1. Kaokoland en Damaraland

Kaokoland

Met net een mens per twee vierkante kilometer, is dit die mees ongerepte en yl bevolkte deel van Namibië. Besoek een van die laaste egte wildernisgebiede ter wêreld.

Waar is dit?

Kaokoland lê in die noordwestelike hoek van Namibië, tussen die Hoanibrivier in die suide en die Kunenerivier op die grens met Angola. Dit eindig aan die oostekant teen die Etosha- nasionale park en die Skedelkus skei dit van die see aan die westekant. Damaraland strek suid van die Hoanib tot by Swakopmund.

Hoekom moet ek gaan?

Om Kaokoland en Damaraland se mees afgeleë dele te bereik is ’n hardebaard-4x4-avontuur waarvoor jy noodrantsoene, genoeg water en brandstof, twee tot drie spaarwiele en ekstra onderdele moet saamry. Dit verg deeglike beplanning en jy moet liefs nie alleen in hierdie geweste rondry nie.

Van Kaokoland se hoogtepunte is die bekende Van Zylspas, die beeldskone Marienfluss, Ruacana- en Epupa-waterval en die wilde olifante, kameelperde, gemsbokke en renosters wat jy in droë rivierlope sal aantref. 

In Damaraland lê Brandberg, Namibië se hoogste berg. Jy sal honderde rotskunsvoorbeelde by Twyfelfontein kry en oeroue boomfossiele in die versteende woud naby Khorixas. Die bekende Spitzkoppe-berg is ook hier te vinde.

Beste tyd om te gaan

Tussen Mei en  November is die temperature meer gematig. In die somer is dit bloedig warm bedags en nie veel kouer saans nie.
Hoe lank gaan dit duur?

Kaokoland en Damaraland is gróót, gee jouself minstens 10 dae tot twee weke om elk van die gebiede te verken. Val soggens vroeg in die pad want jy ry gewoonlik heeldag tussen kampplekke, met bitter min tussenin. 

Vir nog inligting

www.namibian.org/travel/namibia/damaraland.htm 

2. Die Doodsakker, Angola

Die Doodsakker

Sit die suide van Angola (met sy senutergende Doodsakker) op jou reislys, as jy droom van ongerepte bestemmings met volop natuurskatte.

Waar is dit?

Die Doodsakker is ’n strook van 60 km tussen die pompstasie Foz do Cunene en Tombua langs die kus noord van die Kunene in Angola. Die laaste 18 km word op kaarte gemerk as “uiters gevaarlik”. (Lees Dolf Elfs se artikel oor sy ritte deur die Doodsakker

Hoekom moet ek gaan?

Die streek is bekend vir sy skeepswrakke en skouspelagtige natuurtonele, en is ’n reis vir dié met hare op die tande. 

Die roete loop oor ’n smal strook tussen die see en hoë duine. Daar is geen noemenswaardige strand waarop jy kan ry nie, en vir sowat 40 km is dit ononderbroke duine aan jou een sy, en die see aan jou ander sy. Jou enigste kans om daardeur te ry is met laagwater. 

Jy kan ook die spookdorp Sao Martinho dos Tigres op die eiland Baía dos Tigres besoek.  Lees Dolf Els se artikel vir meer agtergrond.

Beste tyd om te gaan

Mei tot Oktober is die droë maande in die streek – jy wil tog nie die uitdaging vererger deur dit in die reën te probeer aanpak nie?

Hoe lank gaan dit duur?

Die rit self is net enkele senutergende ure lank, maar jy kan dit kombineer met ’n besoek aan die Iona- nasionale park en die provinsie Namibe in Angola. Gaan kyk ook na die Cristo Rei-standbeeld in Lubango, ’n replika van die Christusbeeld in Rio de Janeiro.  

Nuttige nommers

Dis ’n uitstekende plek om ’n satellietfoon heen saam te neem. As jy die polisie in Angola nodig het, skakel die noodnommer 113. Vir ambulansdienste bel 112 of 116. 

Vir nog inligting

Suid-Afrikaners het nie meer visums nodig om Angola te besoek nie. Lees hier meer. 

Lees ook hierdie leser se verhaal oor hulle kampreis deur Angola. 

3. Richtersveld

Die Potjiesprampad in die Richtersveld

Dis ’n wêreld van rotse, klippe, diere en temperatuuruiterstes wat wydsbeen staan oor die grens tussen Suid-Afrika en Namibië.

Waar is dit?

Die Richtersveld is ’n gebied tussen Suid-Afrika en Namibië en bestaan uit twee dele. Die |Ai-|Ais/Richtersveld-oorgrenspark is ’n nasionale park en lê gedeeltelik in Namibië en gedeeltelik in Suid-Afrika. Die Richtersveld-gemeenskapsbewaringsgebied grens aan die suide van dié park in Suid-Afrika.

Hoekom moet ek gaan?

Of jy nou ’n ongerepte wildernis, die eiesoortige kultuur van die Namas of die oorvloedige stilte wil ervaar, die Richtersveld behoort bo aan jou emmerskoplys te wees.

