Een van die mooiste dinge van kindwees is hoe maklik jy maatjies maak. Enigeen wat min of meer dieselfde ouderdom as jy is, is ’n maatjie, ongeag waar sy pa werk en of hulle in ’n buurt bo of onder die hoofstraat woon, en of die broodjies in sy kosblik Marmite of ham, kaas en tamatie op het.

Jou kinderjare is sekerlik die enigste tyd van jou lewe wanneer jy nie ander veroordeel nie, bloot omdat jy nie van beter (of slegter) weet nie. Maar soms kruis jou pad tog met iemand van wie jy regtig nie hou nie – soos die nuwe kind wat dink hy’s beter as almal. Eddie Rautenbach was só ’n kind.

Eddie se pa-hulle het, ná jare in die buiteland, in die middel van die eerste kwartaal teruggekom Suid-Afrika toe. Juffrou Wessels het vir Eddie die leë sitplek links van my in die skoolbank gegee en die dag was nog nie om nie, toe’t Eddie haar oortuig om ons om te ruil, omdat ek teen hom stamp terwyl ek met my linker- en hy met sy regterhand skryf. Ek weet dit was eintlik net ’n plan om my plek teen die venster te kry. 

Eddie het knaend loop en spog oor die dinge wat hy reeds in die Amerikaanse skool geleer het, dinge wat ons leerplan nie eens ingesluit het nie – soos feite oor die Amasone en allerhande ontdekkingsreisigers.

Ons het maar net van Dias en Da Gama geweet. Pouses het hy óf sy neus opgetrek vir ons wat king speel óf met ’n groot kabaal almal probeer oortuig om saam met hom basketbal op die netbalbaan te speel.

Eddie kon nie verstaan dat ons eers máánde later dalk in sy ingevoerde oranje Spaldingbal sou belang stel nie. Hy het nie daardie instink van alle laerskoolkinders gehad dat sekere seisoene van die jaar sekere pousespeletjies vereis nie.

Ek onthou die dag wat die yo-yo-man allerhande toertjies in die skoolsaal kom demonstreer het. Daardie namiddag het byna elke kind ’n Fanta- of Sprite-klimtol met sy sakgeld by oom Kallie se winkel gaan koop. Eddie het die volgende dag by die skool opgedaag met ’n rooie waarop liggies flikker as jy die klimtol spin. Hy het só brêggherig geraak dat groot Jaco Visser, wat al die derde keer in st.4 was, die toutjie met geweld van Eddie se middelvinger afgepluk en die ding bo-op die saal se dak gegooi het.

Alles van Eddie was altyd beter en duurder en Eddie self was ’n beterweterige, mislike outjie. Maar soos my ma altyd sê: Daar is ’n rede hoekom ’n kind hom vreemd gedra. 

Die storie het geloop dat Eddie se pa, oom Steve, as ’n sukkelende stofsuierverkoopsman na die States uitgewyk het en daar die een of ander nuwe matsjampoe ontwikkel het wat die dollars laat inrol het.

Nou is hulle terug in die republiek en dolgelukkig met hulle rykmansbestaan. Of só het dit vir ons almal gelyk.

DIT WAS TYD vir die st. 4-klas se jaarlikse pa-en-kind-kampnaweek op die skool se rugbyveld en die Vrydagmiddag was almal fluks aan’t tentpenne inkap toe die Rautenbachs daar opdaag met niks minder nie as ’n Jurgens Fleetline XL agteraan oom Steve se nuwe silwer Mercedes 300 SE gehaak.

“Wie’t die burgemeester genooi?” het een oom gespot, en ons moes gou ons lag sluk toe oom Steve uitklim en bakarm nader staan. “Jis, jis, jis! Ek sien julle boys is lus vir baie moeite. Nee wat, ek en Eddie hou van ons gerief, of hoe ou seun?” het hy oor sy skouer geskree.

Al die ander pa’s het hulle tent rondom die kwartlyn opgeslaan – naby genoeg aan die klubhuis se badkamers, maar ook ver genoeg van die geboue af vir daardie ware kampgevoel. Oom Steve het egter, nadat hy ’n wye draai oor die pasgerolde kolfblad gery het, besluit om sy Fleetline reg agter die pale staan te maak “sodat die lead kan bykom by die klubhuis se plugs”.

’n Paar van die seuns het gemor dat hulle nou nie meer dié aand in die lig van die klubhuis sou kon pale toe skop nie, maar niemand het die moed gehad om vir Steve Rautenbach te gaan vra om te skuif nie.

