Iemand het op ’n slag gesê: “Ons reis nie om van die lewe weg te kom nie, ons reis sodat die lewe nie van ons wegkom nie.” So kry ek eendag uit die bloute ’n SMS van my pêl Jan Draaitjies. Dit lui: “Ons moet gaan leeus soek in Mabua. Ek het plek gekry in die eerste week van November.

Deur die jare het Jan ’n probleem met Mabua se leeus opgetel. In sy vorige vyf besoeke het hy en sy vrou, Marina, nie een keer leeus gesien nie. Dit het hom gepla. Wat mý baie gepla het, is dat die Kalahari nie jou speelmaat is in die somer nie. Dit word hel warm en om in temperature van 45 grade Celsius in tente te kamp, is nie pret nie.

Maar ’n reisiger sê nie sommer nee vir ’n uitdaging nie en so het die “Kubu Kartel” se drie stigterslede Kalahari toe gery.

Ek en Con Nieuwoudt uit Polokwane en Jan Draaitjies en Marina uit Kimberley. Vriend Con met sy Land Cruiser VX en boskaravaan is vergesel deur sy vrou Marianne en sy ouers, Neels en Rina Nieuwoudt. My gesin was besig met skoolsake en kon nie die toer meemaak nie. Dit was net ek en Leandri Steenkamp, Jan en Marina se dogter, wat op Bela-Bela woon.

Ons het gery met Kaptein, my Land Cruiser GX wat ek twee maande vroeër gekoop het om ou Obelix as boskar te vervang ná laasgenoemde in Makuya uitgebrand het. Jan (Draaitjies) en Marina Steenkamp sou ons by die hoofingang van Mabuasehube inwag. Hulle het met Boerboel, ’n 80-reeks Land Cruiser GX petrol getoer, en agter die Cruiser het Skilpadtepel, ’n omgeboude boswaentjie, gedraf.

Dag 1:  Zeerust na Mabuasehube

Ons het die grens by Skilpadhek oorgesteek en koers gekies in die rigting van Jwaneng, toe deur Jwaneng en wes by Sekoma. Van hier af het ons tot net voor Kokotsa gery, en toe tot teen die noordelike grenshoek van Mabua. Dis ’n riller van ’n pad. As sinkpaaie militêre range gehad het, was dié pad ’n Generaal.

Alles het geskud en geratel, of jy nou 40 km/h of 140 km/h gery het. Ons het die banddruk vroeg-vroeg na 1,1 bar laat sak, wat ’n bietjie gehelp het.

Soos met enige slegte pad kom dié een ook tot sy einde en ná 107 km het ons in ’n suidelike rigting geswenk en teen die park se grenslyn afgery. Dis ’n lieflike oopgeskraapte kaplyn.By die hoofhek het ons die nodige papierwerk gedoen en die Steenkamps ontmoet.

Die toergroep was voltallig. Ná die groot gegroet het ons koers gekies Mabua-pan toe, waar ons die eerste nag gekamp het. Dit het teen vroeg  November nog nie baie gereën nie, maar die Kalahari het goed gelyk.

Daar was baie gras en die meeste van die bome se blare het reeds uitgeloop. ’n Fris suidewindjie het ons koud laat kry, maar ná die lang reis was ons dankbaar om om die vuur te kon kuier.

Myle se lekker sandpad. Blaas maar die wiel so bietjie af vir die sandpadry.

Dag 2: Mabua-pan na Lesholoago-pan

Vroegoggend het die koffieketel sy ding gedoen en die toerlede en beskuit het te voorskyn gekom. Vanaf ons kampplek was die uitsig oor Mabua-pan  onbelemmerd. Die leeus was doodstil deur die nag. Mabuasehube is ’n groot plek, omtrent 2 000 km² (dis groter as die hele Johannesburg, Soweto ingesluit), met verskeie panne, en ons het net vyf dae gehad om die leeus te soek.

