’n Video laat verlede jaar van ’n Ford Kuga-eienaar wat in sy voertuig verkool, was ’n angswekkende bewys van die gevaar van voertuigbrande. Wat laat ’n voertuig uitbrand, hoe kan jy dit voorkom en hoe gemaak die dag wat jý in ’n brandende ryding vasgekeer is? 

’n Slang in die gras 

In Julie 2016 (WegRy #84) het ons ondersoek ingestel na twee Toyota Prado’s wat in die Namib-woestyn uitgebrand het.

Volgens Simon Wearne van die toermaatskappy Live the Journey word daar vermoed dat die twee voertuie in dik gras gery het. ’n Klomp van die grassade het onder die voertuie aangepak en aan die brand geslaan.

Willem du Toit van Molopo Wapens & 4x4 Toere het ook vertel van talle voertuie wat hy al van uitbrand moes red nadat gras in hulle onderstelle aan die brand geraak het.

Enjinoorverhitting en veldry in lang gras is dus twee moontlike oorsake waarop jou voertuig onverwags kan vlamvat. Maar wat anders kan veroorsaak dat jou ryding skielik aan die brand slaan?  

Ken die brandgevare

Johan Meyer van J.B.’s Auto Repairs in Parow, Kaapstad, is ’n spesialis in die herstel en onderhoud van Toyota 4x4’sen ken veral sy storie met Cruisers. Hy beaam ook die risiko van grasbrande. “Dis regtig gevaarlik, veral as gras naby jou katalisator vassit.

Maar voertuie wat met die fabrikaat se standaardtoerusting gery word, gee gewoonlik nie probleme nie, behalwe natuurlik vir gras in die onderstel,” sê hy. 

Die oomblik wat jy egter modifikasies aan jou voertuig laat doen, of self doen, skep jy beslis ’n potensiële risiko, meen dié kenner. Hy wys definitiewe brandgevare uit waar voertuigbybehore nie korrek geïnstalleer is nie:

Dubbelbatterystelsels

Hierdie is een van die mees algemene gevare en ’n groot oorsaak van 4x4’s wat uitbrand. “Ek het selfs hier in my werkswinkel al amper ’n ramp gehad met ’n ou se 100-Series Land Cruiser wat byna aan die brand geslaan het. Hy’t die battery afgehaal voor hy die voertuig ingebring het, maar die kabels net so los laat lê. En soos die ongeluk dit ook wou hê, het die positiewe pool aan die onderstel geraak en dit as aardgeleiding gebruik. Alles het vuurwarm begin gloei, tot onder die matte.”

Johan verduidelik dat dit veral gevaarlik is omdat die spasie onder die matte dikwels vir bedrading gebruik word. “Dis die plek waar ’n mens gewoonlik jou radiokabels lê en as jy jou weer kom kry, slaan jou voertuig aan die brand!

“As drade eers begin gloei, bly hulle brand solank as wat hulle krag het,” sê hy, “en die isolering wat ’n mens om jou drade sit, is kos vir ’n brand.

“Ek sien baie gevaarlike setups – dubbelbatterystelsels wat verkeerd geïnstalleer is en dan boonop deur die eienaars verwaarloos word. Ek sien ook baie drade wat geïnstalleer word sonder ’n aardlekkasie. Dis baie gevaarlik. En onthou, ’n gewone brandblusser help niks vir ’n elektriese vuur nie” (jy moet ’n poeier of CO2-brandblusser vir só ’n vuur hê).

Ander bedrading

Jou voertuig se standaardbedrading is getoets om nie moeilikheid te gee nie, maar die oomblik as jy enigiets byvoeg wat nie standaard is nie – soos ’n tweerigtingradio, laaiers of ’n yskas – moet jy sorg dat dit reg bedraad word. 

“Ek sien snaakse goed. Mense vat sommer enige drade en las die nuwes daarby vir krag. Dit kan ’n gevaarlike kortsluiting veroorsaak.”

Langafstandbrandstoftenks

Wanneer dit by die installasie van ’n tweede brandstoftenk kom, is daar twee brandgevare – pype wat nie geseël is nie en brandstof lek, en pype wat nie geïsoleer is nie en te naby aan ’n uitlaatstelsel geleë is.

