Foto's: Sophia van Taak

’n Mens ry baie keer deur ’n plattelandse dorpie en kry die indruk dat die arme ou plekkie maar so gemaak en laat staan is, oorgelaat aan die verweer van tyd en vooruitgang. Maar Loxton het die gevoel van iets wat uit die staanspoor regop en stewig geplant is. Nes die bome langs al die strate – die eerste inwoners se peer, peper en sipres. 

Die dorpie is in 1899 op ’n gedeelte van Algernon Edgar Loxton se plaas, Phezantefontein, gestig. Destyds groot wolwêreld gewees, dié. Is nou nog. Maar afgesien van ’n paar boere wat nog die tradisie van ’n dorpshuis in stand hou, is die meeste wonings nou naweekplekkies. En die grootste gros permanente Loxtonners inkommers. Maar inkommers is ook ons Karoo-dorpies se preserveermiddel. Die geheim is om klein te bly, maar in hart en siel te groei. En dít kry Loxton mooi reg.

Kom kuier nou, in September of Oktober, terwyl die lanings wit staan van die peerbloeisels. En doen dié dinge:


Volg die mooiste pad soontoe

Jy kan Loxton via verskeie paaie uit Carnarvon, Fraserburg of Victoria-Wes bereik, maar die mooiste roete is die een wat van die N1 by Beaufort-Wes af reguit noord loop. Die R381 is sowat 110 km lank en neem jou deur die mooi Motenopas teen die Nuweveldberge uit tot bo-op die plato. Dis ’n grondpad (in die pas self is daar plek-plek stukke geteer) wat verby ou plaasopstalle slinger (kyk hoeveel populierbosse julle kan tel!) en lynreg oor die Karoo-vlaktes sny tot in Loxton. 



Sit aan by die Rooi Granaat

Dis eintlik maar die enigste eetplek in die dorp, maar hier smul jy behoorlik. Onthou, dis skaapwêreld. Bestel dus die middagete van skaaptjops, aartappelskyfies, pampoen en twee slaaie (R90) – jy sal nie spyt wees nie. Die Rooi Granaat verkoop ook ligter happies soos roosterbroodjies en snoepgoed soos oumawange, fudge en limonade. 



Kyk ou karre

Die Loxton Lodge se agterplaas dien as ’n opelug-museum vir ou weermagvoertuie. Hier is nagenoeg dertig verskillende trokke, tenks en Jeeps wat in die Tweede Wêreldoorlog diens gedoen het:  M3’s, Dodge-trokke, Jimmies... elkeen se rol in die oorlog, sowel as sy spefikasies, is op inligtingsbordjies aangebring. Jy voel kompleet soos een van daardie groen plastieksoldaatjies wanneer jy tussen die tenks staan!



Ontmoet Biesiespoort se melkbokke

Die plaas Biesiespoort lê net oos van Loxton (anderkant die dorpsdam) en hier word bokmelkkaas gemaak. Bokkies wat sterk trek op Heidi se Schnucki kom met swaaiende uiers verbygedraf melkkamer toe. Hier’s wittes, swartes, bruines en bontes. Of altans, soos die kaasmaker, Aubrey Potgieter, my gou reghelp: Saanen-, British Alpine-, Toggenburg- en BDE (Bunte Deutsche Edelziege)-bokke. 

Aubrey maak ’n stuk of sewe verskillende soorte kaas en dit is by die Rooi Granaat te koop. Probeer gerus die halloumi, die pecorino of die Cheese Delights – bolletjies maaskaas in knoffel en peper gerol en dan in olyfolie verpak. Die reeks, Karoo Goat’s Milk Products, is ook landwyd by Pick n Pay, Checkers en sommige Spar-takke te koop.



Neem foto’s

Die dorp is skaars ses by agt strate groot, dus kan jy dit maklik te voet verken. Die meeste huise het nog ’n waenhuis, een met ’n dubbeldeur waarvan die jaar toet se verf afskilfer en ’n pieperige hangslot wat niks werklik hoef uit te hou nie. Hier’s ook leiwatervore en kuierstoepe, die karaktervolle soort wat verbygangers nuuskierig laat nader staan. 

Slegs die straat wat van die twee hoofpaaie af inloop en die verkeersirkel rondom die NG Kerk is geteer. Teen ’n heining lees ’n handgeverfde bordjie: “Asseblief pasop vir die hond klok by voorhek”… Jou kamera gaan oortyd klik.


