1. Die Weskus

Dié streek is meer as net ’n snoek- en blommeparadys... Dis een van die laaste plekke waar jy teenaan die kus kan ry en kan kamp waar jy wil.

Waar? Op die sowat 285 km-kuslyn tussen Port Nolloth en Lutzville is daar ’n mooi roete wat deur die Namakwa- nasionale park loop.

Hoekom moet ek gaan? Son, see, sand en 4x4. Hierdie is een van die min plekke in Suid-Afrika waar jy feitlik teen die kuslyn mag ry en kamp.’n Gedeelte van die Namakwa- nasionale park sit op hierdie stuk kuslyn en daar is netjiese kampplekke teen die see. Dis veral pragtig hier tydens lente wanneer die blomme begin kop uitsteek.

Tussen die suidelike grens van die Namakwa- nasionale park en Gert du Toit se baai, ’n stuk kuslyn van sowat 80 km, kan jy kamp net waar jy wil sonder besprekings of kampgeld. Hier is geen geriewe of vars water nie en jy moet al jou rommel self wegry. As jy eerste by ’n lekker kampplek kom, is hy joune.

Die dorpies hier – Port Nolloth, Kleinzee, Hondeklipbaai en Koingnaas – het ’n ryk geskiedenis as uitvoerpunte vir die destydse koper- en diamantbedrywe. Dele van die kus word steeds gemyn vir diamante en is daarom nie oop vir die publiek nie.

Tussen Koingnaas en Kleinzee kan jy egter die 37 km-lange Skeepswrakroete ry. Die roete lê binne ’n myngebied en jy moet vooruit bespreek. Bring die ID-dokumente van almal in jou voertuig saam.

Beste tyd om te gaan In herfs en lente is die temperatuur op sy matigste en die wind is op sy rustigste. Tussen Junie en Oktober is dit blommetyd en hierdie is een van beste dele aan die Weskus om blomme te kyk. En dis natuurlik altyd lekker om in die somer langs die see te kamp, maar hou in gedagte dat dit vakansietyd is in Desember en kampplek beperk is.

Hoe lank gaan dit duur? Drie dae tot ’n week as jy langer as een aand op ’n plek wil oorslaap. Laat jouself meer tyd toe en maak seker jou voertuig is bekwaam as jy die 4x4-dele  wil ry.

Nuttige nommers:

2. Wildekus

Pak jou Tracks4Africa-kaart en stapskoene in en verken ’n ongerepte streek waar die tropiese woude tot teenaan die see strek.

Waar? Die Wildekus lê in die ou Transkei, tussen Oos-Londen en Port Edward, op die grens van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap.

Hoekom moet ek gaan? Die Wildekus is deesdae nie eintlik meer só wild nie, maar dit bly steeds yl ontwikkeld en die natuur is ongerep. Dit beteken dat jy selfs in die middel van skoolvakansies een van net ’n handjievol mense (en miskien ’n paar Ngunibeeste) op die strand sal wees. Die natuurreservate is ook nie oorlaai met besoekers nie.

’n Netwerk van grondpaaie tussen die N2 en die see lei jou deur die tradisionele tuiste van die Xhosas, maar die paaie is meestal maklik begaanbaar.

Feitlik die hele kuslyn is bedek met byna tropiese woude wat tot teen die strande strek. Daar is ook ’n magdom riviere wat hier in die see uitmond. Maak jou dus reg vir rivierkruisings en mooi, diep valleie. Bring jou kamera en ’n paar lekker stapskoene om dié wêreld van nader te verken.

Beste tyd om te gaan Dit reën in die somer en die grondpaaie kan modderig raak. Die klimaat is egter heel matig en as jy die regte voertuig en ondervinding het, kan jy die gebied die hele jaar deur besoek. In die lente en herfs het jy die beste balans tussen mooi weer en mooi paaie.

Hoe lank gaan dit duur? Gee jouself ’n week om die Wildekus te verken. Jy kan met die N2 in een dag tussen Port Edward en Oos-Londen ry, maar op die kronkelende grondpaaie nader aan die kus gaan dit heelwat langer neem. Buitendien, dis ’n plek waar jy wil ontspan, veral op die pragtige strande.

Nuttige nommers:

3. Maputaland

Hier kan jy die Groot Vyf sien én hengel en duik.

Waar? Maputaland is die noordelike hoek van KwaZulu-Natal, daar waar ons grense met Mosambiek en Swaziland deel. Dit begin min of meer by die Hluhlu-iMfolozi-wildreservaat in die suide en strek tot teen die Indiese Oseaan, en die suidelike grense van Mosambiek en Swaziland.

Hoekom moet ek gaan? Behalwe vir die tropiese kuslyn waar jy luilekker met jou tone in die sand kan ontspan, is Maputaland oortrek van wildreservate waar die Groot Vyf nog meestal ongehinderd leef. Soos die Hluhluwe-iMfolozi-wildreservaat wat bekend is vir die baie witrenosters wat hier te sien is. Die iSimangaliso-vleilandpark strek vir 200km langs die kus en hier kan jy verskeie skilpad- en voëlspesies te siene kry, asook die mees suidelike sagte koraalriwwe in Afrika.

Die gebied is ’n hengel- en duikparadys.

Beste tyd om te gaan Die noorde van KwaZulu-Natal is heeljaar matig, maar nooit werklik koud nie. In die somer (Desember tot Februarie) kan dit baie warm en bedompig raak, maar dit is altyd leefbaar. Die res van die jaar is piekfyn. As jy egter wil wildkyk, oorweeg die wintermaande, want dan is die veld minder welig en jy sal meer sien.

Nuttige nommers