Ek kyk in die truspieël en sien iets is nie pluis nie. Dan tref dit my soos ’n Jan Wilkens-volstruisskop teen die bors: Die wa is weg!

Ek slaan ankers aan, spring uit en hol na die agterkant van die kar. Ja, wragtag, hier’s geen teken van ’n wa nie.

Ek hardloop verbouereerd terug en spring in die Cruiser. Dit kán mos nie wees nie. Hy kan nie net wég wees nie.

Ek jaag terug op my spoor en swaai my kop meer links en regs as iemand wat langs Wimbledon se hoofbaan sit. En hoe meer ek dit vir myself sê, hoe minder wil ek dit glo.

Die wa is weg...

EK IS BESIG OM TE VERHUIS van Hopefield na Brackenfell, en soos met enige trekkery is dit ’n pynlike storie. Vir al die losgoed huur ek ’n dubbelassleepwa wat 2,2 t kan dra. Toe ek hom in Brackenfell gaan haal, gaan ek saam met die helpers die haak en die ligte na – soos dit ’n verantwoordelike sleper betaam.

My Land Cruiser sleep daai wa soos ’n droom. Ek wil amper sê ek weet nie van hom nie, want ek voel hom nie, en omdat jy in die Cruiser so hoog sit, is dit ook moeilik om hom raak te sien.

’n Kilometer of so verder loer ek weer agtertoe... nou is daar niks nie!

Soos dit weer eens ’n verantwoordelike sleper betaam, maak ek ’n punt daarvan om gereeld in my truspieël te loer of die wa nog saamkom. Op Malmesbury hou ek stil om brandstof in te gooi en ek gaan alles weer na. Dinge lyk reg; ek sien geen foute of vreemde goed nie. Terwyl ek so uit Malmesbury ry, kyk ek nogal ewe om ’n draai hoe netjies ek die wa in die baan hou. Ek is regtig ’n bekwame bestuurder en verantwoordelike sleper.

Teen die bult uit anderkant Malmesbury trek die turbodiesel soos ’n stoomtrein. Ek haal selfs ’n klomp vragmotors in.

Ek draai af Hopefield se kant toe en alles loop klopdisselboom. Ek hou my spoed net onder 100 km/h, Pink Floyd sorg vir die vermaak oor die radio en die wa gedra hom goed.

Die volgende oomblik is daar ’n pluk aan die Cruiser. Ek is nog effens meegevoer met Roger Waters en die manne en ruk my gou reg. Ek kyk in die truspieël.

Nee wat, die wa is nog daar. Geen probleme nie. Seker maar ’n verdwaalde rukwind wat oor my pad gekom het.

’n Entjie verder onthou ek die pad gaan nou-nou nogal sleg word. En wanneer ek die eerste slaggate kry, ry ek ’n bietjie stadiger; kyk terug om te sien of die wa nie te erg rondruk of skud nie. Alles reg.

’n Kilometer of so verder loer ek weer agtertoe... nou is daar niks nie! 

TERWYL EK ry en na die wa soek, begin ek in myself twyfel. Ek is al aan die verkeerde kant van 50 – het ek my dalk verbéél ek het die wa so gereeld gesien?

Het ek te verdiep geraak in Pink Floyd se strelende progressiewe rockmusiek?

My kop raak dof, soos destyds op skool as ek eksamen moes skryf. Ek raak lighoofdig en dit smaak my ek sien alles in tonnelvisie. Ek ry al die pad terug tot op Malmesbury, waar ek sonder twyfel laas die wa gesien het, maar niks. Ek bel die eienaar van die wa. Eers dink hy ek trek sy been, maar toe raak hy bekommerd. Nee, sê hy, hy stuur van sy mense om te kom help soek.

Ek ry terug soos ek gekom het, net aansienlik stadiger. En ek verken die wêreld om my soos ’n wafferse wildgids.

Die wa is skoonveld. 