Die Richtersveld is pure woestyn, maar bevat lewe. Dis ’n wêreld van halfmens- en kokerbome, Nama-inwoners en diamantstories.

Die omgewing is ’n geologiese lushof, met hoë berge, diep klowe, wye vlaktes en indrukwekkende rotsformasies. 

Van die natuur se mees seldsame woestynvetplante en plante, soos die halfmens en basterkokerboom, kom hier voor.

In die dorre wêreld sal jy verbaas wees oor hoeveel diere jy kan sien. Buiten omtrent 200 voëlspesies – van witkruis- tot visarende – is hier talle reptiele, skerpioene en spinnekoppe. Hier is ook vaalribbokke, bergsebras, koedoes en hier en daar ’n luiperd.

Beste tyd om te gaan

Dis blommetyd tussen Junie en Oktober. Dan dans die Richtersveld in sy bont rok. Die temperature is meer aangenaam tussen Maart en Oktober (maar dit kan oor dié tydperk steeds warm word). Hoogsomer word dit baie warm en kan die kwik tot 50°C styg. 

Reën is skaars, maar wees versigtig vir blitsvloede as dit wel reën in die winter.

Hoe lank gaan dit duur?

Die Richtersveld is ’n gróót plek en boonop ver van enige hoofstad af. Moenie vir minder as ’n week kom kuier nie.

Lees ook François Haasbroek se Richtersveld-artikel wat in Weg se Mei 2018-uitgawe verskyn het.

Vir nog inligting

Webblad: www.sanparks.org/parks/richtersveld; e-pos: reservations@sanparks.org

4. Mabuasehube, Botswana

Niemand gaan net een keer Mabua toe nie. As jy eers hier op die pan gesit en tuur het, wil jy elke jaar terugkeer.

Waar is dit?

Mabuasehube is in Botswana en ’n deel van die Kgalagadi-oorgrenspark. 

Hoekom moet ek gaan

Dis ’n groot gunsteling en iets wat die ouens maklik aan die praat kry. Mabuasehube is een van daardie plekke waar die stilte in jou ore gaan suis – en as jy gelukkig is, word die oorverdowende stilte deur een van Mabua se bekende donderstorms onderbreek. 

Die park het ’n paar waterpanne, en net twee of vier staanplekke by elke pan. Jy gaan dus nie die pan met ’n horde ander raserige vakansiegangers hoef te deel nie. 

Mabua het baie wild en is bekend vir stories waar die luiperd sy bok voor jou tent kom plattrek en waar die leeu sy dors in jou stort les. (Lees hier van ‘n leser se soektog na leeus in Mabua ). 

Onthou, in Mabua moet jy heeltemal selfversorgend wees. ’n Kampplek met ’n puttoilet en ’n A-raam-struktuur word hier as luuks beskou! Jy moet jou eie kos, brandhout en water (ook vir stort) hierheen aanry, en al jou vullis self wegry. Maar geen fliek kom naastenby aan ’n uitsig op die Mpayathutlwa-pan terwyl jou braaivuur knetter nie. 

Bespreek lank voor die tyd. 

Vir nog inligting

Jy kan Botswana se departement van natuurlewe en nasionale parke kontak vir inligting en besprekings. Kampplekke aan die Botswanakant van die Kgalagadi-oorgrenspark word deur óf die departement van natuurlewe en nasionale parke (DWNP) óf private konsessies bestuur.

Die konsessie wat die kampplekke by Mabuasehube bestuur, is die Inter-toerismegroep.

5. Caprivi

Die krokodilhok by Ngepi in die Caprivi.

Dié deel van Namibië word sedert 2013 die Zambezi-streek genoem. Maar dit maak nie saak wat jy dit noem nie, dié gebied is iets wat jy moet beleef.

Waar is dit?

Die Caprivistrook, deesdae bekend as die Zambesi-streek, is ’n dun vinger van Namibië teenaan die grens met Botswana. 

Hoekom moet ek gaan?

Hierdie is ’n mooi reis deur ’n gebied waar die wild volop is en die tiervis loop.

Begin jou reis aan die Botswana-kant, by Kasane, en toer wes. Drie groot riviere vloei deur die streek, met talle lodges op die lowerryke oewers van die Zambezi-, Kwando- en Okavangoriviere.

Besoek ook die Mamili- nasionale park, wat in die suide aan Botswana se wildkykparadys, Savuti, grens. Hier voel jy midde-in die onverdunde, betowerende en gevaarlike Afrika-wildernis en elke nuwe paadjie lei na ’n nuwe watergat met seekoeie en krokodille, of een met ’n duisend pelikane. 

Beste tyd om te gaan

Dis heel jaar lekker hier, maar vermy die natste maande – Januarie en Februarie.

Hoe lank gaan dit duur?

Gee jouself minstens ’n week om dié reis van sowat 500km te geniet.

Vir nog inligting

Besoek www.namibian.org/travel/namibia/mamili.html vir meer inligting.