1. Bande

Veelterreinbande is ’n logiese eerste stap op enige voertuig wat jy vir toere gaan gebruik.

Al die kenners wat ons gevra het, sê bande is ’n baie belangrike verbetering op ’n Land Cruiser. Sy standaard-veelterreinbande is goed genoeg vir teerpad en ’n grondpad so nou en dan, maar hulle beveel aan dat jy heel eerste ’n meer aggressiewe veelterreinband opsit wat baie duisende kilometers sal hou.

Jako Gey van Pittus van Safari Centre beveel die Hankook Dynapro AT aan, want die 80 000 km-waarborg gee jou gemoedsrus. Volgens Ewert Jooste van Rhino 4x4 is bande met ’n sterk sywand baie belangrik vir toere. Jy wil immers nie ’n band onherstelbaar in die middel van die Serengeti, baie ver van jou naaste bandehandelaar, beskadig nie.

2. Vering


As jy jou bande vervang, maak dit sin om jou vering ook te verbeter. ’n Voertuig se standaardvering is ontwikkel om veelsydig te wees. Sodra jy egter ekstra gewig inlaai, raak die vering gou oorwerk. Kyk dus vir vering met ’n goeie vragdravermoë, wat die rit gemakliker sal maak as jy die voertuig swaar laai.

Om vering te koop gaan uiteindelik net daaroor om iets te kry wat by jou begroting en behoeftes pas.

Jaco Nel van Opposite Lock gee belangrike raad: Verander eers jou vering wanneer jy weet watter ander ekstras jy gaan byvoeg. Sodoende kan jy vering kies wat die ekstra gewig kan hanteer.

Wenk: As jou 4x4 net elke wintervakansie Botswana toe ry, gaan die nuutste en duurste vering dalk nie jou beste belegging wees nie. Oorweeg lugsakke op die agteras as jy dit net een maal per jaar werklik swaar gaan laai. 

3. Langafstandbrandstoftenk

Hoe meer gewig jy op jou ryding laai, en hoe aggressiewer die band se loopvlak is, hoe swaarder is hy op sous.

’n Langafstandbrandstoftenk verbeter ’n toervoertuig se reikafstand aansienlik, en gee jou gemoedsrus as jy die onbekende invaar, waar die volgende vulstasie dalk intussen toegemaak het.

En, sê Lionel en Annalie Lewis van LA Sport, dis onmisbaar vir daai ekstra afstande wat jy moet aflê as jy die werklike mooi, afgeleë bestemmings wil bereik.

Mik vir ’n reikafstand van minstens 1 000 km. Maar hou in gedagte dat jou brandstofverbruik styg wanneer jy grondpad ry en kwaai klim op sand.

4. Dubbelbatterystelsel

As jy bos toe gaan, is daar nie ’n supermark om elke draai nie. Jy moet dus jou eie voorraad in ’n yskas saamvat.

Maar om ’n yskas op lang toere te gebruik sonder om elke dag kar te stoot, moet jy genoeg krag aan boord hê.

’n Dubbelbatterystelsel is dus nie onderhandelbaar nie, sê Mic van Zyl van Ironman 4x4.

Daar is ’n verskeidenheid stelsels op die mark, wat aangepas kan word vir al jou kragbehoeftes – van ’n yskas tot kampligte en selfs ’n omskakelaar om 220V-items te gebruik.

En onthou!
Koop die perd voor die perdekar. Elektriese toebehore soos ’n yskas of kragomskakelaar beteken niks sonder ’n ordentlike batterystelsel nie.