Die slim mense sê ’n jong man se storm-en-drangjare eindig eers in sy middel twintigs. Dan word hy minder roekeloos en meer verantwoordelik.


Dit het te doen met biologie, psigologie, neurochemie, hormone, noodsaaklike ontwikkeling en sulke goed. In kort: Dis ’n natuurlike deel van grootword.

Die jeugtyd se roekeloosheid, kansvattery, oorgerustheid, dom besluite, arrogansie, vreesloosheid en hardekwasgeit eindig wanneer die prefrontale breinkorteks heeltemal ontwikkel het. Dit gebeur so op 25-jarige ouderdom, en eers dán dink jy mooi oor goed voor jy sommer net doen.

Dit verklaar waarom daar dikwels moeilikheid is waar ’n jong man is – en gróót moeilikheid waar ’n klompie jong manne saam is. Met ’n pa se kar, ’n kroeg of koelboks of die teenoorgestelde geslag in die prentjie is die kans op moeilikheid ekstragroot.

Dit geld ook wanneer jong manne vir ’n paar dae saam gaan kamp. (Ons het mos almal al iewers langs luidrugtige en roekelose jong manne gekamp... En van ons was mos een of ander tyd self sulke jong manne.)

MET ’N JAGNAWEEK EN GEWERE in die prentjie raak die moeilikheidfaktor ook des te groter. Vat nou maar Bart, Frikkadel en Leendert se Paasnaweek-jagtog. Hulle is van gr. 1 af saam in die koshuis op Bethlehem, skryf saam matriek en boer almal saam met hulle pa’s met mielies in die Reitz-distrik.

Wanneer hulle nié boer nie, speel hulle vir die dorp rugby, jol en jag rokke. En hulle jag bokke, want as boerseuns het hulle met gewere en jag grootgeword.

Frikkadel se pa, Basie, reël met iemand op Hopetown dat Frikkadel en dié se twee boesemvriende Paasnaweek op ’n plaas daar kan kamp en elkeen ’n koedoe skiet.

Koot en Mieta, wat al dekades op Brak puts by Hopetown boer, is gaaf. Al ken hulle nie dié mense op Reitz nie, is dit immers ook plaasmense. Die “drie kinders” hoef nie die R2 000-R6 000 te betaal wat ander jagters vir ’n koedoe betaal nie.

Hulle kan R1 000 per bok betaal, en dit maak nie saak of dit ’n koei is of ’n bul met horings vir ’n Rowland Ward-trofeerekord nie. Die enigste reël is hulle skiet nie op die Sondag nie. Dis taboe.

Frikkadel se pa is ook gaaf en leen vir die drie sy nuwe Hilux-dubbelkajuit sodat hulle “darem lekker en in style kan ry”. Donderdagoggend groet Basie sy seun en die ander twee op die plaaswerf: “Ge-niet dit. En ry versigtig... niks vinniger as 120 km/h nie, Frikkadel. En onthou wat julle pa’s julle geleer het. Moet ook nie dr. Lucas se raad oor geweerveiligheid staan en vergeet nie...”
Hy resiteer ’n stukkie uit een van wyle dr. Lucas Potgieter se geweerboeke. 

By Dealesville se kant is die vermaning oor 120 km/h vergete. Die Hilux draf teen 140-150 km/h Noord-Kaap se kant toe. “Dit lyk of ons al voor middagete daar gaan wees,” skree Frikkadel dit uit bo die oorverdowende rockklanke van Bad Company se “Here Comes Trouble”.

Hulle skree-gesels uitbundig bo die musiek uit oor die meisies wat hulle die vorige aand in die Spur op Bethlehem raakgekuier het en die koedoes wat wag. 

Kort voor lank staan die tente in die veld en die vuurtjie brand. Die jagtery word glas-in-die-hand beplan.

NET SOOS FRIKKADEL voorspel het, hou hulle voor middagete by Brakputs se plaashuis stil. Op die rooi stoep wag die twee ou mense hulle in. Die verwelkoming is hartlik en hulle kry ’n bak vol vars kerrievetkoeke persent. Tannie Mieta is ’n bobaas kok en bakster én gasvrou vir troues op die plaas.

“Geniet dit. Onthou net: G’n skietery Sondag nie,” groet tannie Mieta op die stoep toe die drie jong manne bakkie se kant toe staan om te gaan kamp opslaan.

“Reg so, Tannie. Dankie, Tannie.” 

Kort voor lank staan die tente in die veld en die vuurtjie brand. Die jagtery word glas-in-die-hand beplan.