’n Brandstofpyp wat ’n vlambare vloeistof onder jou voertuig laat lek, is ’n ooglopende gevaar, maar ’n voldoende afstand tussen jou brandstofpype en vuurwarm komponente van die enjin is meer ingewikkeld.

“Ouens kyk partykeer sommer die installasie so en besluit die pype is ver genoeg van die uitlaatstelsel af. Maar maak ’n bietjie jou enjinkap een aand oop nadat jy ver gery het. Daai manifold word sommer witwarm!”

Uitlaat- en petrolpype moet dus so ver as moontlik van mekaar afloop, sê Johan, en moet baie goed geïsoleer wees.Verder moet jy ook so seker as moontlik wees dat enige beweging van jou voertuig nie ’n gevaar veroorsaak nie, voeg hy by. “Wat van as die voertuig artikuleer en die pyp dán teen die vuurwarm uitlaatpyp druk?

Mense kyk nie altyd daarvoor wanneer hulle nuwe brandstofpype – of elektriese drade – installeer nie.”

Vlambare vloeistowwe

“My seun se Subaru het onlangs uitgebrand nadat hy dit gemodifiseer het,” vertel Johan. “Die oliepyp het gebars en toe die olie op die vuurwarm turbo-aanjaer spuit, het dit aan die brand geslaan.

Daarom sê Johan jy moet seker maak dat enige modifikasies in jou enjinruim behoorlik gedoen word, want as enige pype loskom en vlambare vloeistowwe in dié vuurwarm omgewing rondspuit, kan daar moeilikheid kom. 

JOHAN SÊ: “Hou ’n byl in jou voertuig. As ’n kortsluiting ontstaan, kan jy die battery se kop afkap om die krag af te sny. “Ek het al ’n batterypool met die kaal hand gegryp toe dit oorverhit en dit was ’n foutjie. Daai pool word so warm, hy sal deur jou hand brand!” 

As die vlamme jou vaskeer

Terwyl die vlamme in ’n voertuigbrand die mees voor die hand liggende gevaar is, sê die paramedikus Jacques Lourens dis nie die enigste een nie. “In my ondervinding is dit dikwels die giftige gasse wat so ’n vuur veroorsaak wat mense beseer of selfs doodmaak,” sê hy.

Hierdie soort vure stel dikwels koolstofmonoksied vry, wat uiters gevaarlik is vir die menslike liggaam, verduidelik hy. En aangesien die ventilasie-openinge so te sê direkte toegang vir enige gasse van ’n vuur in die enjin na die kajuit gee, bereik daardie gasse insittendes baie gou nadat ’n vuur voor in die voertuig ontstaan het.

“Koolstofmonoksied ruik baie soos uitlaatgas, en alhoewel jou brein dalk mag agterkom dat jy skadelike gas inasem en jy begin hoes, is dit nie die geval met jou liggaam nie. Die res van jou stelsel herken dit as suurstof en absorbeer die gifgas.

Koolstofmonoksied word dus baie maklik in die bloed opgeneem, daarom kan dit die liggaam vinnig vergiftig en is dit uiters gevaarlik.”

Nog ’n gevaar is dat jou voertuig se elektriese stelsel ophou werk en jy vasgekeer word omdat die elektriese vensters en deure nie meer wil oopmaak nie. “Party voertuie het ’n aparte noodknoppie om die deure oop te sluit, maar as jy nie die vensters óf deure kan oopkry nie, is jy in die moeilikheid.”

Dís wat jy dan kan doen, sê Jacques:

Wen ’n bietjie tyd 

Terwyl jy natuurlik so gou as moontlik uit die voertuig moet kom, is ’n baie kort blootstelling aan die gas of ’n bietjie vlamme aanvaarbaar, verduidelik die paramedikus. As jy dus nie onmiddellik kan ontsnap nie, wen vir jouself ’n bietjie tyd terwyl jy ’n plan maak. “Maak al die ventilasiegate toe,” sê hy, “en as jy water en ’n lap of T-hemp byderhand het, maak dit nat en sit dit oor jou neus en mond. A klam lap koel die lug wat jy inasem af en filtreer dit ook ’n bietjie.”

