Laat ek dadelik oop kaarte speel: Ek is skepties as ek stapstewels in die winkel sien. Jare gelede het ek ’n paar gehad wat loodswaar aan jou voete was die oomblik as die eerste reëndruppels geval het, en sedertdien het ek veldtekkies (“trail running shoes”) verkies as ek in die berg of op straat geloop het. 


Maar die Wild-life-stewels van Hi-Tec het my vooropgestelde idees oor stewels op hul kop kom keer. Dié stewels was van die eerste sekonde veerlig aan jou voete, so lig dat ek ’n paar keer seker gemaak het dis van leer gemaak. (Dit is!) Selfs sonder dat ek dit ingeloop het, het dit gevoel as of ek op ’n lugkussing loop. Verder vou die stewel sag om jou enkels danksy die watteersel (“padding”) in die tong en om die enkels. Daardie einste tong hou klippies uit die skoen in die berge – iets wat die veldtekkies nie altyd kan regkry nie. 

Sedertdien het ek heelwat daarmee gestap, onder meer ’n oefensessie van 10 km, en kan ek die volgende terugvoer gee.


Gemak en voorkoms

As ek ’n skoolrapport vir die Wild-life moes gee, sou dit 10 uit 10 vir gemak gekry het. Hierdie is nie stewels wat jy maande voor die tyd hoef “in te breek” nie. Selfs in die stewel se eerste 50 km aan my voete, het ek nie een enkele blaas gehad nie.

Die sool gebruik OrthoLite®-tegnologie met skuimrubber wat jou voet se vorm aanneem. Dit is lig en super-super gemaklik, maar tog stewig en stabiel. Die XLR8-middelsool kan impak absorbeer, wat dit ’n regmerkie gee as bergstapskoen.

Ek hou ook van die leervoorkoms, en het boonop in die skoenboks ’n ekstra paar guitige oranje veters gekry – dis nou vir die dag wanneer jy daai ekstra vattie-nonsies-nie-houding by jou voorkoms wil voeg. Die ogies vir die veters is van roesvrye materiaal gemaak en so ontwerp dat jy jou veters kan inryg om by jou voetvorm te pas. Dit help dus ook dat die skoen vir jóú pas.


Droë voete

Die eerste ding wat waai as my voete nat is, is my sin vir humor. En, soos jy van goeie stapstewels verwag, bly jou voete droog binne die Wild-life danksy twee kenmerke. Die i-shield-tegnologie keer eerstens water en modder weg van die buitekant van die stewel, en tweedens hou ’n waterdigte Dri-Tec-membraam dit droog aan die binnekant. Die i-shield-tegnologie beteken ook dat die stewel vlekbestand is. Dit sal dus nog jare lank netjies genoeg wees vir “kerk-en-werk-stewels”.

 

Al is die Kaap taamlik droog vanjaar, het ons een dag met gietende reën gehad waarin ek die Wild-life in die nattigheid kon beproef: Dit het die toets met vlieënde vaandels geslaag.


Ter opsomming

’n Leser het onlangs in ’n lesersbrief gespog dat sy paar Hi-Tec-stapstewels al 20 jaar oud is, en toe brom iemand op kantoor dat sý paar al 24 jaar oud is. Ek dink dié paar Wild-lifes gaan ook nog ’n hele paar dekades in my kas wees. 


Die Wild-Life Lux in ’n neutedop:
  • Premium-leerbolaag bied ondersteuning en duursaamheid.
  • Die i-shield-tegnologie keer water en vuilheid weg, en is vlekbestand.
  • ’n Dri-Tec-membraan hou die stewels waterdig en jou voete droog. Die membraan laat ook die skoene asemhaal. 
  • Die ryglussies is roesbestand en laat die stewel netjies pas.
  • Die voering van mikro-poolstof hou die voete droog.
  • Die sagte tong hou klippe uit die skoen.
  • Die OrthoLite®-sool met skuimrubber laat die stewel by jou voetvorm pas en sorg vir gemak.
  • Die gevormde hak laat die stewel stewig pas.
  • ’n Nylon-steunstuk sorg vir ekstra ondersteuning en ’n gemakliker loopgang.
  • Die XLR8-middelsool absorbeer die impak en sorg vir gemak.
  • Die buitesool met MD-traksie verbeter jou vastrap op op- en afdraandes.