Foto's: Schalk Jonker

Dis ’n plek waar almal skynbaar bly is om jou te sien wanneer jy aanland... so asof julle op ’n manier verlangs familie is.

Dis ook ’n plek waar daar doendinge te kus en te keur is vir jou en jou gesin. Met Algoabaai se 40 km strande kan jy jou vir die dag op plekke soos Kings-, Hobie- of Humewoodstrand gaan tuismaak terwyl die kleinspan in die Indiese Oseaan se branders baljaar. Onthou ook om jou visgerei, branderplank en skubatoerusting saam te vat.

Die Baai is egter veel meer as net ’n vakansieplek. Hier is geskiedkundige en kunsmuseums, die Bayworld-akwarium, ’n legio staproetes en meer goeie restaurante as wat jy op jou vingers en tone kan tel. En die stadsvaders het dit vir jou nóg makliker gemaak om die gebied te verken: Die Nelson Mandelabaai-pas is ’n slimkaartstelsel waarmee jy by meer as 40 toeristebestemmings gratis toegang kry. Ons praat van plekke soos die Addo Olifant- nasionale park, die akwarium, die Kragga Kamma-wildpark, die ysskaatsbaan en die Nelson Mandelabaaise Wetenskap-en-tegnologiesentrum. As jy plek het vir jou stokke, kan jy selfs by die Humewood-gholfklub gaan aanklop vir ’n gratis rondte gholf. Die prys hang af van hoe lank jy bly en hoe oud jy is.

Gaan maak ’n draai by een van dié drie kampplekke.

PINE LODGE

Rus én speel op jou eis 

Pine Lodge is in Somerstrand, en dis een van daardie oorde waar dit voel of jy behoorlik met vakansie is wanneer jy hier kamp. Hoewel die kampterrein taamlik klein is met net 23 staanplekke, is dit deel van die groter oord met ’n reeks aktiwiteite wat wissel van staproetes en donkiekarritte tot ’n meneer van ’n foefieslaaid, spabehandelings en ’n lekker restaurant.

Die oord is afgesonder en dit voel of jy by ’n ekslusiewe bestemming ver van alles en almal af kamp. En alles wat jy wil hê, is op jou voorstoep. Stuur jou wederhelfte spa toe vir ’n Sweedse massering en vat die kinders om op die bieliefoefieslaaid hulle hoogtevrees vierkant in die oë te kyk.

Laai die hele gesin daarna in die donkiekar en gaan ry vir 90 minute deur die aangrensende Kaap Recife-natuurreservaat.

Die hele kampterrein is oortrek met groen gras, en ’n klompie van die staanplekke het ’n plaveiselblad. Die staanplekke word ook omring deur struike en bome wat jou teen die wind beskerm én jou ’n bietjie privaatheid gee.

Jy het nie ’n seeuitsig van die woonwapark af nie, maar jy is nie verder as 300 m van die strand af nie. Elke staanplek het sy eie kragpunt (gewone huissok), lig en vullisdrom, maar nie elke staanplek het ’n kraan nie; van party af is dit ’n goeie 100 m se stap om water te kry.

GPS: S34.009837 E25.688250

Kontak: 041 583 4004; enquiries@pinelodge.co.za; pinelodge.co.za

Naaste dorp: Port Elizabeth, 2,5 km.

VAN STADENSOORD

Vir die hele gesin

Die Van Stadensoord lê sowat 40 km van Port Elizabeth af in Humansdorp se rigting, en dis ’n gesinsoord in die ware sin van die woord. Vir Oos-Kapenaars is dit een van daardie plekke wat naby genoeg, maar ook ver genoeg is om te voel jy kom behoorlik weg en los die stad se gejaag vir ’n wyle agter jou.

Die oord is langs die riviermonding, en sy 100 staanplekke is uitgelê om ’n sirkelpad wat deur die oord loop. Die staanplekke is groot, netjies, genommer en op gras – en die meeste van hulle in die koelte. 

Hier is baie bome wat vir groot kolle koelte sorg, maar nie al die staanplekke het koelte nie. 

Soos dit ’n goeie gesinsoord betaam, is hier meer as genoeg te doen vir jou en die res van jou gesin. Terwyl jy strand toe mik om ’n paar blinklywe op jou hoek te kry, sal die kinders hulle ure lank kan besig hou in die branders, op die trampolien, in die speletjieskamer (hier is tafeltennis- en pool-tafels) en met ’n bal en kriektkolf op die groot grasperk by die oord se hek. 

GPS: S33.96693 E25.22124

Kontak: 041 776 1059; theresort@telkomsa.net; vanstadens.com

Naaste dorp: Port Elizabeth, 40 km.

WegSleep sê: Pak jou windskerm enstormbande, -net en -penne in.

OCEAN’S VIEW FOREST RESORT

’n Boskamp by die see 

Ocean View lê om die draai van Van Stadens af, maar sowat 15 km nader aan Port Elizabeth. Hier kamp jy teen ’n koppie, op ’n skoongmaakte lappie aarde in ’n bos. En as jy in stilte in die natuur om jou vuurtjie wil kom ontsnap van Microsoft Excel en telekonferensies, kan jy beswaarlik vir beter vra.

Hier is staanplek vir sowat 60 waens of tente op gras – in die koelte van groot bome. Hier staan ook ’n klompie chalets en ou woonwaens wat ingerig is as vakansiehuisies.

Stap of ry eers deur die kampterrein en kyk mooi waar jy wil staan, want net sodra jy dink jy het al die staanplekke gesien, verras nog een jou.

Al die staanplekke het ’n gewone kragpunt en jy kry ’n betonpyp wat regop in die grond staan wat as jou braaiplek dien. Die krane is skaars en die kanse is goed jy gaan ’n entjie moet stap wanneer jy koffiewater gaan tap. 

Van jou staanplek af sien jy niks behalwe die bos om jou nie, maar hier is staproetes en ’n uitkykpunt waar jy op ’n bankie kan sit en die see betrag. 

Die kampterrein is op ’n skoongemaakte stuk aarde in die bos en jy kamp op groen gras onder ordentlike koeltebome. Wees egter op jou hoede vir die blouape wat kom loer wat daar te aas is sodra jy jou rug draai. Buiten die stap- en bergfietsroetes is hier ’n heerlike speelparkie en swembad vir die kleingoed. 

GPS: S34.003121 E25.3628

Kontak: 041 378 1729 of 083 252 7941; info@oceansviewforestresort.co.za;oceanviewforestresort.co.za

Naaste dorp: Port Elizabeth, 25 km.

Gaan loer by nelsonmandelabaypass.co.za en gebruik sommer dié gawe webblad om jou vakansie te beplan.