Dis nie net onervare buitelandse toeriste wat onder wilde diere in Suider-Afrika deurloop nie. Diere-aanvalle is ’n risiko vir enigiemand wat in die veld kamp of ry. En behoede jou as jy diep in die bos vasval en te voet moet hulp soek waar daar gevaarlike diere rondloop. As jy dán nie weet hoe om op te tree nie, word jy dalk leeukos.

Ons het by Riaan Haasbroek, eienaar van Bushward Safari’s en ’n lopende diere-ensiklopedie, gaan aanklop vir raad oor hoe om teenoor wilde diere in die natuur op te tree. Dié Pretorianer spandeer tot sewe maande per jaar in die veld, waar hy bostoere lei en oorlewingskursusse aanbied. Riaan het ook ondervinding in wild- en omgewingsbestuur, was al by menigte wildopsporing- en wildvangoperasies betrokke en het self al deurgeloop onder wilde diere.

“Net nou die dag het ’n beneukte olifant my tent vertrap in Namibië! Mense misgis hulle dikwels met diere. En sonder die nodige kennis is dit neusie verby.”

Weg Ry en Sleep sê:
As jou lewe in gevaar is, is dit een ding, maar moenie ’n dier mishandel deur hom in die gesig te skiet met jou kettie of onder klippe te stook net omdat hy in jou kamp rondsnuffel nie. Onthou, in die natuur is jy ’n gas in húlle wêreld.

Hier is Riaan se raad.

Leeus

Leeus kom veral voor in die Kalahari, Laeveld, Chobe, Moremi, Savuti en die Khaudum-omgewing, asook ander woestyngebiede van Namibië en die Sentraal-Kalahari in Botswana. Jy kry hulle natuurlik ook in die Krugerwildtuin en ander Suid-Afrikaanse parke, maar agter ’n heining.

In die kamp:

  • Bewaar jou vullis – moet nooit oorskiet in die veld of in kampasblikke gooi nie. Moet dit ook nie probeer verbrand nie – die reuk kan kilometers ver trek.
  • Hou vuil kospotte ver weg van jou slaapplek.
  • As jy badkamer toe gaan, maak seker daar is nie leeus naby nie, en stap verkieslik in pare sodat iemand kan waghou.
  • As ’n leeu jou kos probeer vat, los hom – eerder jou kos as jou lewe.
  • As leeus op ’n afstand rondsnuffel, verblind hulle met ’n flits en maak ’n lawaai, of gooi ’n klip of ’n stok in hulle rigting om hulle te verjaag.
  • Indien hulle aggressief is, klim dadelik in ’n voertuig of chalet. ’n Tent gaan nie veel help nie.
  • As ’n leeu aan jou tent kom ruik terwyl jy binne is, moet nooit die seil klap of geraas maak nie. Los hom, hy sal rondsnuffel en verbyloop.
  • Moet nóóit kos in jou slaaptent bêre nie.
  • Hou jou karsleutels byderhand. Mense kon al leeus verjaag deur hulle karalarms of toeters te aktiveer.
  • 'n Groot vuur help, maar baie diere is al gewoond daaraan.

In die veld:

  • As jy in ’n noodsituasie moet stap waar leeus is, loop in pare – een persoon kyk vir die pad en ontsnaproetes, die ander een vir leeus.
  • Neem ’n pot en ’n spaan of lepel saam om geraas te maak.
  • Hou ’n paar klippie of ’n kettie byderhand.
  • As leeus jou raaksien, moet nóóit weghardloop nie. Kyk vir die dier, beplan ’n ontsnaproete na die naaste baie hoë boom en stap stadig agteruit.

Riaan sê: As jy hardloop, is jy leeukos.

Olifante

Botswana het die grootste olifantbevolking in Suider-Afrika, gevolg deur Zimbabwe, met meer as die helfte in die noordweste. Olifante kom ook wydverspreid in Namibië, Suid-Afrika en Mosambiek voor.

In die kamp:

  • In ’n omheinde kampterrein, slaan minstens 3 meter van die grensdraad kamp op. Olifante het al tente teen grensdrade uitmekaar geruk.
  • In oop kampe, kyk vir olifant- of wildpaadjies en sorg dat jy nie daarin tent opslaan nie, veral nie naby ’n watergat nie.
  • Moet nooit onder vrugtebome tent opslaan nie.
  • Sorg dat jou kos verseël en toegesluit is, en moenie kos in jou slaaptent hou nie, veral vrugte. Pasop vir sitrus – dit trek olifante byna soos ’n dwelm aan.
  • Olifante gee gewoonlik pad vir ’n lawaai, byvoorbeeld ’n deksel op ’n pot of handeklap.
  • Wees baie versigtig vir troppe. As hulle in jou kamp kom, moet hulle nie probeer verjaag nie. Hulle stap gewoonlik gou deur.

In die veld of op die pad:

  • Moet nooit ’n olifant tussen jou voertuig en bosse of bome in ’n hoek druk nie.
  • Pasop vir tienerolifante. Hulle maak dikwels net of hulle storm, maar as jy nie padgee nie, kom die ma en storm jou régtig. 
Wees bedag op dié gevaartekens:

1.    Hy hou op vreet en het gras in sy mond.

2.    Hy trap onrustig rond.

3.    Hy lig sy slurp skielik op.

4.    Sy ore maak oop en hy begin trompetter.

Riaan sê: Met olifantbulle moet jy op die uitkyk wees vir trane uit die klier tussen die oog en die oor, asook ook die drup van urine. Dit beteken die dier is bronstig en uiters onvoorspelbaar.

Seekoeie

Seekoeie is meestal net in die nag en laatmiddag of vroegoggend aktief wanneer hulle na en van weidingsgebiede beweeg.

In die kamp:

  • Gooi iets in sy rigting of maak ’n lawaai.
  • Soek na ’n hoë hindernis, soos ’n voertuig, of selfs ’n tent. Met hulle kort beentjies kan seekoeie vinnig storm, maar nie oor hoë hindernisse kom nie.
  • As hy begin hardloop, moet hom nie probeer verjaag nie. Kom so vinnig as moontlik uit sy pad uit.
  • Seekoeie hardloop in reguit lyne en kan nie maklik draai as hulle op spoed is nie. ’n Vinnige systap kan jou lewe red (Vra vir Cheslin Kolbe. – Jaco).
  • ’n Flits gaan ’n seekoei waarskynlik net verder irriteer.

In die veld of op die pad:

  • Die grootste gevaar is wanneer jy tussen ’n seekoei en die water kom. Indien dit gebeur, maak die pad oop en laat hom deurgaan.
  • Moet nooit tussen ’n ma en haar kalf kom nie.
  • As jy te voet is, kry onmiddellik hoogte, soos ’n groot klip, koppie of boom.

Riaan sê: “As ’n seekoei eers storm, keer niks hom nie.”

Hiënas

Hiënas kom veral voor in die Moremi en Savuti. “Hiënas is ongelooflik skelm,” sê Riaan. “As hulle agterkom jy’t kos, kom hulle keer op keer terug en bekruip selfs jou kamp vanuit verskillende hoeke.”

In die kamp:

  • Sit al jou kos en vullis in jou voertuig.
  • As hiënas rondsnuffel, skiet hulle met ’n kettie of gooi iets in hulle rigting.
  • Klap jou hande hard, skree of skop ’n klomp stof op.

In die veld:

  • Indien jy op ’n trop hiënas afkom, pasop – hulle is op ’n jagtog. Sorg dadelik dat jou mense veilig is en klim so gou as moontlik in jou voertuig.

Riaan sê: “Hiënas verstaan nogal ‘voertsek!’

Slange en skerpioene

Suider-Afrikaanse slange hiberneer nie. Hulle is minder aktief in die winter, maar slange en skerpioene is heeljaar ’n gevaar.

In die kamp:

  • Hou jou tent toe.
  • Sit jou skoene op jou voertuig eerder as voor jou tent.
  • Wees veral versigtig terwyl jy tent afslaan.

In die veld:

  • Kyk uit vir slange in termietneste, gate onder boomstompe en blaarhope onder bome.
  • Pasop vir skerpioene wanneer jy klippe en vuurmaakhout optel.

Riaan sê: Slange én skerpioene hou van houthope in die veld.