Sondela 

Bela-Bela 

Sondela is ’n gesinskampplek waar jy kan wild kyk én waar die kinders plaasdiere van nader kan leer ken. Een van die kampluukses hier is staanplekke met hulle eie private badkamers. Jy is nog skaars deur die hekke of ’n gesinnetjie vlakvarke kies koers die bosse in. Agter staan ’n paar blouwildebeeste en vergader in ’n groepie. Die kantoor is sommer digby die staanplekke en ’n helper wys jou tot waar jy moet ry. Hier is ’n warmwaterswembad vir die kampeerders, en oor kant by die hoofgeboue is die groot swembad. Die kinders kry kans om self ’n koei te probeer melk of selfs ’n klomp bokke beskuitjies te probeer voer. As jy nog nooit op ’n donkiekar was nie, kan jy langs die melkery aanmeld vir die rit – saam met die kinders. By die hoofgeboue is ’n restaurant asook ’n kinderplaas waar die oordmense soms spesiaal na die kinders omsien. Hier is ook ’n boomhuis der boomhuise. 

GPS S24.894973 E28.393352

Kampplek: 90 gewone staanplekke en 52 wat elk- een met ’n private bad kamer spog. 

Ablusiegeriewe: Silwerskoon en luuks. 

Aankoms- en vertrektyd: 2 nm. en 11 vm. 

Kontak: 014 736 8900; info@sondela.com; sondela.com 

Hoe ver van Bela-Bela af? 12 km.

Hoe lyk die pad? Teerpad, met die laaste 4,6 km ’n skaflike grondpad