Dis vanjaar die vyfde jaar wat WegRy sy jaarlikse 4x4 van die Jaar-kategoriewenners aanwys. Ons toekennings is anders as dít wat elders in die bedryf gedoen word en is uniek om die volgende redes:

1. Ons neem alle voertuie in ag. In gewone Motor van die Jaar-toekennings word daar slegs gekyk na voertuie wat die vorige jaar bekend gestel is. Ons glo dis nie realisties nie, want wanneer ‘n koper in ‘n ryding belangstel, kyk hy of sy nie na die heel jongste model nie, maar na alle voertuie in ‘n gegewe segment, selfs dié wat twee of drie jaar tevore bekendgestel is.

2. Ons vergelyk appels met appels. Ons dink nie dis reg om byvoorbeeld ‘n sedan, ‘n sportnutsvoertuig, ‘n dubbelkajuitbakkie en ‘n sportmotor teen mekaar te laat meeding nie, want hulle is op totaal verskillende kopers gerig. Daarom vergelyk ons byvoorbeeld bakkies met bakkies, en sportnutsvoertuie met sportnutsvoertuie.

3. Ons neem verskeie faktore in ag. Dis een ding om ’n voertuig te bestuur. Maar wat van sy prys, toerustingvlakke, die tegnologie wat hom uniek maak, of sy betroubaarheid’n

4. Ons werk vir ons teikenmark. Ons kyk na voertuie se geskiktheid vir ons lesers en die breër Suid-Afrikaanse publiek.

5. Ons is onafhanklik. Ons besluite word intern geneem en ons as redaksie het 100% beheer daaroor.  


Toyota Fortuner GD-6 4x4 Outo


Dis dalk net die afdeling vir dubbelkajuitbakkies waar die hare meer waai as met sportnutsvoertuie. En laasjaar het vir ’n effense opskudding gesorg tot die Ford Everest 3.2 TDCi XLT as wenner in hierdie afdeling aangewys is. Maar met die verouderde Fortuner wat toe al aan ’n hartlongmasjien gekoppel was, en die vars, nuwe benadering van die Everest, was dit uiteindelik nie ’n moeilike keuse nie.


Maar met die bekendstelling van die jongste Fortuner verlede jaar, het Toyota weer daarin geslaag om die bordjies te verhang. Oplettende lesers mag dalk vra hoe die nuwe Fortuner die Everest kan troef as ons dink dat die Ranger beter as die Hilux is? 

Dis belangrik om te besef dat waar die ou Hilux en Fortuner binnelangs basies identies was, dit nie die geval met die huidige Hilux en Fortuner is nie. Die nuwe Fortuner is, soos ons voorheen al geskryf het, nou basies ’n “Prado Lite”.

En sy binneruim is ’n reusestap vorentoe met afwerkingsvlakke wat regtig beïndruk. Die enigste klad is die derde ry sitplekke wat regtig net as ’n  nagedagtenis iewers vasgebout is, nes met die vorige Fortuner. Die feit bly egter staan dat hulle ook maklik uitgehaal kan word, wat waardevolle ekstra pakplek vir ’n 4x4-ekspedisie bied. Dus kan dit deur sommige selfs as ’n positiewe gesien word.

Daar is ’n  paar ander dinge wat ook in die Fortuner 2.8 GD-6 outomaties se guns tel, en dit het te doen met die Hilux se sterkste punte, naamlik die enjin en ratkas.

Daar is geen twyfel dat die Fortuner se enjin vinniger reageer tydens versnelling as die Everest s'n nie. Dit kan nie oor blote kragsyfers gaan nie, want die Toyota ontwikkel 130kW en 450Nm, teenoor die Ford se 147kW en 470Nm. Tydens versnelrenne het die groter Ford geen voordeel oor die Toyota se enjin nie – iets wat ons ook met die Hilux en Ranger agtergekom het.

Die ander afdeling waar die Fortuner ook baie goed vaar, is sy meer verfynde outomatiese ratkas, wat nie net blitsvinnig oorskakel nie, maar wat ook baie sensitief reageer teen lae snelhede in laestrekratte. Dit stel ’n mens in staat om baie stadig en met ’n  akkurate versneller oor uitdagende kliphindernisse te luier, iets wat baie moeiliker met die Everest was – wat of gaan staan het, of weg wou spring as jy daarna die versneller ’n aks te ver getrap het.

Boonop is die Fortuner se 279mm grondvryhoogte aansienlik beter as die Everst se 225mm, en dis iets wat duidelik was oor ons rotsbesaaide toetsbaan buite Stellenbosch.


* Onthou: Hierdie is 'n lys van wat ons dink die beste voertuie in hulle onderskeie segmente is. Dit beteken nie dat die ander voertuie in hierdie segmente gemors is nie. In sommige segmente – en hier dink ons veral aan dubbelkajuitbakkies – is die verskil 'n polonieskildikte (tydens 'n depressie en 'n droogte) en moes ons hare kloof om 'n wenner aan te wys.

Hou ons webwerf en Facebook-blad dop vir die ander segmente se wenners.