“Ons loop almal saam, maar een ou skiet ’n bok per dag. Dan kry elke man sy dag en sy bok,” stel Frikkadel voor. “Ek sal maar die minste wees en eers Maandag skiet.”

Vrydagoggend is hulle vroeg aan die stap. Ure en kilometers later kry Bart sy bok – ’n mooi koei – effens verskuil agter swarthake. Dis ’n perfekte skoot agter die blad oor so 120 m. Kort voor lank hang die bok afgeslag in die plaashuis se koelkamer.

By die kampplek word die vuur aangesteek, die koelboks nader gesleep en Bart se bok behoorlik gevier.

Leendert se koedoe – ’n stewige bul met mooi horings – val Saterdagmiddag laat in die rooi Kalaharisand aan die voet van ’n dolerietkoppie. Dis ook ’n goeie skoot – in die hoognek en ook oor ’n goeie afstand.

Die kampvuur brand tot ounag hoog en die koelboks werk oortyd vir die viering van Leendert se bok wat nou langs Bart s’n in die koelkamer hang.

Sondagoggend slaap die manne hulle roes af en hang daarna doelloos rond, want, onthou: G’n skietery op Sondag nie.

Vroegmiddag kom die voorstel van Leendert se kant af om maar die vuur aan te steek en solank die koedoe te vier wat Frikkadel nog moet skiet. Hulle vier en vier.

Dit word laatmiddag... skemer... laatskemer...

En hulle vier...

UIT DIE BLOUTE spring Frikkadel op langs die vuur. Binne ’n oogwink is hy in sy tent, weer uit en terug by die vuur – mét sy .30-06 in die hand. Die ander twee sit witgeskrik, maar voordat enigiemand iets kan vra, bulder Frikkadel: “Te hel daarmee!”
Ka-dwa! klap die skoot.

Langs die groentetuintjie, skuins duskant die tente, slaan ’n bokgedaante met ’n plof in die donker nag neer.

“Ek het hom!”

Blameer dit op storm-en-drang en daardie blou koelboks langs die vuur, maar moeilikheid is daar moeilikheid.

Op die rooi plaasstoep gil tannie Mieta huilend op Frikkadel: “Jou swerkater! Daai donkie het ’n naam gehad! En hy het die troukarretjie getrek... Daai donkie se naam was Hartseer!”

Frikadel, Bart en Leendert moet summier van die plaas af, maar nie voor Frikadel die heel duur koedoeprys van R6 000 vir Hartseer betaal nie. Want Hartseer was soos familie op Brakputs én het geld ingebring.

TERWYL DIE DRIEMANSKAP hulle tente in die donker opslaan en die bakkie pak, kom oom Koot en tannie Mieta met hulle Cruiser aangery.
Hulle en die werkers kom laai vir Hartseer op. Hulle gaan hom begrawe.

Dis die een woord op die ander. Frikkadel stribbel teë: “Óf Tannie gee my geld terug óf ek vat my donkie.”

Uiteindelik ry hy en sy vriende op Brakputs weg met die karkasse van twee koedoes en die karkas van Hartseer.

Die koedoes word biltong.

Die taksidermis wil nie ’n donkietrofee maak nie: “Ag nee, hel man!”

Maar Frikkadel skop vas, en die taksidermis gee bes. Omdat g’n mens nog ’n Donkietrofee wou hê nie, vra hy Frikkadel die R3 500 wat jy vir ’n sebratrofee betaal. “Dis mos naby genoeg.”

Hartseer kry ’n ereplek tussen die ander jagtrofeë in die sitkamer van Frikkadel se plaashuis. En Hartseer is die enigste dier met sy sterfdatum op ’n gegraveerde plaatjie op die houtskild: “Hartseer. Geskiet te Hopetown...”

’n Jaar later trou Frikkadel en Leonie, een van die oulike jong vroue wat hy, Bart en Leendert die aand voor hulle Hopetown toe is in die Spur ontmoet het.

Dis ’n huwelik sonder moeilikheid. Al wanneer moeilik dreig, is as Leonie die slag vir Frikkadel sê die donkie moet eens en vir altyd uit die huis uit. Dan los sy dit maar, en Hartseer bly.

Twee jaar lank vra Leonie elke dan en wan Hartseer moet gaan. En elke keer dreig moeilikheid.

Dan swyg sy maar weer en skryf dit in die stilligheid toe aan storm-en-drang.

Sy’s nie verkeerd nie. Toe sy weer sien, haal Frikkadel op ’n goeie dag vir Hartseer sonder ’n woord van die muur af – en Hartseer is uit hulle huis uit. Dit doen Frikkadel so ewe op sy vyf en twintigste verjaardag.