Vuur maak ons lewens eeue lank al beter, maar as dit nie met die nodige respek behandel word nie, kan die gevolge katastrofies wees. In die kampterrein is dit ook die geval, en dis van die grootste belang dat jy met die nodige kennis en vaardighede gewapen is as ’n vuur in of naby jou wa of tent handuit ruk.

Ons het met Sally Sweetnam van TransFire gesels oor wat jou te doen staan as jy ’n brand moet blus. TransFire is ’n erkende en gerespekteerde maatskappy in die brandbestrydingsbedryf.

Die eerste ding wat jy moet weet, is met watter soort brand jy te doen het. As jy die verkeerde  metode en medium gebruik, kan jy sake vererger en jouself, jou familie en vriende in groter gevaar stel. Sally sê as jy nie seker is wat die brand veroorsaak het nie, moet jy onder geen omstandighede probeer om die vlamme te blus nie.

Vuur maak ons lewens eeue lank al beter, maar as dit nie met die nodige respek behandel word nie, kan die gevolge katastrofies wees.

KLAS A

Papier, hout, karton of plastiek as brandstof

Scenario 1

Piet en Japie is besig om die laaste oomblikke van hulle naweekkamp te geniet voor hulle die pad huis toe aandurf, maar hulle besef nie die daar is nog warm kole in die as van gisteraand se vuur nie. Hulle gooi die as in ’n drom, maar onderin is droë dennenaalde, ’n klompie papierborde, gister se koerant en ’n plastiekinkopiesak of drie. Terwyl hulle die tent opvou, slaan die drom aan die brand en die vlamme spring uit en begin die droë gras langsaan aan die brand steek.

Oplossing

Die eerste ding wat Piet en Japie moet onthou, is om nie paniekbevange te raak nie. Japie moet probeer om enige rommel of vlambare materiale wat moontlik aan die brand kan slaan, uit die pad van die vlamme te verwyder, maar hy moet dit van ’n veilige afstand af doen en ’n lang stok of tentpaal gebruik. Sodoende skep hy ’n sogenaamde vuurbreek.

Piet moet die brandblusser in die hande kry (een met droë chemikalieë, water of selfs skuim), die seël breek, die pen uittrek en die brand met ’n rustige heen-en-weerbeweging blus. En nog al die tyd onthou om kalm te bly.

 Weg Ry & Sleep sê: Moet nooit aanneem jou vuur gaan vanself uitbrand nie. Moet ook nie die drom omskop nie, hou ’n veilige afstand tussen jou en die vlamme, en moet nooit jou kaal hande gebruik om vlambare voorwerpe te verwyder nie.

KLAS B

Vlambare vloeistowwe soos paraffien, vet of olie as brandstof

Scenario 2

Marius en Laurika is boskampeerders in die ware sin van die woord. Hulle is op hulle gelukkigste wanneer hulle op ’n plek sonder elektrisiteit kamp. Hulle gebruik hulle ou paraffienlamp al jare sonder enige probleme. Maar terwyl hulle in die skemer aan ’n G&T teug, skop Marius per ongeluk die lamp van die kamptafel af en die paraffien mors op hulle grondseil.

Oplossing

Indien moontlik, moet Laurika so vinnig as moontlik enige vlambare materiaal naby die vuur verwyder, terwyl Marius die brandblusser met droë chemiese poeier, CO2 of skuim gaan haal en die vlamme op dieselfde manier blus as in die eerste scenario. Anders kan Marius ’n graaf gebruik om sand op die vlamme te gooi. Moenie water gebruik om dié soort brand te probeer blus nie. Die water gaan net veroorsaak dat die vlamme vinniger verder versprei.

 Weg Ry & Sleep sê: ’n Vinnige reaksie en ’n hopie sand is die beste raad hier. Bly ver weg van water af. 

