Die beste ding wat jy met ’n waterhindernis kan doen, is om dit te vermy. As water of modder by jou luginlaat, ewenaar of ratkas insypel, sal dit beskadig word. In die ergste situasie kan jou motor heeltemal wegspoel. As jy egter aan die ander kant moet kom, gebruik hierdie raad:


Hou die vloei van die water dop

Vinnig vloeiende water het ’n helder oppervlak en stewige basis, maar stadig vloeiende water is gewoonlik modderig.

Loop daardeur

Volg die lyn wat jy beplan om te ry te voet. Eers in die beoogde pad vir die een stel wiele, en dan op die beoogde lyn vir die ander stel wiele. Jy kan ook ’n stok of jou hande gebruik om te voel vir versteekte gate en groot rotse. Waar moontlik, merk hierdie gate met stokke wat uitstaan, of laat van jou passasiers daar staan as dit veilig is. Maak net eers seker daar is nie krokodille of seekoeie nie. Kyk ook uit vir ’n “middelmannetjie”, want dit is gewoonlik waar jy vasval.

Toets die diepte

Maak seker dit is vlakker as jou voertuig se dompeldiepte en kyk of die watervlak styg of daal. ’n Rivier styg dalk vinnig ná ’n harde reënbui. As jy dus van die plaaslike inwoners daar sien, vra hulle uit oor die toestand van die rivier om slegte verrassings te voorkom.

As die water te sterk loop dat jy kan deurstap, sal jy ook nie daardeur kan ry nie. En as die water nie onderdeur jou voertuig kan vloei nie, moenie dit probeer oorsteek nie.

Berei die motor voor

Maak die herwinningsbande vas sodat dit binne bereik is en gooi die dompeldeken (sommige praat van ’n “karbra”) oor die verkoelerrooster. As jy niks anders het nie, behoort ’n vullissak en duct tape die ding te doen. Onthou om die bande vas te maak, want los bande kan onder die water verstrengel raak en jou terughou.

Maak die enjinkap oop en maak seker dat die vuldoppe almal heel en vas is. Anders kan water daar invloei.


Maak jou voertuig se vensters oop en jou sitplekgordel los

Dit maak dit makliker as jy uit jou voertuig moet vlug.

Kies die regte rat

Sit die voertuig in laestrek 1 of 2, en aktiveer die ewenaarslotte. Kies dan ’n spesifieke punt of teiken aan die oorkant van die kruising, in lyn met die roete wat jy wil neem. Ry in hierdie rigting terwyl jy die hele tyd jou oë op daardie punt hou.

Let op die hoek waarteen jy die water moet in- en uitgaan. Ry die water stadig en versigtig binne, en bou dan momentum op. Daar moet ’n boeggolf voor jou motor wees. As die water begin opbreek of wit skuim voor jou beland, ry jy te vinnig. Probeer om nie jou koppelaar binne die water te gebruik nie en hou jou momentum. Die water moet nooit oor die enjinkap vloei nie.

As die voertuig doodruk en daar is die geringste van kanse dat water in die waterinlaat gaan beland, moenie die enjin weer aanskakel nie. Begin dit dan herwin.

Laastens, onthou dat jou voertuig die uitgaanpunt sal natmaak, wat sal beteken dat die voertuig agter jou in die konvooi minder traksie sal hê.