’n Aartappelslaai sonder mayonnaise? Ja! Jy kan die sous in die kampterrein maak en met ’n vurk fyndruk en meng, maar dis tog romeriger as jy dit in ’n versapper glad pols – maak die sous dus die aand voor jy ry en gooi dit by die kamp oor die slaai.

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 4 mielies
  • 2 rooi soetrissies
  • 1 kg aartappels
  • 1 avokado
  • ½ koppie Bulgaarse jogurt (of gebruik karringmelk)
  • 1 koppie fyngekapte koljanderblare
  • 1 knoffelhuisie, gerasper
  • 1 rooi brandrissie, fyngekap (of gebruik 1 teelepel rissiesous)
  • sap van ½ suurlemoen of lemmetjie sout 
  • swartpeper na smaak

Só maak jy

1 Braai die mielies en soetrissies oor die kole tot dit geskroei en plek-plek swart is. Sit die soetrissies in ’n plastiekbakkie of -sak, laat dit afkoel en sweet, en trek dan die skilletjies af. Skraap die pitjies uit en sny die vleis in stukkies. Sny die mieliepitte van die stronk af.

2 Kook die aartappels gaar voordat jy dit dreineer, in stukke sny en eenkant laat afkoel.

3 Druk die avokado met ’n vurk fyn en roer dan die jogurt, koljanderblare en knoffel daarby in (of pols alles saam in ’n versapper as jy een het). Geur die sous na smaak met rissie, suurlemoensap, sout en swartpeper.

4 Meng die soetrissie, mieliepitte en aartappel en geur dit na smaak met sout. Roer dan die sous deur en sit die slaai in die yskas sodat dit heeltemal kan afkoel.


Weg Ry & Sleep sê: ’n Slim kortpad as jy nie ’n versapper het nie, is om die avokado te vervang met ’n bakkie guacamole, wat deesdae by die meeste supermarkte se groente- of yskasafdeling te koop is.