Hier is beslis leeus. Ons het hulle spore die vorige dag naby die hoofhek gekry, volgens die afdrukke ’n mooi troppie wyfies met kleintjies. Dis ’n goeie teken.

Ons het noordoos na Lesholoago-pan gery, sowat 12 km van Mabua af. Dis seker net ’n derde so groot soos Mabua-pan en hier is net twee kampplekke, teenoor die vier by Mabua. Die twee kampe by Lesholoago is ook ver uitmekaar, maar albei het ’n puttoilet, water en koue opelugstorte. Ons het vir twee nagte kamp opgeslaan op staanplek 2.

Die watergat is skaars 150 m van kamp 2 af. Drinkgate is nie volop in Mabua nie en die groep het gemeen die watergat is belowend vir wildkyk. Ek het my daktent só opgeslaan dat ek die watergat goed kon sien.

Daar is meer wild by Lesholoago as by Mabuapan. ’n Troppie springbokke het rustig in die middel van die pan gewei terwyl drie rooijakkelse oor ’n korhaan baklei het. ’n Rooihartbees het ook aangemeld en ons het besluit om die middag in die kamp deur te bring en die watergat dop te hou.

Laatmiddag het dit begin koud word en ons het baadjies begin gryp. Moeilik om te glo dat jy in November nog om ’n vuur kan sit en bibber. Ons was verras toe ’n vinnige reënbui ons na ons tente gejaag het. Ná sononder het die wind effens bedaar en het ons heerlik om die vuur gekuier. Ek en Jan Draaitjies het besluit om skaapafval te maak, want Jan het wraggieswaar ’n drukkoker saamgery!

Elke keer as die pot stoom afblaas, is die kamp gevul met die heerlike reuk van kerrie-afval. Wel, heerlik vir my en Jan. Die res van die geselskap het baie subtiel windop geskuif.

Dag 3: Lesholoago-pan na Mokgalo-pan

Die volgende dag het ons ’n lekker wye draai gery om die omgewing te verken en die voertuigbatterye te herlaai. As jy Mabua besoek, moet jy álles saamneem. Daar is niks – geen winkels, vulstasies of slaghuise nie. Selfs jou vuurmaakhout moet saamgery word.

Die kampyskaste en voertuigbatterye kreun om die vrag vleis, ys, drinkgoed en eetgoed koud te hou. Ons het in die rigting van Mokgalo-pan gery. Die dag was windstil en die temperature het vroeg-vroeg begin klim. Die roete het weer aan die noordekant van Mabua-pan verbygeloop en ons het baie wildsoorte gesien: steenbokke, duikers, gemsbokke, rooihartbeeste, jakkalse en ’n horde korhane en roofvoëls. Maar geen leeus nie. Nie eens spore nie.

Ná ’n ligte middagete onder ’n groot swarthaakboom by Mokgalo-pan het ons op die mooi tweespoorpaadjie na Lesholoago gery. Terug by Lesholoago-pan het ’n troppie springbokke aan die speel geraak. In die groepie was vier jonges, laasjaar se lammers. Hulle het uitbundig gehardloop en met al vier pote hoog in die lug gespring. Dan hang hulle vir ’n breukdeel van ’n sekonde in die lug voordat hulle weer grondvat en in die lug spring. Die kaperjolle het selfs ’n paar van die ouer bokke aangesteek.

Toe die son water trek, het dit weer ’n heerlike aand geword. Aan die ander kant van die pan het ’n dik laag spierwit wolke op die horison gelê. Ná ete merk ons die wolkbank het lewe gekry. Bliksemstrale het onophoudelik oor die breedte van die wolkmassa gespeel, wat besig was om in ’n reuse-stormwolk te ontwikkel.

