Ondanks elke mense se eie gewoontes en maniere bly ons almal maar mens, en party mense se gedrag is só universeel jy sal dit in elke kampplek teëkom. Ek en my vrou, Ester, kamp al sedert die jare tagtig die hele land vol, en oor die jare het ons al eindelose binnepret gehad met “mense kyk” by staanplekke.

’n Kampnaweek verloop gewoonlik in fases, soos die verskillende bedrywe van ’n Shakespear-tragedie, of komedie of tragi-komedie, nes jy wil.

Die eerste bedryf begin die oomblik wanneer nuwe bure by die kampplek se hek ingery kom. As dit ’n groot nuwe voertuig is met ’n spoggerige nuwe sleepding agterna, kan jy maar weet hier kom sports. Min kampeerplekke ken mos deesdae ’n staanplek aan ’n mens toe, en dan moet jy mos maar self jou plekkie in die son – of dan skaduwee – gaan soek.

Meneer, die patriarg, ry dan stadig met sy blinknuwe 4x4 so kyk-kyk deur die kamp en takseer die beskikbare staanplekke. Op die passasier- en agtersitplek maak Mevrou en die kroos hulpvaardig aanbevelings.

“Daar Pappa, daar naby die swembad!” of “Daai een lyk asof daar lekker middagkoelte kan wees.” Meneer steur hom egter nie hieraan nie en ry nog so twee of drie keer deur die kampplek, tot almal sy spoggerige kar en sleepding gesien het, en dan mik hy vir sy staanplek. Nege uit die tien keer is dit die een wat Mevrou 10 minute tevore reeds uitgewys het.

Meneer wip uit die kar en die res van die gesin drentel agterna. In sy hand hou hy ’n kompas. Iewers in sy jong dae was hy dalk in die Voortrekkers óf hy het in sy dienspligtyd kaart- en kompasopleiding gehad, maar dis baie duidelik hy het nie opgelet in die klas nie.

Nege uit die tien keer is dit die een wat Mevrou 10 minute tevore reeds uitgewys het.

Hy loop al in die rondte, so al asof hy meen die naald gaan ’n ander rigting inslaan in die skaduwee. Met groot gebare en arms wat swaai begin hy dan vir die res van die gesin verduidelik waar die son gaan opkom en watter pad hy gaan volg. En natuurlik waar hy ondergaan. Soos wat hy beduie, lyk dit of die verwagte trajek in die noorde begin en dan laatmiddag suidwes swenk.

Die uitdrukking op Mevrou se gesig is een van iemand wat nog ’n goeie begrip van gr. 4-aardrykskunde het – waarskynlik omdat sy laasweek nog vir klein Sarel met sy huiswerk moes help – en wat nou hard probeer om dit met Meneer se weergawe te versoen. Sareltjie luister nie. Hy het kortpad gekies swembad toe en sit nou onder ’n boom en trek dorings uit sy voet.

DAN BEGIN DIE TWEEDE BEDRYF. Die woonwa moet op sy plek kom. Daar is nie veel woonwaslepers wat ’n woonwa in trurat op sy plek kan kry nie en die gevolg is dat Mammie en die kroos moet help stoot.

’n Groot woonwa op ’n taamlikongelyk stuk gras is soos Uli Schmidt op Loftus – hy laat hom nie sommer rondstoot nie. Dis ook min of meer in hierdie stadium dat ’n mens opmerk hoe merkwaardig vinnig die manne van die omliggende woonwaens verdwyn: Dit lyk kompleet soos die Wegraping soos potensiële helpers verdwyn.

Dié wat hulle nie betyds uit die voete kan maak nie, het almal “ ’n rug” wat nie ooreis moet word nie. Ná ’n vreeslike gesteun en kreun is die woonwa min of meer in die staanplek – die rigting van die son is nou vergete en die kompas lê êrens in die stof. Sareltjie trek nog dorings uit.

Die enigste medekampeerders wat ons nog ooit met hierdie proses gehelp het, was buitelandse besoekers wat op ’n kampvakansie deur die land op reis was – hetsy met ’n ryhuise of tent. Ek is altyd dankbaar vir kampplekke waar die personeel, teen ’n tarief, hierdie diens lewer.

Oor die opslaan van die tente en inrig van die kamp kan ’n mens boekdele skryf. Dis opmerklik hoe die bure in hierdie stadium dan weer uit gate en slote opduik om die proses uit ’n gemaklike stoel gade te slaan en elke stukkie kamptoerusting en hulpmiddel wat staangemaak word takseer. Die res van die tweede bedryf verloop sonder veel konsternasie. Dis merendeels braai, kuier en meedoen aan die aktiwiteite en geriewe wat die oord aanbied.

MET DIE VERTREKSLAG, gewoonlik op ’n Sondagoggend, breek die derde bedryf aan. Dit begin gewoonlik heel voorspoedig en besadig, want met die opslaan en wegpak van die tente kan daar nie juis veel verkeerd loop nie.

Dis nou buiten die kere wanneer die weer Meneer en Mevrou se naweek befomfaai en hulle dan in gietende reën moet oppak. Dan is daar nie tyd of lus vir netjies werk nie en Meneer prop sommer die nat, vuil, modderige tent in ’n bondel in die wa. ’n Mens kan maar net hoop hy slaan daai tent weer op om droog te word en dat al die onderdele weer later hulle plek sal kry.

Woonwat te koop, net een keer gebruik.

Dit is veral die manne met die nuwe veldsleepwaens wat hier swaarkry. Elke ding pas mos presies op sy plek, en dit kan net daar gebêre word. As Meneer nie met die uithaalslag mooi kyk waar hy wat vat nie, sien jy hoe hy met die wegpakslag sommer die wa se deur met die voet toetrap om alles wat moet binne wees binne te hou. Dít wat dan nog buite is, laai hy sommer in sy ghrênd sleepvoertuig.

Maar dié tragi-komedie bereik sy hoogtepunt met die aanhaakslag. Mevrou moet agter staan en beduie sodat Meneer kan agteruit ry met die bedoeling om die sleephaak tot feitlik reg onder die wa se haak te maneuvreer. Teen hierdie tyd is sy voertuig se laaibak só vol gelaai sy truspieëltjie is nutteloos en hy moet op sy syspieëls staatmaak.

Hulle is ongelukkig ook van geen nut nie, want Mevrou staan mooi netjies in die middel van die voertuig se blindekol en beduie met klein handbewegings. Dan stop Meneer eers en hulle onderhandel oor ’n nuwe prosedure. Nou staan sy aan die kant en swaai haar arms soos ’n leerlingspietkop en laat weet tussendeur met ’n harde en effens geïrriteerde stem: “Links... links!” Sodra die voertuie na haar mening naby genoeg is aan mekaar, roep sy halt.

Helaas is die paar sentimeter wat die voertuie uitmekaar is, steeds te veel en die swaar woonwa kan nie nader gesleep word nie. Dis darem beter as die ander moontlikheid – as die twee té naby aan mekaar is en Meneer se voertuig nuwe kontoere agter bykry. Weer eens is daar nie ’n liggaamlik bevoegde buurman te bespeur nie. So gaan dit dus dan maar vorentoe en agtertoe tot die proses voltooi is.

DIT IS SELDE dat daar ’n voertuig vol glimlaggende gesigte wegry. Almal is papnat gesweet en effens iesegrimmig. Dis seker waarom ’n mens in die koerante se klein advertensietjies so dikwels sien: “Woonwa te koop, net een keer gebruik.”

Maar die meeste van ons kom maar volgende naweek weer en ’n naweek daarna en weer en weer, sodat ons vir die mense en hulle dinge kan lag... en hulle vir ons.