‘Ek ken jou nie, maar ek ken jou tipe!” het Boats Botha destyds vir my geskreeu (sy naam was eintlik Joachim). Ons was in die weermag en dit was ’n warm Wes-Transvaalse somersdag terwyl ons basiese opleiding kry.

My “tipe”, het dit later geblyk, was die soort mens wat nie die kans wou vat om die oggend se fiksheidsoefening te “jippo” nie. Hy was bang ek gaan verkla hom en nog ’n paar lyfwegstekers by die korporaal. Ek het nie en daar het niks verder van gekom nie, maar die uitdrukking het my bygebly. “Ek ken jou nie, maar ek ken jou tipe...”

Aanvanklik het ek nie mooi geweet wat hy daarmee bedoel nie, maar so met die jare saam het dinge vir my duideliker geword. ’n Mens hoef nie noodwendig iemand te ken of selfs te weet wat sy naam is om met redelike sekerheid te kan sê hoe hy gaan optree nie. Jy ken hom nie, maar jy ken sy tipe.
Jy ken hom nie, maar jy ken sy tipe.

In die kampwêreld is dit ook so. Ek praat nou nie van die seil-versus-nylon-brigade nie. Daar’s meer subtiele tipes, maar as jy om jou rondkyk, sal jy hulle in enige kampplek raaksien.

Neem nou maar vir Vriendelike Frikkie. Jy’t nog skaars besluit of jy op die regte staanplek is of hy staan nader om te help met die afhaakslag – sommer so met ’n bier in die een hand – en dan beduie hy soos ’n karwag wat help met parallelle parkering in ’n besige straat.

“Jis, jis, kom maar, kom maar, stoot agteruit, jy kan maar kom, nog, nog, ja, swaai maar, jis... whooooa! *lang, harde fluit*” Teen die tyd dat jy jou stiplekgordel losgeknip het en jou kardeur oopswaai, is hy al besig om die neuswiel se slinger te draai, amper ongeduldig, asof hy al heeldag wag op jou wat nou so tydsaam hier kort ná vieruur eers jou opwagting maak.

Dan noem hy jou “buurman”, want julle gaan mos die volgende dag of wat langs mekaar woon en goeie vriende raak. Hy’t klaar gesien jou jongste daar op die agtersitplek is omtrent dieselfde portuur as sy middelste seun en hy weet sommer nou al hier is ’n vakansieromanse aan die kom. Selfs al het die stomme kinders niks vir mekaar te sê nie.

Dan noem hy jou “buurman”, want julle gaan mos die volgende dag of wat langs mekaar woon en goeie vriende raak...

Frikkie beduie dan dat hy jou in vrede sal laat om “rustig tent op te slaan en so, maar as jy hulp nodig het, moet jy net skree”. As jy later lus is om ietsie te braai, dan kan jy dit daar by hom op sy kole kom doen, sodra hy sy tjops in hulle spesiale marinade klaar gebraai het. Hy sal laat Pop vir jou die resep gee. Hy noem sy vrou Pop of Vlooi of so iets.

Later, wanneer jy klaar opgeslaan en gebraai en gekuier het en badkamer toe aanstap om te gaan stort, sal jy hom daar kry waar hy voor een van die skeerspieëls so half leunstaan teen die toonbankie waar ’n mens jou badsakkie neersit.

Hy’s diep in ’n eenrigtinggesprek met nog ’n “buurman” wat al ’n kwartier gelede wou aanstaltes maak terug kampplek toe. Nou staan hy maar effens gedweë beleefd en luister na die verhaal van Frikkie se oudste wat op ’n netbaltoer noorde toe is.

“Ek sê jou, ek weet nie waar sy al daai talent van haar kry nie, maar ek sal nie verbaas wees as die coach haar een van die dae provinsiale proewe laat speel nie...”

Terwyl Frikkie nog so meegevoer word oor Klein-Pop se netbaalvaardighede, kom Sarel Suurknol by die ablusieblok ingestap en brom onderlangs iets oor agteruitgang en onnetheid. Hy praat nie oor sy eie pens wat dreig om onder sy verbleikte T-hemp uit te loer nie.