Ons is deur ’n regte Kalahari-donderstorm getref. Ek wou dit nog altyd beleef het: van die rustige reus wat doer op die horison lê tot die blitsende, bulderende massa wat aanrol soos ’n springgetybrander, die stormwind wat groot druppels reën teen ’n hoek op jou neerslinger. Dit was ’n onvergeetlike ervaring.

Almal buiten ek en Con het vir hulle tente geduik, maar ons het onder die afdakkie bly staan. Ons het dit selfs met ’n rooiwyntjie gevier. Toe die storm bedaar het die wind gaan lê en het die maan en sterre weer te voorskyn gekom. Ons het eers ounag gaan slaap. Dit was ’n besonderse aand.

Die A-raam is basies die enigste geriewe hier.

Dag 4: Lesholoago-pan na Mpayathutlwa-pan

Ná die vorige nag se storm het die veld heerlik vars geruik en het die lug blou geskyn. ’n Hiëna het in die nag kom kuier, maar steeds geen leeus nie. Nie eers naby die drinkgat nie.Ons het rustig kamp opgebreek en was reg om die pad te vat, maar toe ek Kaptein se sleutel draai, het hy net geklik. My Cruiser was morsdood. Ek het gespanne gelag en vir Jan beduie my batterye is pap.

Hy het na Boerboel gestap en die sleutel gedraai. Sy Cruiser het nie eens “klik” gemaak nie. Jan het ook nou gespanne gelag en ons het albei hoopvol na Con gekyk. Hy het na sy voertuig gestap, ’n oomblik geaarsel, en die sleutel gedraai. Die oggendstilte is verbreek deur die pragtige klank van ’n aansitter wat flink draai en ’n sessilinder-dieselenjin wat lewe kry.

Boerboel en Kaptein het die nodige aarvoeding gekry en ons kon in die pad val.Die plan was om via Khiding-pan na Mpayathutlwa-pan te reis en ’n ligte middagete by Khiding-pan te eet.

Spoorsny was ’n plesier, want ná die reën kon ons maklik onderskei tussen ou en nuwe spore en duidelik sien watter diere in die omgewing was. Ons het rustig in Khiding se rigting gery en oor en weer oor die radio geklets. Dit was ordentlik warm, hier in die lae 40’s volgens die voertuie se meters (wat ek wel soms met ’n knippie sout neem).

By Khiding het ons vir die eerste keer ander mense gesien, altans, één ander mens. Jan Coetzee het toe al drie weke lank stoksielalleen gereis. Hy het die vorige nag by Khiding geslaap, maar hier is ook nie leeus nie, het hy gesê. Nes ons het Jan ook vir die volgende drie dae by Mpayathutlwa-pan bespreek. Hy was op kampplek 1, ons by nommer 2. By Mpayathutlwa-pan is ons verras met ’n pragtige kamp tussen groot kameeldoringbome.

Hier was ook net twee staanplekke. Kamp 1 het ’n puttoilet en ’n stort, kamp 2 het net ’n puttoilet. Dis duidelik dat albei kampe maar die stort by kamp 1 moes gebruik. Omdat my en Jan se batterye die stryd teen die yskaste verloor het, het ons Jan se sonpanele as impakspelers gebruik om die agterstand te help uitwis.

Ons het die middag gebruik om batterye te herlaai, los konneksies te herstel en die voertuie reg te pak. Laatmiddag het ons ’n draai om die pan gery: Con kloksgewys en ek en Draaitjies antikloks. Toe kraak Con se stem skielik oor die radio: “Julle moet kom. Ons het leeus gekry.” Almal was opgewonde, maar ons was net betyds om die leeu se stert in die bosse te sien verdwyn.

Con-hulle daarenteen, het die yslike mannetjie in die paadjie gevolg tot waar hy by die kampstort gaan water drink het, en toe weer rustig oor ’n kaal stuk grond bosse toe gestap het.

En natuurlik het Con en oom Neels nie een ’n kamera by hulle gehad nie, terwyl my en Jan se groepies soos paparazzi lyk. Daar was blykbaar ook ’n wyfie wat in die bosse bly lê het terwyl die mannetjie gaan water drink het.