Ek bereik die plek waar ek besef het hy is

nie meer op die haak nie, en draai weer terug. Nou ry ek nóg stadiger en verbeel my as ek my oë skrefies trek, sal ek hom nie weer mis nie. 
Maar die wa is weg. Net soos laasmaand se salaris.

EK BESLUIT om terug te ry Hopefield toe en die kinders by die skool te gaan haal.

Drie pare oë is beter as een. Wéér ry ons die stukkie pad heen en weer, maar sien niks nie – nie eens ’n merk op die pad wat vir ’n leidraad kan sorg nie.

Toe ek die agterkant van die Cruiser van nader bekyk, kry ek ’n duideliker prentjie van wat gebeur het. Die haak is van die soort met ’n bol en pen wat deur twee gate in ’n passtuk steek en aan die onderkant met ’n veiligheidsmeganisme gesluit word. Dit lyk of dié meganisme op ’n manier die gees gegee het, want die bol en pen is skoonveld.

Die volgende linie van verdediging was die kabeltjie wat om die haak kom om die sleepwa se rem te aktiveer ingeval hy afhaak.

Ek moet myself beteuel om nié die boer te omhels nie, want hy lyk na ’n rowwe kalant wat dit nie noodwendig gaan waardeer nie.

Maar dit kon natuurlik nie gebeur nie, want die hele haak was af. 

Ek besluit iemand het op die wa afgekom, hom gehaak en daarmee weggery. Dis die enigste verduideliking wat sin maak. Daarom gaan meld ek die voorval by die polisie aan. Die konstabel kyk my snaaks aan terwyl hy skryf: “… while driving, the trailer went missing in an unexplained manner.”

Terug in Brackenfell gaan ek na die eienaar toe en ons kom ooreen ek sal vir hom ’n verslag skryf wat hy kan gebruik om die bal aan die rol te kry by die versekering.

Ek moet egter nog my goed trek en het steeds ’n sleepwa nodig. Maar nou is ek te skaam om by dieselfde ou ’n wa te huur en ek gaan klop elders aan. So ry ek weer Hopefield toe, en daar, in die Bermuda-driehoek van sleepwaens, word my oog getref deur ’n wa wat in ’n landery langs die pad staan.

Ek hou stil en draf nader. Sowaar!

Dis mý wa! Ek is só bly ek spring soos Fred Astaire in die lug en kap my hakke teen mekaar.

“Soek jy hierdie ding?” vra ’n stem skielik langs my terwyl ek na my selfoon soek om die eienaar te bel. Ek moet myself beteuel om nié die boer te omhels nie, want hy lyk na ’n rowwe kalant wat dit nie noodwendig gaan waardeer nie.

Ja, sê ek. Waar het jy hom gekry? 

“Vanmôre wou ek die skaap by die kamp injaag, maar ek het gou die drade bekyk. Toe kom ek op die plek waar die onderste twee drade af is met ’n dowwe spoor wat na die oorkant van die land loop. Ek het gaan kyk en toe kry ek jou sleepwa aan die einde van die spoor. Ek het hom toe daar gehaak en teruggesleep tot hier.”

WAT PRESIES het gebeur? Die veiligheidsmeganisme het onklaar geraak, die wa het met die bol en pen en alles afgehaak en toe op sy eie momentum vrygeloop. Op ’n linksdraai in die pad het die wa reguitaan gehou. Genadiglik was daar nie aankomende verkeer nie, maar die wa is deur die draad en het aanhou hol vir nog sowat 300 m voor hy aan die ander kant van die landery tot stilstand gekom het – netjies weggesteek in die bosse.

Ek het nie die stukkende grensdraad gesien nie, want dit was in die lang gras.

En dit moet gebeur het kort voor ek in my truspieël gekyk het, want ek het skaars 750 m verder stilgehou.

Ek is dankbaar niks en niemand het seergekry nie... afgesien van die grensdraad en my ego. Maar ek is selfs nóg meer dankbaar die raaisel van die spookwa is opgelos, want dit sou my nog vir lank laat wakker lê het.