WAT GAAN WAAR?
Die etiket sê op watter soort brand daardie betrokke brandblusser gebruik mag word. Klas A, B en C is die algemeenste



Klas C

’n Brand weens elektriese toerusting, bedrading of stroombrekers

Scenario 3

Frik en Sara is ’n getroude paartjie wat al jare saam met hulle beste vriende, Oubaas en Poppie, kuier. Die vier van hulle raak avontuurlustig en besluit om saam ’n ou woonwa te koop en hom te restoureer vir toekomstige reise. Maar vóór hulle met die restourasie kan begin, wen Poppie ’n naweek in die Krugerwildtuin vir vier by die kerkbasaar en hulle besluit hulle haak die wa nes hy is. Die televisie gaan saam sodat hulle die Springboktoets kan kyk, maar die bedrading is oor die muur en ’n brand ontstaan in die woonwa die oomblik toe hulle die TV aanskakel.

Oplossing

Dis vanselfsprekend dat dit nie ’n goeie plan is om water en elektrisiteit te meng nie. Moenie jou drankie, ’n emmer water of ’n brandblusser met water of skuim op dié soort brand gebruik nie. As Frik ’n brandblusser met CO2 of droë chemiese poeier het, kan hy dit gebruik,terwyl Sara die woonwa se elektisiteitstoevoer by die kragpunt gaan uittrek. Dit is altyd ’n goeie plan om die krag af te skakel om te keer dat die elektrisiteitstroom verder vloei.

Weg Ry & Sleep sê: Terwyl Frik en Sara besig is om die brand te bestry, moet Oubaas en Poppie eenkant toe staan en hulle genoeg  ruimte gee. Hulle kan solank die oordbestuur van die situasie gaan vertel.

Klas D

Chemikalieë en vlambare metale soos natrium, kalium, magnesium of titaan as brandstof

Scenario 4

Dit is onwaarskynlik dat jy ooit dié soort brand in die kampterrein gaan teëkom, tensy jy langs ’n skrootwerf of een of ander fabriek gaan kamp. ’n Brand soos dié het beroepskennis en vaardighede nodig, plus ’n insig oor die betrokke elemente om dit suksesvol te bestry. Selfs die brandblussers word van spesifieke komponente vervaardig vir sekere vlambare metale.

Weg Ry & Sleep sê: Kry jouself weg van die brand af en bel die brandweer.

MAAK DROOG. Omdat dit só veelsydig en gepas is vir die waarskynlikste soort brand wat jy gaan teëkom, is ’n brandblusser met droë chemiese poeier die gewildste op die mark. Dit is ook dié soort wat waarskynlik standaard saam met jou woonwa gekom het.

Klas F

Kookolie of vet as brandstof

Scenario 5

Vaatjie Burger vat sy seuns, Fransie and Hennie, vir hulle eerste mannekamp – sonder Mamma. Hy is besig om spek en eiers op die skottel gaar te kry, maar terwyl hy omkyk om seker te maak die seuntjies is nog veilig op hulle skopfietsies, slaan die olie op die pan aan die brand.

Oplossing

Vaatjie moet dadelik ’n deksel oor die pan sit. As hy nie ’n deksel het nie, kan hy versigtig ’n klam lap oorgooi om die vlamme te smoor. Let wel, die lap moet klam wees en nié sopnat nie, want water gaan net die situasie vererger en veroorsaak dat die olie die wêreld vol spat en iemand dalk ernstig seermaak.

Weg Ry & Sleep sê: In die meeste gevalle kan jy ’n brandblusser met droë chemiese poeier gebruik om ’n olievuur op die stoof te blus.

Sally gee raad
  • Behandel jou brandblusser soos iets wat eendag jou lewe kan red. Maak seker hy word gereeld nagegaan en  gediens, veral voor jy met vakansie vertrek. Laat doen dit liefs by ’n opgeleide persoon en nié by enigiemand op die straathoek nie.
  • Hou altyd die oordbestuurder se nommer op jou foon wanneer jy gaan kamp. Vergewis jou waar die versamelpunt is en watter roete ’n mens moet volg as julle moet ontruim. Maak ook seker jy het voldoende brandtoerusting by jou. En probeer kalm bly indien iets gebeur.