Dis nie altyd so maklik om 'n leeu in Mabua te sien nie.

Ons is teleurgesteld terug kamp toe. Dit moet ’n paar wees, het ek gedink. Ons was skaars ’n halfuur terug in die kamp toe ek weer ry, met die opdrag aan die ander twee om hulle radio’s aan te los en te luister as ek roep. As daai ’n paar is, beweeg hulle nie ver nie, het ek gereken. En al kan jy hulle nie sien nie, moet jy hulle kan hoor. Ek het die gebied waar hulle laas was gefynkam, maar kon niks kry nie. Toe gaan ek terug na die stort waar die mannetjie water gedrink het, en volg sy spore tot waar dit in die swarthakbosse verdwyn het, basies op die grens van kamp 1.

Hier het ek die voertuig afgeskakel en aandagtig geluister. Na sowat 20 minute het ek die onmiskenbare gebrom van ’n leeumannetjie gehoor. Ek het ’n halwe voertuiglengte vorentoe beweeg en die mannetjie en wyfie gevind waar hulle in ’n oop kol tussen die swarthakbosse lê en kafoefel. Ek het die ander twee voertuie oor die radio geroep en ons het die laaste stukkie sonlig saam met die twee leeus geniet. Toe kon ons tevrede terugkeer kamp toe.

Daai aand het ons ingenome om die kampvuur gesit en in die amperse volmaan geluister hoe die leeus aanhoudend brul.

Dag 5: Mpayathutlwa-pan

Die volgende dag was ’n “doen wat jou hand vind om te doen”-dag. Die meeste van ons het ’n leesding saamgebring. Party toerlede het ’n laat ontbyt gemaak, ander het sommer net leeggelê.

Ek het vroegoggend gaan loer of die leeus nog daar was, maar het hulle spore naby ’n kalkklipbank verloor. Die temperatuur was weer in die veertigs, maar daar het darem ’n briesie geroer. Deur die loop van die dag het almal ’n stort gevang – dis nou by dieselfde stort waar die leeu water gedrink het. Ons het die stort “Leeudril” gedoop. Hier stort jy om klaar te kry, want jy het nie lus om deur ’n leeu betrap te word nie.

Gelukkig het die stortsake sonder voorval verloop. Die alleenreisiger Jan Coetzee het deur die loop van die dag kom inloer en ons het hom vir ’n braai oorgenooi. Jan Draaitjies se kosmaakplanne ken geen einde nie. Hy het al die pad van Kimberley sy Cobb-oondjie saamgery, asook twee skaapkoppe. Ek hou van gebakte skaapkop en Jan weet dit. “Vanaand eet ons skaapkop,” het hy triomfanklik verklaar terwyl hy die koppe in die lug hou. Ek en Jan het dus skaapkop in die Cobb gemaak, terwyl die res van die geselskap “beskaafde kos” op die kole gekook het.

Geen hotel het 'n beter uitsig nie.

Dag 6: Mpayathutlwa-pan

Vroegoggend al het ek aan die vuurtjie gekrap vir ’n bietjie koffiewater. Dit is gewoonlik Jan se voorreg, maar hy “lê in” vandag. Ons het weer ’n stillerige dag beplan, maar dit was in orde, want ons het eintlik Khiding-pan toe gery om die sonpanele te help om die batterye te laai.Op elke toer is daar ’n voorval.

En ons s’n het op hierdie dag plaasgevind. My raad aan medetoerlede is altyd om hande te klap en ’n kabaal op te skop as jy die “geriewe” wil gebruik. Dit lyk dalk komieklik, maar dit waarsku ’n niksvermoedende leeu of luiperd wat dalk lê en slaap op die koel betonvloer dat jy op pad is.