Kom uit

“Baie mense glo dat jy ’n karvenster kan uitskop of met die elmboog uitslaan,” sê Jacques. “Maar ’n karvenster het te veel speling in die raam daarvoor. Jy moet dit met ’n skerp voorwerp penetreer om ’n fokuspunt vir die krag van die hou te skep. Slegs só sal jy die venster kan kraak.”Paramedici, soos Jacques, gebruik ’n vensterpons (window punch) – ’n handtoestel met ’n harde, skerp punt (sien die foto hiernaas). “Ek hou altyd een in my 4x4. Dis ’n goeie stuk gereedskap as jy uit ’n brandende voertuig moet ontsnap. En dis boonop baie nuttig vir die dag wat iets verkeerdloop in ’n waterkruising.

Myne het selfs ’n sitplekgordelsnyer (of hook knife).” Vensterponse is nie baie duur nie en jy kan een vir ’n paar honderd rand koop. “Maar hulle is uiters doeltreffend – net drie of vier houe breek ’n venster,”verseker hy. Wees egter versigtig met getinte vensters – die donker plastieklaag maak hulle taaier om te breek. 

Blus die vuur (indien moontlik)

As jy ’n vuur in die enjinkajuit moet probeer blus, is dit uiters belangrik om dit reg te benader.

“Moet nooit die enjinkap oplig nie,” waarsku Jacques. “Dit sal die vuur net meer suurstof gee en dit vererger. Knip dit net oop en spuit jou brandblusser se hele inhoud daarin.”

’n Koolsuurgas-blusser werk die beste hiervoor, sê hy, want die gas vul die enjinruim en sal hopelik die vuur smoor.

Wat die grootte van jou brandblusser betref, is groter natuurlik altyd beter. “Die prysverskil is nie só groot nie. 

Maak net seker jy koop een wat in die kajuit pas en wat jy binne maklike bereik kan hou.”

Ondersoek die wonde 

Sodra jy uit die voertuig en op ’n veilige afstand van die brand is, laat weet die nooddienste (indien ’n omstander dit nie reeds gedoen het nie) en doen ’n inspeksie van moontlike brandwonde. Al kan jy hulle dalk nie self behandel nie, kan dit paramedici help om te weet wie’t die dringendste hulp nodig wanneer hulle op die toneel kom.

“Die sensitiewe areas van die gesig, mond, nek en geslagsdele is baie belangriker as die res van die liggaam. As jy daar brandwonde sien, moet jy weet dis ernstig.

“Brandwonde in die gesig en nek kan ’n aanduiding wees dat die persoon interne skade opgedoen het deur vlamme in te asem en die lugweë te brand.”

Luister ook vir moeilike asemhaling, ernstige hoesbuie en ’n fluitende bors. Dis alles moontlike aanduidings van boonste lugwegskade ná ’n brand.

“Selfs al het die person slegs ’n klein bietjie vlamme ingeasem, kan dit katastrofiese gevolge hê,” waarsku hy. 

HOU DÍT IN JOU VOERTUIG

  • ’n Brandblusser of ’n Fire Stryker (’n kompakte brandblusser-“stok” wat nooit verval nie – www.firestryker.co.za). Koop die grootste brandblusser wat jy in jou kajuit kan hou en maak seker dit kan elektriese vure ook blus.
  • Vensterpons. Hulle is nie veel groter as ’n volwassene se hand nie, maar kan ’n venster gou-gou breek. Soek een wat ook ’n sitplekgordelsnyer het (www.B-Safe.co.za).
  • Burnshield-pleisters of hidrojel (www.burnshield.com), gaas en verband.
WENK
As jy nie ’n vensterpons byderhand het nie, verwyder die kopstuk op een van die sitplekke. Die twee metaalpenne wat dit in plek hou, kan gebruik word om die venster mee te breek. Sommige messe het ook ’n punt soortgelyk aan ’n vensterpons s’n op die hef, gemaak vir hierdie doeleinde, en iets soos ’n Leatherman of enige ander goeie mes se hef kan dieselfde werk doen.