Genadiglik het die Vrydagaand sonder voorval verloop – selfs al het Eddie ons in die donker met sy kettie geklits.

Sommer met die eerste aand se braai het oom Steve daarin geslaag om nog ’n paar vyande te maak. Opmerkings soos “Daai kole van jou is reg, hoor” of “Jy’t nog nie regtig whisky gedrink as jy nog nie ’n Bourbon geproe het nie”, het soos humbugs van sy tong gerol. Ons kinders het ’n bietjie eenkant toe gestaan en stokbrood braai, maar ons ore was by die grootmense se gesprek. Almal het geweet groot Jaco se pa is nou al die derde keer by die st. 4-klas se pa-en-kind-kampnaweek en daarom nie-amptelik die gesagsfiguur. En almal kon in die vlamlig sien dat oom groot Gert se frons al hoe dieper tussen sy oë in keep.

Genadiglik het die Vrydagaand sonder voorval verloop – selfs al het Eddie ons in die donker met sy kettie geklits. 

Ná ontbyt en Skriflesing die volgende oggend het die suikerkaskenades begin.

Oom groot Gert het die kinders en pa’s in spanne opgedeel, maar oom Steve het met die meeste speletjies uitgesit omdat dit volgens hom “mos nie iets is wat grootmense doen nie”. Tog het dit hom nie gekeer om van die kant af voor te sê hoe om oor ’n seepgesmeerde seil met ’n emmer water op jou kop te draf of ’n eier in ’n poedinglepel te balanseer nie.

Die middag, terwyl almal probeer slaap voor die nagmarathon begin, het oom Steve gholfballe op die rugbyveld rondgeslaan en dan vir Eddie – wat nors onder hulle stoeptent gesit het – geskree waar om dit weer te gaan optel. Oom groot Gert het saggies met sy growwe stem in die tent langs ons s’n gevloek en ’n mens kon die spanning onder die pa’s voel opbou.

DIE NAGMARATHON WAS ’n hoogtepunt van die naweek. Toe die son sak, is die fakkels al om die atletiekbaan aangesteek en die eerste groep drawwers het agter die dowwe wit kalklyn aangetree. Ons het in ons kleurspanne gehardloop en elke kind moes twee rondtes voltooi voordat hy die aflosstokkie vir die volgende spanmaat kon aangee.

Eddie was saam met my in die blou span en absoluut hopeloos. Dit het hom ’n ewigheid gevat om twee maal om die baan te tjommel en met elke verbykomslag het hy teenoor sy pa gekla dat sy kuit kramp, of sy rug pyn, of sy bors brand.

Maar oom Steve het hom nie aan sy seun gesteur nie. Nee, hy was te besig om weer by die braaivure te spog oor sy matsjampoe en sy prestasies. 

En toe oom groot Gert naderhand vir Eddie uit die nagmarathon diskwalifiseer omdat hy te stadig draf, het hy diklip in ’n kampstoel langs sy pa s’n neergeplof, net om elke nou en dan karavaan toe te moet stap om “nog ’n paar vingers Bourbon” vir die oom te skink. Saam met die hoeveelheid vingers het oom Steve se Statesstories al hoe wilder geword en Eddie se ore al hoe rooier totdat die ander pa’s naderhand maar net in die kole gestaan en staar het.

Die Maandag by die skool was Eddie heel koponderstebo en hy’t nie in een klas van hom laat hoor nie. Sy stilstuipe het weke lank aangehou, totdat hy een oggend net nie vir skool opgedaag het nie. Juffrou Wessels het rondgevra, maar niemand kon sê of hy die afgelope paar dae met ’n hoesie of ’n maagkwaal gesukkel het nie.

Die middag ná skool het ek spesiaal met ’n draai huis toe geloop om by die Rautenbachs se spoghuis verby te gaan.

Die blink Mercedes in die oprit was weg.

Waar die groot karavaan gestaan het, was nou net ’n droë kol gras oor, en ek kon regdeur die huis se gordynlose vensters tot agter by die swembad sien.

Die volgende oggend was die storie die skool vol: Die Rautenbachs is vort Durban toe waar oom Steve nou saam met ’n neef van hom ’n bandeplek gaan oopmaak. Die matsjampoe het mense in die States se matte begin vlek en oom Steve was kniediep in die skuld.

Ek het te aardig gevoel om dadelik terug te skuif na my ou sitplek in die bank. 

Jinne, ons kon maar seker een keer ingestem het om saam met Eddie basketball te speel.