Kamp is mos altyd lekker. Ja, daar is soms iets wat krap of nie werk nie, maar dit bly steeds ’n vreugde.

Tog is daar grade van vreugde. En soms is jy op so ’n lae graad van vreugde aan’t kamp dat die enigste ander ligpunt is dat jy nie ebola het nie.

Sulke lae vreugdesvlakke het my ook al getref, en mense sê mos dit is goed om oor dié soort dinge te praat. Ek deel dus graag die besonderhede.

Ek en vrind Jan het al amper by Klein-Paradys ons tent verloor toe die rivier met 3m gestyg het terwyl ons gou op Brits gaan proviand koop het. Die keer toe ek – in ’n oomblik van kultuurhistoriese eerbetoon aan Livingstone en Kie. – ’n paraffienlantern in die tent aangesteek het, lê ook laag op die vreugde-ranglys. Ek het gaan skottelgoed was en gedink ek keer terug na ’n romantiese vlammetjie wat wink en sagte skaduwees teen die tentseil gooi.

Toe nou nie. Die tent het darem nie vlam gevat nie, maar die lamp het só erg gerook dat die tent se binnekant gelyk het soos ’n Russiese bordeel ná ’n klopjag.

Die ding het nou nog ’n klankie.

Ek het ook al in ’n tent gekamp wat nat opgerol en ná ’n jaar eers weer gebruik is. Die reuk van die dood had my op my rug. Ek wou net my hande oor my bors vou en begin spook.

Ag, ek kan nog talle voorbeelde noem: Ek het al rondgeswem in ’n tent wat lek, bobbejane het my al beroof en my kamp gevandaliseer, my tent is al deur vuurwerk getref, eenmaal het ’n klomp vlermuise my tent vir ablusiegeriewe gebruik, en ek het selfs een reënerige aand ’n hengse gat met ’n sigaar in my koepeltentjie gebrand (moenie vra nie).

Hierdie soort goed demp jou vreugde, maar doof dit nie. Raserige, drinkende kampbure is eintlik al wat dinge onherroeplik kan versuur.Wanneer ’n mens gaan kamp, verwag jy dalk nog sonde met die natuur en jy probeer jou daarop voorberei. Maar bure… jy weet nóóit van watter stoffasie hulle gemaak is nie.

Partykeer kamp jy langs mense wat só stil en bedees is dat jy jou net oor hulle wil ontferm. Tog, later in die aand is hulle so lawaaierig soos ’n kleuterskool wanneer die roomyskombi verbykom.

MAAR DIE AARDIGSTE vreugdedemper het ek een naweek in Klein-Kariba teëgekom. Kyk, soms ontmoet jy iemand wie se lewensuitkyk sukkel om by joune in te pas. Julle verstaan mekaar dalk aan die begin hier en daar verkeerd vanweë uiteenlopende lewenservarings, maar het tog begrip vir mekaar. Ons buurman daardie
Kariba-naweek was nie so nie.

Hy was heeltemal onbegryplik en onverstaanbaar – weergaloos vreemd, tot die tiende mag. Ek noem die knaap tot vandag toe Wimpie, maar is steeds nie seker of dit sy naam is nie.

Dit is Saterdagoggend en die daglig begin die donker stadig wegvee. In die braaiplek voor die tente is die as van gisteraand se vuur nog warm. Hier en daar staan ’n blikbeker langs ’n stoel; een het nog koffie in.

’n Gesneuwelde botteltjie rooiwyn staan eenkant op ’n klip, ’n kitaar rus teen ’n tentpaal en die Venter is nie eens op knip nie. ’n Entjie weg bult die vullisdrom van die papierborde – dit was een van daai rustige kampkuiers wat net nie wou ophou nie. Niemand het geskreeu of oormatig hard grappe vertel nie; dit was net ou vrinne wat “konnek”.

Die plan vir die dag is nie té ambisieus nie: ’n Bietjie inlê, brekfis aanmekaarslaan, en dan ’n lang kuiertjie in en om die swembad. Of só het ek gedink.

