1. Kry ’n satellietfoon

Dit bly Nommer 1. Daar is baie plekke om hulle te koop of huur. Dié toestel kan jou uit baie krisisse red.

2. Skep ’n noodlêer

Een van die grootste probleme is dat jy nie noodnommers byderhand het wanneer jy hulle nodig het nie.

Daarom skep Johan ’n noodlêer met al die belangrike inligting waaraan hy kan dink: mediese fonds- en versekeringsnommers, paspoortnommers en afdrukke, nood- en SOS-nommers tuis.

Johan skryf ook almal in sy groep se allergieë en mediese toestande neer. Want wanneer iemand ’n allergiese reaksie het, kan die persoon dalk nie meer praat om te sê wat verkeerd is nie.

Een van die grootste probleme is dat jy nie noodnommers byderhand het wanneer jy hulle nodig het nie.

3. Kies ’n noodvriend tuis

Dit moet iemand wees wat jy weet meestal op kantoor of minstens naby die foon sal kry. Die persoon moet al jou besonderhede, roeteplan, kaarte en bestemmings hê.

4. Hou ’n week se drinkwater in die voertuig

In ’n noodgeval kan jy dit tot twee weke rantsoeneer.

5. Hou ’n week se kos in die voertuig

En maak seker dis goed wat lank kan hou!

6. Kry jou noodhulpkissie agtermekaar

Gereelde probleme op toer is goed soos brandwonde, diarree en snywonde, dus het Johan altyd Burnshield (vir brandwonde) en iets vir maagprobleme in sy voertuig, asook antihistamiene vir erge reaksies op tsetsevliegbyte en bysteke. Mense is bekommerd oor ernstige goed soos slangbyte, maar hierdie “gewone” probleme kan ook jou toer bederf.

7. Koop ’n tweede spaarwiel en ’n bandherstelkissie

As jy in ’n omgewing ry wat bande vreet, is dit goud werd.

8. Pak ’n volledige gereedskapkis in

Jy sal verbaas wees waarvoor jy dit alles kan inspan.

9. Hou ’n motorwerktuigkundige of -handelaar se nommer byderhand

Só kan jy bel vir raad as jou voertuig breek en onderdele laat koerier as dit moet. Onderdele is soms jou grootste probleem in die vreemde.

10. Ry ’n ekstra dieselfilter saam

As jy in plekke ry waar die diesel baie vuil is, raak dié filters gou verstop.

11. Onthou sleepwa-onderdele

As jy ’n boswa sleep, hoor by die vervaardiger watter onderdele jy mag nodig kry.

12. Vat spaaronderdele vir jou gastoerusting

Dis goed wat lewensgevaarlik kan wees as dit lek of breek.

13. Gaan jou watertenk na

Maak seker dis skoon en dat jy weet hoeveel water jy  het.

14. Pak ’n graaf!

Alhoewel hy ’n hooglig- en ’n lugdomkrag saamneem, bly ’n graaf die ding wat Johan die meeste gebruik as hy vassit.