear.com


Kies metaal bo plastiek

Praktiese wenke vir elke dag

Moenie plastiekbottels en koffiebekers gebruik nie

Koop eerder ’n metaalnommer wat jy weer en weer kan gebruik vir jou oggendkoffie. Die Klean Kanteen Classic is my gunsteling – dis BPA-vry, byna onbreekbaar en kos R380 by Wellness Warehouse (daar is ook bekers wat geïsoleer is).

Hou ’n Tupperware- of plastiekbak in die motor.

As jy iewers ’n pastei of wegneemete koop, vra die winkelmense om dit direk in jou bak te sit. En los die papierservette – hou ’n jammerlappie in ’n Ziploc-sakkie byderhand.

Maak EcoBricks

Hierdie plastiekbottels is gestop met skoon, droë bio-afbreekbare afval. Dit word gebruik om huise te bou, asook vir isolering en meubels. Vat ’n 2 l-plastiekbottel en pak dit propvol plastiekafval. Laai dit af by die naaste aflaaipunt; soek dit by ecobrickex change.org

Vergeet van weggooibare eetgerei.

Koop eerder ’n eetstel van metaal, of een van BPA-vrye herwonne materiaal. Koop ook ’n strooitjie van vlekvrye staal. En nee, dit laat nie jou Oros anders smaak nie. Probeer die Aladdin Recycled & Recyclable Cutlery Set R129 by Outdoor Warehouse en Metal Straw Set With Cleaning Brush (vir vier) R129 by takealot.com

Herstel ou baadjies en buiteleweklere.

Soms het ’n goeie soft shell- of pofbaadjie net ’n waterwerende lagie nodig pleks daarvan dat jy ’n nuwe een koop. Cape Union Mart het ’n hersteldiens teen betaling en Gone Outdoor herstel alle Patagonia-produkte gratis. Gone Outdoor bied ook gratis herstelaande aan by hulle winkels in Johannesburg en Kaapstad op die eerste Donderdag van elke maand. Produkte soos Nikwax Spray TX Direct (R145) by campand climb.co.za werk ook vir ’n nuwe waterwerende laag vir baadjies.

Sluit aan by die ekotoerismebeweging.

Kies vakansiebestemmings wat verantwoordelikheid neem vir die omgewing, plekke wat daarvoor sorg dat die mens se impak op die omgewing minimaal is. Dié soort plekke het gewoonlik bewaringsprogramme waarmee besoekers die plaaslike mense kan bystaan. Dit sluit in plekke soos die Richtersveld-oorgrenspark, iSimangaliso-vleilandpark, die Kgalagadi-oorgrenspark en die Gamkaberg-natuurreservaat.