Illustrasie Dominic Wienand

Jy kry altyd daardie ou wat dieselfde afgesaagde grappie maak as die noodhulpmanne ’n beseerde speler op die sportveld te hulp snel. Wanneer jy kamp, moet jy egter ’n bietjie van die pynpolisie in jou hê. 

Ons kamp om die buitelewe te beleef en in die natuur te wees. Maar dit is in kamp se aard dat jy jou kan seermaak as jy nie versigtig is nie.

Pasop, dis sjoe-sjoe!

Kom ons praat eers gou oor ’n baie belangrike ding: Wie ook al êrens in jou verlede vir jou gesê het jy moet botter op ’n brandwond sit, het loutere onsin gepraat en jy moet liefs voortaan daardie stukkie raad ignoreer. Botter of olie hou die hitte binne die brandwond en veroorsaak dat dit op die langtermyn moeiliker gaan genees.

As jy ’n brandwond opgedoen het – hetsy teen ’n oop vlam of warm pot, is dit bitterlik belangrik om die brandplek onder ’n lopende koue kraan of in ’n skottel met koue water te hou. Die fout wat die meeste mense begaan, is om die wond net vir ’n minuut of twee onder die koue water te hou.

Wie ook al êrens in jou verlede vir jou gesê het jy moet botter op ’n brandwond sit, het loutere onsin gepraat en jy moet liefs voortaan daardie stukkie raad ignoreer.

Kenners beveel aan jy jou dit vir minstens 10 minute onder die water en bedek die wond dan liggies met ’n nat handdoek om dit koel te hou.

Die behandeling vir ’n brandwond hang af van hoe ernstig dit is. ’n Klein of eerstegraadse wond veroorsaak min skade aan die vel en sorg gewoonlik net vir ’n bietjie pyn, ’n rooi skynsel en swelling. Hy is gewoonlik ná ’n bietjie meer as ’n week volkome genees met geen letsel nie.

Die geheim met alle brandwonde is om dit so gou as moontlik te behandel. Hou die wond onder water en drink ’n pynstiller vir die ergste seer. Bedek dan die wond met aalwynjel of -room, en as die vel behoorlik afgekoel het, behandel dit met ’n antiseptiese salf en bedek dit losweg met ’n gaasverband.

Tweedegraadse brandwonde is ernstiger omdat die skade dieper as die boonste laag van die vel strek. Dié soort brand veroorsaak blase wat ontsettend rooi en seer is. Nadat jy die wond vir minstens 10 minute onder koue water gehou het, moet jy ’n brandplakker oor die wond sit en dit later met antiseptiese room behandel.

As jy egter op ’n baie senstiewe deel – soos jou gesig, binnebeen, agterstewe of hande – gebrand het, moet jy by ’n hospitaal uitkom.

As jy enigiets ergers as ’n tweedegraadse brandwond in die kampterrein opdoen, moet jy dadelik ongevalle toe geneem word.

Gepraat van brand 

’n Mens het nie ’n oop vlam of warm pan nodig om jou seer te brand nie. Ons son is meer as bevoeg om jou sommer op sy eie lelik te laat les opsê. Dit is belangrik om op sonbrand bedag te wees en te keer dat dit te gereeld gebeur. Kenners sê jou kanse om velkanker te kry verdubbel as jy meer as vyf keer sonbrand opgedoen het.

Soos met ander brandwonde moet jy so vinnig as moontlik jou vel afkoel. 

Spring deur die swembad of vat ’n koue stort of bad. Terwyl jou vel nog klam is, smeer jouself behoorlik met vogroom in. Maak net seker die salf bevat nie die petroleumjellie of enige ander tipe olie nie. Dit kan ook die hitte vasvang en jou sonbrand erger maak. Herhaal die proses oor die volgende klompie dae.

Soos met ander brandwonde moet jy so vinnig as moontlik jou vel afkoel.

Jy kan ook ’n pynstiller drink as jy enige pyn of ongemak verduur. Onthou ook om deurgaans water te drink, omdat sonbrand vloeistowwe na die vel en weg van die res van jou liggaam trek. Dit kan veroorsaak dat jy ontwater.

As erge blase oor jou lyf het of jy ontwikkel ’n koors en raak duiselig en deurmekaar, moet jy by ’n dokter kom.

En onthou om uit die son uit te bly! 

Zoem, sê die by

Vir die meeste van ons is ’n bysteek nie die einde van die wêreld nie, maar vir ’n hand vol mense wat allergies is, kan dit groot moeilikheid beteken. Dit is dus raadsaam om te weet of jy allergies is of nie en met jou dokter te praat oor wat jou te doen staan as ’n by jou wel steek.

As jy iemand in die kampterrein sien wat ná ’n bysteek opgooi, flou raak, moeilik asemhaal of wie se liggaam sigbaar in skok gaan, is daardie persoon waarskynlik allergies en moet jy hom of haar so vinnig as moontlik by ongevalle kry of die nooddienste bel.

Die res van ons het net ’n nie-dreigende, maar vrekpynlike reaksie op ’n bysteek. Dit is normaal dat die vel rooi word, swel en jy baie pyn ervaar. Die pyn hou net vir ’n uur of drie aan, en die rooi en swelling behoort binne ’n klompie dae iets van die verlede te wees.

As ’n by jou steek, is dit belangrik om eerstens vas te stel of die angel nog in jou vel sit. Dit is ’n klein swart kolletjie in die middel van daar waar dit seer is.

Kenners beveel aan jy gebruik iets soos ’n bottermes of jou bankkaart om oor die wond te skraap om die angel uit te kry. 

Die by se gifsak bly in jou vel agter en dit kan tot drie minute neem om van sy inhoud ontslae te raak. Hoe gouer jy hom dus uitkry, hoe beter.

Was die wond met seep en water en wend hidrokortisoonroom aan. Jy kan ook ’n smeer maak van koeksoda en water en dit op die wond sit. Jaag vir jouself ’n pynstiller in vir die ergste pyn en probeer dan van die besigheid vergeet.

Pik Botha

Indien jy gewonder het, ’n mens noem dit ofidiofobie. Ons praat nou van daardie abnormale vrees wat so baie van ons het vir slange.

Dit is egter belangrik om te onthou die meeste slange is nie giftig nie – en selfs wanneer ’n giftige slang jou pik, is dit selde noodlottig. Trouens, volgens onlangse navorsing sterf net een uit elke 68 mense wat in ons land deur ’n slang gepik word. Die jaarlikse sterftesyfer is maar 15.

Dit is egter nie te sê dis nie ernstige sake as jy gepik word nie, want jy kan erge skade opdoen. Daarom moet jy dit as ’n mediese noodgeval behandel en so vinnig as moontlik by ’n hospitaal kom, veral as jy deur iets soos ’n pofadder, mamba, kobra of boomslang gepik is. As jy onseker is watter slang dit was, bel vooruit en verduidelik vir die hospitaalpersoneel wat die simptome is. Is die persoon duiselig, naar, bewusteloos of daar’s bloeding? Die simptome kan die dokter help om die slang te identifiseer.

Wanneer iemand naby jou pas deur ’n slang gepik is, is daar ’n klomp dinge wat jy kan doen nadat jy die nooddienste gebel het. Probeer kyk watter slang dit is – sonder om jouself in gevaar te stel.

Bly kalm en probeer die slagoffer kalm hou. Vrees en angstigheid sorg vir ’n verhoogde hartklop, wat die gif vinniger deur die liggaam laat versprei. Hou die persoon ook so stil as moontlik en hou die wond onder die hart as jy kan.

En dit maak nie saak wat jy op MacGyver gesien het nie; moenie ’n snytjie maak en die gif probeer uitsuig nie. Moet ook nie vir die persoon enige teengif gee nie. Laat dit aan die dokter oor.

Agtpotiges

Onlangse navorsing het bewys mense is banger vir spinnekoppe as vir tandartse. 

Vir die meeste van ons is dit nou maar eenmaal ’n grillerige besigheid. En terwyl rolprentbooswigte spinnekoppe gaan gebruik om vir James Bond van kant te probeer maak, gaan ons glo ons is in lewensgevaar as een van hulle oor ons pad kom.