Die oggend het Con puttoilet toe gegaan en van hierdie goue reël vergeet. Hy was al gereed om die gerief te gebruik toe hy skielik ’n gekrap van naels en ’n helse lawaai hoor.

Die volgende oomblik het ’n gedoente met die spoed van wit lig uit die puttoilet se gat gevlieg en Con is met gepaardgaande spoed en byklanke by die deur uit.

’n Uil het skuiling in die toilet gesoek. Maar niemand sien kans om ’n puttoilet met ’n leeu óf ’n uil te deel nie.Terug by die kamp op Mpayathutlwa het almal ’n lekker middagslapie deurgewerk. Almal behalwe Con. Die res van die dag het ons boek gelees, tydskrifte deurgeblaai en die wild op die pan deur die verkykers dopgehou.

Daar was geen teken van leeus nie, maar die “Leeudril” is steeds met die nodige spoed en versigtigheid afgehandel.

Hoewel die temperature diep in die 40’s was deur die dag, het dit saans lekker afgekoel. Op ons laaste aand in Mabua het ons weer vir buurman Jan oorgenooi. Teen die tyd was ons al ou vriende. Ons het ’n pragtige maansopkoms gesien. Dit was volmaan en die hele wêreld om ons was helder verlig.

Nie lank ná ons gaan lê het nie, het ons die eerste kragtige brul gehoor, sommer naby. Die leeus was terug. Hulle was reg om die kamp en het die hele nag gebrul. Ons het nie veel geslaap nie, maar ook nie veel omgegee nie. Dis mos hoekom ons gekom het.

En toe daag hy op.

Dag 7: Mpayathutlwa-pan na Piet Plessis

Ondanks die brullery was ek die volgende oggend vroeg uit die vere. Con was ook op en ek het hom gevra om sy radio aan te skakel. Ek het die daktent so stil as moontlik afgeslaan en saggies uitgery. Die leeuspore het tot by ons kamp geloop, maar dan weer weggedraai na kamp 1 toe. Ek het dit gevolg. Die son het pas sy kop uitgesteek toe ek die leeus by kamp 1 gewaar.

Drie mooi mannetjies en ’n wyfie. Een van die mannetjies was mank en dit was duidelik dat daar ’n groot skermutseling onder die manne was om die wyfie se guns te wen. Jan Coetzee was reeds besig om foto’s te neem en ek het die ander twee voertuie oor die radio laat weet. Die twee mannetjies het tussen die stort en kamp 1 se afdak op ’n oop kol sand gelê, terwyl ’n paartjie ’n ent voor kamp 1 se afdak in die oopte was. Met tussenposes het al die mannetjies water by die stort se afloop gaan drink.

In ’n stadium het die groot mannetjie met sy lang lyf selfs binne-in die stort geklim om die water beter by te kom. Dis hoekom mens nie vroegoggend stort in die Kalahari nie, het ek gedink.

Maak maar 'n lawaai as jy badkamer toe gaan.

Ons het net weer besef hoe groot ’n volwasse Kalahari-leeu werklik is. ’n Mannetjie se skouers staan tot 1,2 meter hoog en hy kan tot 225 kg weeg. Dit laat mens klein voel. Dit was die hoogtepunt van die toer. Ná ons lank vir hulle gekyk het en genoeg foto’s geneem het, het ons teruggery na kamp 2. Jan Coetzee het saamgery. Sy voertuig is só ingerig dat hy binne-in kan slaap, maar die leeus het hom heelnag wakker gehou.

Hy het maar ons ablusiegeriewe kom gebruik – siende dat syne die hele dag deur die leeus beset is. Ons was baie dankbaar dat die leeus ons rytog na Piet Plessis in Noordwes ’n bietjie vertraag het.

En só is Jan Draaitjies se leeudroogte op hierdie toer uiteindelik gebreek.


Hierdie artikel het in 2016 op Weg se webtuiste verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy iets raaksien.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook