Minder as ’n uur se ry van Pretoria af, ooste se kant toe, lê die dorpie Cullinan. Dit is hier waar Fred Wells in 1905 ’n diamant van 3 106 kar. uitgegrawe het.

Foto: Helenus Kruger


Dié knewel het nie lank in Fred se tuisdorp gebly nie voordat die ou Transvaalse regering dit vir Eduard VII present gegee het. Vandag nog is dit deel van die Britse kroonjuwele.

Cullinan was nou wel sy diamant vinnig kwyt, maar dié myn-en-toeristedorp het ’n klompie ander juwele. Die Somabulanatuurreservaat is een van hulle. Somabula het nie glybane, swembaddens en trampoliens nie. Jy het soms ’n effense selfoonsein en soms niks nie – en hier is nie ’n grootskerm-TV waar jy sepies of Superrugby kan kyk nie.

Jy het ook nie krag in die kampplek nie; pak maar jou koelboks met ys vir jou koue bier of bring jou sonpaneel saam. Die fokus in dié reservaat van 400 ha val op die natuur. Hier is net ’n halfdosyn staanplekke en jy kom hierheen vir rus en vrede – en om die natuur te geniet.

Tiptol of reier?

Somabula se naambord langs die R515 is tussen bome versteek en jy kan die afdraai maklik miskyk. Van Rayton se kant af is die afdraai aan jou linkerkant, net voor die treinspoor. Hier is nie ’n hekwag nie en jy tik die kode wat jy met jou bespreking gekry het, in om die hek oop te maak.

Dan, voor jy na jou staanplek toe ry, kan jy sommer aan die kant van die perdestal inloer by die werkwinkelmuseum, Cator’s Smithies. Een van Cullinan se inwoners, Chris Cator, het dié museum ingerig met ’n versameling van ou gereedskapstukke, en in die middel van die museum staan ’n gerestoureerde kapkar. In die reservaat staan ook vier netjies gerestoureerde ossewaens waarin gaste kan oorslaap.

Somabula is die Matebelenaam vir die langstertflap, ’n voël wat op die reservaat se logo pryk. Die staanplekke het ook almal voëlname en jy kan kies of jy by Lourie (loerie), Barbet (houtkapper), Hornbill (neushoringvoël), Bulbul (tiptol), Kingfisher (visvanger) of Egret (reier) wil kamp.

Jou eie boma(tjie)

Die veldgras op die staanplekke is in ’n groot sirkel kort gesny. Jy het gras op die grootste gedeelte van jou staanplek en ’n paar doringbome vir koelte.

Jy braai jou tjops en kuier tussen twee lae halfmaanmure in jou eie miniboma van klip en beton. In dié kuierkring is ’n geboude vuurput met ’n los staanrooster, ’n kolegraaf en ’n geboude tafeltjie vir jou braaigoed. Die leiklipvloer loop aan die een kant van die boma uit vir nog ’n geplaveide kuierstoep aan die buitekant.

Private badsake


Die helfte van die staanplekke (Egret, Lourie en Barbet) het private badkamers.

Kampeerders op die ander drie staanplekke deel ablusiegeriewe wat meer basies, maar tog gerieflik is.

Kyk die diere

In Somabula rus jy in die natuur, maar jy hoef nie die heeltyd onder ’n doringboom te sit en niks doen nie.


Bring jou voëlboek en verkyker saam, want die reservaat het ’n ryke voëllewe.

Die voëls kwetter heeldag by die kampplekke en die speg, kuifkophoutkapper en tiptol loer almal in.

In die koppies en grasveld is ’n klomp wild. Die kameelperde hou gewoonlik aan die suidekant, bo die ontvangsgebou, en aan die noordekant sien jy enigiets van rooihartbeeste en blesbokke tot sebras en blouwildebeeste.

Jy kan self ry of op ’n wildbesigtingingstoer in ’n oop Land Rover gaan. Jy kan ook die reservaat te perd verken.

Die wilds- en perderitte moet vooraf bespreek word.

Jy kan die wildsroetes ook te voet of met jou bergfiets aanpak.

Dorp én myn toe

Terwyl jy op Cullinan is, kan jy in ’n ou tremwa op ’n geskiedenistoer gaan. Jy kan ook op ’n bo- óf ondergrondse toer van die Cullinan-diamantmyn gaan en dié dorp se groot myngat sien wat op 32 ha vier keer groter is as Kimberley s’n. Dis ook die enigste plek ter wêreld waar jy op ’n toer van ’n werkende diamantmyn kan gaan.

Baie van die myndorp se oorspronklike huise en geboue staan vandag nog. Jy besoek op die dorpstoer onder meer die McHardy-huismuseum waar die eerste mynbestuurder, William McHardy, in die vroeë 1900’s gebly het; die Cullinan Mystique wat die kuns van Italiaanse krygsgevangenes in die Tweede Wêreldoorlog huisves; die dorp se vier ou kerke; en ’n uitkykpunt by die groot gat. 

In Oaklaan met sy jakaranda- en eikebome en geboue uit die Eduardiaanse era is ’n klomp toeristewinkels en eetplekke.

Jy kan jou besoek aan die dorp in The Cockpit Brewhouse in Oaklaan afsluit met iets te ete en ’n koue, bier.


Kontak: 082 550 1892; info@somabula.co.za; somabula.co.za

GPS: S25.710393 E28.520377 (hek)

Kampplek: 6 groot staanplekke, almal met veldgras, ’n miniboma en koeltebome.

Ablusiegeriewe: Netjiese private badkamers vir drie van die staanplekke en basiese en gedeelde geriewe vir kampeerders op die ander drie.

WegSleep sê: Die entomoloog en ossewakenner Erik Holm het Somabula se ou ossewaens gerestoureer.