Hier’s agt van ons gunsteling- parke en reservate. Watter een is jou gunsteling?

1. Tafelberg- nasionale park (Kaappunt)

Gratis: 18 - 23 September 

Kapenaars (ek ook!) is so bederf met verskeie mooi plekke op hulle voorstoep dat hulle vergeet van die reuse-skat in hulle agterplaas: Kaappunt. ’n Ruk gelede het ek en my gesin die twee dae lange Kaap die Goeie Hoop-roete in dié deel van die Tafelberg- nasionale park gaan stap en sommer van voor af verlief geraak op die plek. Hier is uitsigte, wel, vir Afrika, oor Valsbaai én die Atlantiese Oseaan. 


Die meeste toeriste drom saam by die punt, maar jy hoef nie met die toerbusse te meng nie – hier’s oorgenoeg stil kolle tussen die fynbos. Plas in in die getypoel by Buffelsbaai, vang ’n brander by Platboom of drink ’n glas Klein Constantia Sauvignon Blanc (R65) op die dek van die Two Oceans-restaurant.

Jy kan van hier af ook die Flying Dutchman-kabelkarretjie (R65 p.p. retoer) tot bo by die vuurtoring op die punt neem. Leun in teen die wind en verbeel jou jy gewaar vir Vasco da Gama wat in sy karveel om die rotsagtige skiereiland gesukkel kom.

Kontak 021 780 9200; www.sanparks.org

Koste R135 p.p. en R70 per kind. Besparing van R410 vir ’n gesin van 4.
– Pierre Steyn

2. Krugerwildtuin

Gratis: 18 - 22 September (Toegang gratis vir die eerste 100 besoekers op 23 en 24 September.)

Verblyfreg in die Tamboti-tentkamp naby die Orpen-hek. Dís wat ek koop as ek vandag die Lotto wen.


Die wildtuin is nie net een van my gunstelingparke nie, dis een van my gunstelingplekke op die aardbol.

Dis die soort plek waar ’n wonderlike ervaring gewaarborg is, selfs op ’n “stil” dag, waar jy net die gewone goed gesien het: olifante, sebras en die alomteenwoordige rooibok... Maar as jy regtig gaan sit en dink dan onthou jy: neushorings wat swiep van tak tot tak, ’n troupant wat ’n gogga vermorsel, ’n bruinarend wat die landskap bespied vanuit ’n hardekoolboom, rooibekkweleas wat skielik opswerm vanuit ’n bos, ’n yslike gouewawielwebspinnekop se web wat blink in die son, kameelperde wat langbeen oor die pad stap, ’n leerskare witooievaars wat aanstryk deur die gras, ’n langbeenkorhaan se “tjikk...pop”. 

Dán besef ’n mens opnuut op enige gegewe dag wemel die wildtuin van die diere en of jy hulle sien is ’n bysaak. Daai wete is genoeg. Toe man, gaan kry dié week jou Kruger-inspuiting!

Kontak 013 735 4196 (Skukuza); www.sanparks.org 

Koste R82 p.p. en R41 per kind. Besparing van R246 vir ’n gesin van 4. 

–Esma Marnewick

3. Kogelberg-natuurreservaat

Gratis: 18 - 25 September 

Dié reservaat is sowat 60 km van my tuisdorp, Somerset-Wes, af, dus ry ons sommer maklik op ’n Saterdagoggend soontoe. Binne ’n uur en ’n half is jy omsingel deur berge, met ’n bietjie verbeelding kan jy sommer dink jy’s diep in die Skotse Hooglande!


Hier’s verskeie staproetes in die reservaat, van taaies soos die Perdebergroete (22 km) tot makkes soos die Palmietrivierroete (10 km). Ons het twee kinders jonger as vyf en stap dus net die laasgenoemde roete wat al langs die Palmietrivier loop. Jy hoef natuurlik nie die volle 10 km te stap nie, stap tot waar jy lus het – hier’s verskeie plekke waar jy kan afdraai na ’n klipplaat of beskutte baaitjie en langs die rivier kan uitspan. 

