As jy oor die grens gaan reis, maak betyds seker jy het die regte dokumente by jou. Dit sal sake vergemaklik as jy met moeilike buitelandse beamptes te doen kry (En as ons van papiere praat, bedoel ons nie ’n pak R100-note nie. – Red.)

Druk jou stempel af. Jy het nie ’n visum nodig vir enige van Suid-Afrika se buurlande nie, maar jou paspoort moet nog vir ses maande ná jou terugkeer geldig wees. Maak maar seker oor visumvereistes as jy verder noord ry.

Liksens? Jou Suid-Afrikaanse rybewys is geldig in alle SAOG-lande .

En waar’s die papiere? Jy moet te alle tye jou kar en woonwa se registrasiedokumente by jou hê. As jy nog afbetaal aan die voertuig of wa, moet die bank ’n toestemmingsbrief gee met ’n afskrif van die registrasiepapiere.

Ek belowe dis myne! As ’n befoeterde beampte jou in die vreemde land voorkeer, sal dit help as jy ’n klaringsertifikaat het wat bewys jou voertuig is wettig en nie gesteel nie. Kry dié vorm voor jou vertrek by jou naaste toetssentrum se polisievoertuigidentifikasie-afdeling. Dis gratis.

Is jy verseker? Jou kar en woonwa se versekeraar moet ook ’n toestemmingsbrief gee.

Bel die dokter. Oorweeg mediese dekking vir ’n oorgrensvakansie.

Sy naam is Kom Terug! Kry ’n tydelike uitvoerpermit (die DA 331-vorm) aan die Suid- Afrikaanse kant van die grens waarop jy goedere lys wat jy terugbring – dinge soos kameras, verkykers en skootrekenaars.

Vir die onverwagse ongelukkie. As jy Mosambiek toe gaan, kan jy voor jy vertrek, derdepartyversekering vir jou voertuig en sleepwa by Outdoor Warehouse kry. Dit kos R280 vir die sleepvoertuig, en R140 vir ’n woonwa, gewone sleepwa of boswa.

G’n omkopery, asseblief. ’n Mens hoor so dikwels van mense wat afgetrek word en dan die verkeersbeampte ’n pakkie note in die hand stop. Moenie jou hieraan skuldig maak nie – wees vriendelik en dring daarop aan om na die naaste polisiestasie te gaan.

Onthou jou kinders se geboortesertifikate. Dit is deesdae ’n vereiste om jou kind te volledige geboortesertifikaat en paspoort byderhand te hê wanneer jy oor die grens gaan. Die dokumente moet die oorspronklike, óf ’n  gewaarmerkte afskrif wees. Indien jy ’n enkelouer is, benodig jy ook ’n beëdigde toestemmingsbrief van die ander ouer. Indien jou toestande hiervan verskil, raadpleeg hierdie blad op Binnelandse Sake se webtuiste vir die volledige verduideliking vir die dokumente wat in elke geval nodig is.