Die vorige aand het Wimpie en sy gesin, net soos ons, tot laat gekerjakker, maar met heelwat meer woema in hulle benadering. Genadiglik, dink ons nog gisteraand, het hulle dieselfde tyd as ons gaan inkruip. O, het ons maar geweet waarom…

NOU IS DIT net voor 5vm. op ’n heerlike lenteoggend. Voëltjies ritsel en debatteer in die bome om ons en iewers blaf ’n bobbejaan. Dinge is vreedsaam. Om onverwagse lyf te gee aan die oggendgeluide vuur die vier silinders van ’n helwarm 2l-Golf 2-enjin met een van daai breëtuit- racing-uitlaatpype met ’n knal – reg langs die Kampkoors-hooftent.

Dit blyk toe Wimpie is hier om deel te neem aan die een of ander bos-rally in die omgewing en dis toe nou tyd om die kar te tune. Die ergste was nie die skok op die liggaam nie, maar eerder Wimpie en sy mense se totale onbegrip dat ons ’n probleem kan hê met hom wat sy warmgemaakte Golf douvoordag soos ’n besetene rev.

Nou sal die gesoute kampeerder jou vertel konflikhantering is ’n belangrike deel van jou kampmondering. Die standaardbenadering is om ’n vuil kyk of twee te gee, en as dít nie werk nie, dan praat jy hard in jou kampie oor hoe vreeslik steurend die geraas is.

Maar Wimpie kan my nie sien nie, daar met sy neus in die enjin, en as ’n Boeing in ons tent kom land het, dink ek nie ons sou dit bo die kar se gebrul kon hoor nie. Ek doen toe maar die laaste ding wat ek kan doen: Ek stap vreedsaam dog selfversekerd na Wimpie se staanplek, sonder enige teken dat ek bang is hier breek ’n bakleiery uit (wat ek in alle waarskynlikheid gaan verloor, want Wimpie se vrou is twee keer my size).

Dit vat ’n ruk vir Wimpie om te besef daar val nou nog ’n skaduwee langs die Golfie en eers ná die tweede keer wat hy my vra om die nommer nege aan te gee, kom hy agter ek is nie daar om spanners uit te deel nie.

In my keurigste taal, en met die mees tegemoetkomende bakkies, raak ek die een en ander punt oor geraasbesoedeling aan. Wimpie strek sy lyf uit en sê vir sy seun, so ’n tingerige, oopmondkind genaamd Laaitie, om die kar af te skakel. Die spanning neem voelbaar toe en ek maak my reg vir ’n stroom vloekwoorde.

Tog kyk hy my vir lank net so aan, ook met ’n mond wat effe oophang, en vra toe die ondenkbare: “Raas ons?”

Ek is eers onseker of ek reg gehoor het, want my ore sing nog van die lawaai. Nog voor ek aan ’n antwoord kan dink, hang sy vrou halflyf by hulle woonwa se deur uit. “Het ons kuiermense, Lovey?” So ’n lekker skril, taai stem.

“Nee, die man sê ons raas.” In ’n sagter stem as wat ek verwag het, en half onseker. “Wat raas?” “Hy sê die kar raas.” “Die kár?” “Ja, Beertjie.” “Sê vir hom hy moet in sy maai loop vlieg, dis sy kop wat raas!” bring Beertjie die ding tot ’n punt.

Ek probeer dinge hoflik hou en ek sien Lovey is ook nie lus vir ’n gestry nie, maar ons kom nie verder nie want Beertjie skreeu weer uit die karavaan: “’n Mens kan ook nêrens meer in vrede gaan kamp nie! Ons moet anyway ry, want as ons weer laat is, weet jy wat gaan gebeur, nè!”

Hulle is kort daarna vort om te gaan resies jaag, en ek het nie eens gebodder met vuil kyke nie; dit sou my in elk geval net in my maai laat vlieg het.

Sulke mense is ’n selfs groter verrassing as ’n rivier wat skielik afkom. Maar as jy (’n rukkie later) anders daarna kyk, is dit juis dié dinge wat kamp so ’n vreugde maak. As jy in ’n hotel of selfsorg-eenheid gaan vakansie hou, is dit makliker om te raai wat op jou wag. Daar is sekere standaarde, dinge is meer bestendig en voorspelbaar.

Maar Wimpie, met sy volbloed-rally-kar wat hy om 5vm. in ’n slapende kampterrein laat rev – dít is nou iets wat ek nie kon sien kom het nie. Ek verstaan dit glad nie en kan dit dus eintlik ook nie beoordeel nie. En op ’n vreemde manier is dit een van my gunsteling-kampherinneringe.