Rondom jou tjat-tjat-tjat rooibandsuikerbekkies onophoudelik en ’n visvanger of twee duik oor die water terwyl reuse-naaldekokers (geles, rooies, bloues!) swewe van klip tot klip. Ná ’n sprong in die yskoue bergwater sien jy kans vir... nóg ’n sprong!

Kontak 087 288 0499; www.capenature.co.za 

Koste R40 p.p. en R20 per kind. Besparing van R120 vir ’n gesin van 4.

–Esma Marnewick

4. Anysberg-natuurreservaat

Gratis: 18 - 25 September 

Die Anysberg-reservaat is ’n plek sonder skyn. Dis ’n sobere stukkie Klein-Karoo, ’n landskap van ry-op-ry koppies tot op die horison en snags ’n sterrehemel soos jy nie kan glo nie. ’n Mens kom nie hierheen vir ’n rits doendinge of dramatiese natuurtonele nie, maar eerder vir ware ontspanning. 



Kom stap in die veld en bekyk die wildspoortjies, besoek ’n paar rotskunspanele, roei kajak, ry die 4x4-roete of klim selfs op ’n perd se rug as jy lus het. Maar hier gekom sal jy gou besef ’n mens wil eintlik net in die plaasdam se koel waters luier terwyl grootstreepswaeltjies om jou neerswiep om bekkies vol water te skep. Ongekende vrede – dís wat die Anysberg is. 

Kontak 023 551 1922; www.capenature.co.za 

Koste R40 p.p. en R20 per kind. Besparing van R120 vir ’n gesin van 4.

– Sophia van Taak

5. Addo-olifant- nasionale park

Gratis: 18 - 22 September 

Ek het Addo meer as 20 jaar gelede “ontdek” as ’n jong getroude in Port Elizabeth. Ons het op ’n lustelose Sondagmiddag uitgery na die “olifantpark” met geen verwagting nie... En toe op ’n vinnige sirkelroete in twee uur meer olifante gesien as wat ons in ons ganse leeftyd al gesien het! 


Vandag is Addo natuurlik veel meer as net ’n “olifantpark” – dis die derde grootste nasionale park in die land (naas die Kruger en Kgalagadi). Dis juis sy vyf uiteenlopende streke – alles van ongerepte duineveld langs die kus by Woody Cape tot die geskiedenisryke bergwêreld van die Suurberg – wat die park so uniek maak. Maar dis sy honderde olifante, verkleur tot ’n diep rooibruin deur die klei in die omgewing, wat die meeste mense lok. 

Pak ’n piekniekmandjie en mik vir die Colchesterdeel om die hoofkamp, parkeer vir ’n paar ure by die Hapoor-watergat en kyk hoe yslike troppe olifante bondelsport hou.

Kontak 042 233 8600; www.sanparks.org 

Koste R62 p.p. en R31 per kind. Besparing van R186 vir ’n gesin van 4. 

– Pierre Steyn

6. Jonkershoek-natuurreservaat

Gratis: 18 – 25 September


Met die wynplase in die omgewing wat al die glorie kry, vergeet Kapenaars soms van die enorme reservaat aan die voet van die Jonkershoekberg. Hierdie Wêrelderfenisgebied is een van die beste plekke om ons land se talle fynbosspesies te verken – veral in Erfenismaand! 

Jy moet deesdae fyn kyk vir enige tekens van die brande wat in 2015 en 2016 in die gebied gewoed het – goudgeel Bietou versier die veld en ’n verskeidenheid protea-spesies staan bont. 

Hier’s talle stap- en traproetes, van die taai Panoramaroete (17 km) tot ’n uur se drentel tot by die Eerste Waterval (en dit is vanselfsprekend hoe jy kan afkoel ná jou moeite!). As jy nog verder wil verken, stap aan tot by die voet van die Tweede Waterval. Die roete tot héél bo is egter toe.