Dit gebeur ook soms dat ’n spinnekop jou gaan byt. Bly kalm, want dit beteken nié jy gaan op die plek dood neerslaan nie. In die meeste gevalle gaan jy net ’n pynstiller, ontsmettingsmiddel, ’n verband en antihistamien nodig hê om jou reg te sien. Maar as iets soos ’n knopie of ’n vioolspinnekop jou bygekom het, moet jy jou so vinnig as moontlik by die hospitaal kry.

Dit gebeur ook soms dat ’n spinnekop jou gaan byt. Bly kalm, want dit beteken nié jy gaan op die plek dood neerslaan nie.

Jy kan probeer om die spinnekop te vang om die dokter te help om hom uit te ken, maar moet dit eerder nie probeer as dit jou in verdere gevaar gaan stel nie.

Minder ernstige spinnekopbyte kan jy sommer by jou wa dokter. Was die wond met seep en water en sit ’n sak met ys op om die swelling te laat sak. Hou die wond skoon en wend gereeld antiseptiese room aan. As dit lyk of die simptome vergerger, sorg dat jy by ’n dokter uitkom.

Ek sou kon doen sonder ’n skerpioen ’n Mens sukkel om verby daai knypers te kyk, maar tel ’n slag die pote en jy sal sien skerpioene is deel van dieselfde skrikwekkende familie as spinnekoppe.

Min gediertes kom so aggressief voor as skerpioene, maar eintlik is daardie angswekkende knypers nie die probleem nie. Die probleem lê in die angel op die punt van sy stert. Verskillende skerpioenspesies is ook nie almal ewe giftig nie.

’n Aanvaarde manier om vas te stel hoe giftig hy is, is om na die knypers en stert te kyk. Hoe dikker die stert en dunner die knypers, hoe giftiger is hy. Hoe dunner die stert en dikker die knypers, hoe minder giftig is hy.

Jy sal duidelik weet as ’n skerpioen jou gesteek het. Selfs al sien jy nie die skuldige nie, sal die brandpyn genoeg wees om jou te oortuig. Die pyn kan enigiets van ’n paar minute tot ’n uur of drie duur en die seerplek sal rooi en geswel wees.

Jy maak net die wond met seep en water skoon, sit ys daarop vir die swelling en drink ’n pynstiller.

Die goeie nuus is minder as 5% van skerpioensteke het ernstige mediese hulp nodig. As jy ná ongeveer ’n halfuur voel jy kry maagkrampe of ’n steeksensasie in jou hande, voete, gesig en kopvel, moet jy by ’n dokter uitkom.

Dieselfde geld as dit voel of jou klere jou vel irriteer, as jy naar is of opgooi, as jy sukkel met jou spraak en jou koördinasie, as jy sukkel om te sluk of as jou polsslag versterk of verswak. Vra iemand om jou dadelik by ongevalle te kry.

Onthou om te onthou

Ons het al breedvoerig oor veiligheid en noodhulp in die kampterrein geskryf, maar hier is ’n paar dinge wat jy te alle tye moet onthou.

  • Maak seker jy vat ’n volledige noodhulpkissie met dinge soos pleisters, gaaswatte, ontsmettingsmiddel, pynstillers en brandplakkers saam. Maak seker die inhoud van jou noodhulpkissie het nog nie verval nie.
  • Sodra jy aanland, stap deur die kampterrein en soek moontlike plekke waar gevaarlike diere soos slange, skerpioene en spinnekoppe kan skuil. Bring dit onder die aandag van jou kinders en sê hulle moenie naby daardie plekke speel nie.
  • Dra toe skoene wanneer jy gaan stap, veral in die aand.
  • Wees versigtig wanneer jy ’n klip of stomp optel wat die vorige kampeerder vir jou gelos het. Dit is waar skerpioene en slange kan skuil.
  • Skud jou beddegoed uit voor jy inkruip en skud jou klere en skoene ordentlik uit voor jy dit aantrek.
Weg Ry & Sleep sê:
Vergewis jou vóórdat jy van die huis af ry, waar die naaste hospitaal aan die kampterrein is. Hou ook die nommers vir die polisie, nooddienste en oordbestuur op jou selfoon. Sodoende het jy dit byderhand as ’n krisis opduik. 

Internetbronne: advancedtissue.com, healthline.com, skincancer.org, medicinenet.com, parent24.com, health24.com