Ondersteun die gemeenskapsprojek

Langs die kerk is ’n kunsgalery en hier sal jy vir Ingrid Schöfmann en haar span aantref , altyd doenig met ’n handwerkie. Loxton se werklose vroue kom leer hier hekel en borduur – servette, tafeldoeke, kussingslope, boekmerkies en muurbehangsels. Hier’s ook altyd ’n uitstalling van ’n paar skilders se werk.



Volg die geoglyph se kronkels

Die geoglyph of aardtekening, is ’n uitbeelding van ’n dier binne-in ’n dier wat met groot, wit kalkkolle op ’n stuk plat aarde uitgeverf word om ’n labirint te vorm. By die afdraai na Loxton is só ’n labirint of meditasievoetpad van ’n jakkals binne-in ’n oewerkonyn (daar word in hierdie distrik navorsing oor dié bedreigde spesie gedoen). Die geoglyph is 88 x 75 m groot en geleë by die aansluiting met die R63 tussen Victoria-Wes en Carnarvon. Loer gerus op Google Earth by S31.47379 E 22.35058



Hou veiling

Dries en Myalan Wiese se plaas, Kasteel, het inderdaad ’n kasteel op. Dis ’n interessante storie: Die vorige eienaar, Jan Hugo, het in die 1970’s deur Duitsland gaan toer en in Suid-Beiere op ’n kasteel afgekom wat hom só beïndruk het dat hy net daar ’n paar sketse van die gebou gemaak het. Terug op die plaas het hy die ou opstal platgeslaan en saam met slegs sy vrou en die hulp van drie werkers hierdie kolossale plek gebou. 

Maar Kasteel se eintlike groot trekkrag is die veeveilings wat gereeld hier plaasvind en op 28 September 2017 is dit weer sulke tyd. Van 11 vm. af word daar op boerbokke, angoras en dorpers gebie. En selfs al koop jy nie ’n enkele ooi nie, bly die opwindend om te kyk hoe die boere mekaar se pryse opjaag. Na die tyd kuier almal gesellig saam om die braai.

Hier’s meer inligting oor die veiling .



Gaan sit vroegdag teen die rantjie

Aan die oostelike punt van Margaretha Prinsloostraat loop ’n grondpaadjie na die dorpsdam en ook tot bo-op die rantjie waarteen LOXTON groot in klippe uitgespel staan. Gaan sit voor sonsopkoms hier vir ’n mooi uitsig oor die dorp en die Karoo-landskap omheen.

Waar bly ek?

1. Karoo Cottage is ’n lieflike selfsorghuisie met ’n dubbelbed, sitkamertjie en ’n braai in die agtertuin.

Waar? h.v. Schalkwyk- en Margaretha Prinsloostraat

Kontak * 053 381 3091;* karooimages.co.za/cottage 



2. Die 4-Seasons Gastehuis is ’n pragtige ou dorpshuis met verskeie kameropsies en ook ’n losstaande selfsorgeenheid met slaapplek vir 4. 

Waar? Reg oorkant die kerk. Dis ’n geel huis, jy kan dit nie mis nie.

Kontak * 083 295 0769 (Angela);* 4-seasons.co.za 



3. Jakhalsdans is ’n spogplaas met verskeie verblyfopsies: die Ou Opstal (’n pragtig gerestoureerde plaashuis met slaapplek vir 5-7), die Skeerders-selfsorghuis (2 aangrensende eenhede, elk met ’n kombuis en slaapplek vir 4) met sy lekker braaistoep en uitsig oor die dam en die Langhuis (selfsorg, met slaapplek vir 6-8). Jy kan ook hier perdry, wildkyk, op die dam ski, jag, piekniek hou... 

Waar? 6,7 km suid van Loxton, aan die R381

Kontak * 053 381 3005 ; * jakhalsdans.co.za



4. Die Rooi Granaat het een selfsorgeenheid met slaapplek vir 2, ’n familie-eenheid met slaapplek vir 4 en 2 en suite-dubbelkamers.

Waar? Reg langs die kerk in Joostestraat

Kontak *  082 805 2982



5. Die Loxton Lodge het slaapplek vir 6 (2 dubbelkamers en 1 kamer met 2 enkelbeddens). En die bestuurder, Andoret Stemmett, maak ’n gedugte hoenderpastei! (Aandetes moet vooraf bespreek word en kos R150 p.p.)

Prys? R300 p.p.p.n. (ontbyt ingesluit) Toegang tot die Tweede Wêreldoorlog- vragmotormuseum kos R50 p.p. (gratis vir 0.12’s)

Waar? h.v. Hugo- en Margaretha Prinsloostraat

Kontak *  072 595 2166; * loxtonlodge.co.za