Kontak 021 866 1560; www.capenature.co.za  

Koste R40 p.p. en R20 per kind. Besparing van R120 vir ’n gesin van 4.

Let wel Toegang is gratis maar jy betaal steeds die gewone tarief (R50 p.p.; gratis met ’n Wild Card) vir MTO se fietsroetes.

– Marcelle van Niekerk


7. Mokala- nasionale park

Gratis: 18 - 23 September 2017

Mokala bly my gunstelingreservaat. Hoekom? Mokala is amper presies in die middel van die land.


Daar is swartwitpense. Daar is bastergemsbokke. Jy kan in die Stofdam-voëlskuiling slaap en dan kom kuier al die besoekers by die water net vir jou. Jy kan in 'n boomhuis tussen die mikke van 'n kameeldoringboom oorbly. As jy by Motswedi-kamp tent opslaan, het jy 'n uitsig oor 'n watergat, kameeldoringkoelte waaronder jy kan ontspan en jou eie badkamer en kombuisie.

Hier is nooit baie mense in die park nie. Teen sononder kan jy êrens, alleen, sit en kyk hoe 'n bloedrooi son uitbrand terwyl korhane, grondgeitjies en jakkalse stories uitruil. En saans tel jy verskietende sterre, en wens wense.

Kontak 053 204 8000; www.sanparks.org 

Koste R40 p.p. en R20 per kind. Besparing van R120 vir ’n gesin van 4.

– Willem van der Berg

8. Tuinroete- nasionale park (Tsitsikamma-deel)

Gratis: 18 - 23 September 

Ek is gaande oor Tsitsikamma, die “plek van baie water”. As ek net een dag het? Dan pak ek my piekniekgoed en swembroek in en gaan stap die Watervalroete (6 km, 3 uur). Dis die eerste deel van die Otterstaproete en die naaste wat ’n mens aan dié legendariese roete kan kom sonder ’n swaar rugsak op jou rug. Daar’s ’n lekker poel by die waterval (en jou draaipunt) – net reg vir ’n toebroodjie en koppie koffie.


As jou stapskoene by die huis lê, hou stil by die restaurant in dié kamp en stap (plakkies en al) op die Mond-roete (2 km, 1 uur), al op die plankiespad langs deur inheemse woud tot by die bekende hangbrug.

As jou senuwees dit hou: Kyk af na waar die bruin rivierwater en die blou branders mekaar onder jou voete groet. 

Vir dié met baie energie: Hou aan met die paadjie anderkant die brug en klim tot bo by die uitkykpunt. Jou asem gaan jaag, maar die uitsig is die moeite werd – jy sien die see, die kamp doer onder en binneland se kant toe tot by Piek Formosa.

Kom kuier Die Tuinroete- nasionale park bestaan uit die Knysna-, Wildernis- en Tsitsikamma-deel wat elk verskillende aktiwiteite aanbied tydens dié week, van films tot 4x4-uitstappies saam met ereveldwagters. Besoek die webruimte vir inligting.

Kontak 042 281 1607;  www.sanparks.org 

Koste R49 p.p. en R24 per kind. Besparing van R146 vir ’n gesin van 4.

– Suzaan Haumann


Weet voor jy waai

Toegang is gratis vir al SANparke (buiten die Namakwa- nasionale park en Boulders-pikkewynkolonie) van 18-22 September. Van die parke is ook oor die naweek oop. Kontak 012 428 9111; www.sanparks.org.

Toegang is gratis vir al Kaapse Natuurbewaring se reservate van 18-25 September. Kontak 021 483 0190; www.capenature.co.za

Ezemvelo KZN Wildlife het in September Mahala Fridays: Op Vrydae is toegang gratis by vir die eerste 200 Suid-Afrikaners (onthou jou ID) by al die reservate, behalwe die Isimangaliso-vleilandpark. 
Kontak 033 845 1000; www.kznwildlife.com

Vir nog ’n storie oor Suid-Afrika se parke, koop Weg se September-uitgawe wat tans op die rakke is of bestel een hier.