Nee, hy’s al van gister af omgesukkel oor die gekraakte teël op die vloer van die derde storthokkie. Die einste hokkie waar die stortgordyn boonop ’n ringetjie kort. Hy het dit gister al by die oordbestuur gaan aanmeld en hulle het wraggies nog nie die hele ablusieblok gesloop en nuut oorgebou nie.

Sarel is eintlik nie net van gister af omgekrap nie; hy’s sommer skuins befoeterd gebore. Wanneer iemand binne hoorafstand is, het hy iets om oor te kerm en kla.

Sarel is die een wat sal kom vra hoe lank jy nog beplan om te braai, want die gemesselde braaiplek waar jy braai, is windop van sy staanplek af, en almal op sy staanplek – sy vrou, Meisie, inkluis – “verstik nou in jou onbedagsame braaivuur se rook”.

Sarel het darem niks teen klein kinders nie, mits hulle net nie lag of speel of uitbundig is waar hy hulle kan sien of hoor nie. Sarel se aanhef tot enige gesprek is gewoonlik iets in die trant van: “Meneer, ek wil nou nie onvriendelik wees nie, maar...”

Sarel is eintlik nie net van gister af omgekrap nie; hy’s sommer skuins befoeterd gebore.

Anderkant Sarel het sy verlangse neef, Slim Stefaans, sy kamp opgeslaan – windaf, sodat die rook nie pla nie, want sien, Stefaans kén van kamp. Trouens, van kamp kan jy hom niks vertel nie.

Stefaans wéét hy het die beste sleepkombinasie wat daar is. Nie eens die deftigste nuwe ingevoerde wa kan by sý wa kers vas hou nie. Selfs al het jy presies dieselfde sleepkombinasie as hy, sal Stefaans altyd in sy eie liga wees, want hy het dit eerste gehad en ’n paar veranderinge aangebring wat die wa nóg beter maak.

Trouens, hy verwag enige dag ’n oproep van die fabriek af om hom te nooi sodat hy daar vir hulle kan gaan wys waar hulle fouteer en wat hulle moet doen om hulle produk wêreldklas te maak.

Stefaans ken van wêreldklas, want hy en Vroutjie was mos al oorsee. (Hy noem haar “Vroutjie”, maar sy noem haarself “Mevrou Stefaans”).

Stefaans glo heimlik hy moet eintlik die voorsitter, president en sommer tesourier van sy woonwaklub wees, maar hy’s “mos nie eintlik een vir titels en dinge nie”. Daarom gee hy maar – “agter die skerms, jy weet” – raad waar hy kan sien mense het sy hulp nodig, nog voor hulle dit self besef.

Die een wat Stefaans se onskatbare raad die nodigste het, is Gretige Gertjie. Gertjie het die week voor sy vakansie die kampwinkels ingevaar en homself aan die genade van die verkoopsman oorgelaat.

Eintlik het Gertjie vergeet om betyds die deposito te betaal vir die rondawel wat hy bespreek het en toe maar noodgedwonge besluit hy en sy gesin is voortaan kampeerders. Hy is dus nou vasberade om sy familie en vernaam homself te oortuig dis ’n heerlike manier om ’n week in die Laeveld deur te bring, selfs al is dit hoogsomer.

Hy was nie van plan om enigiets aan toeval oor te laat nie. Daarom kamp hy nou met ’n oorgroot nylontent met ses vertrekke, vier herlaaibare lanterns van verskillende sterktes, twee opwastafels, drie wankelrige opvoutafels, ’n satellietskottel waarmee hy nie ontvangs kan kry nie, ’n batteryaangedrewe wasmasjientjie (wat beswaarlik genoeg plek het vir Ousus se bikini en twee sakdoeke), en vyf spiksplinternuwe kampstoele – die soort waarvan jy die rugleuning kan verstel.

Saans wanneer Mamma (ja, hy noem sy vrou “Mamma”) die kinders klaar Tabbard gesmeer en elkeen in sy of haar eie vertrek in die tent toegerits het, sit Gertjie en Mamma, Stefaans en Mevrou Stefaans, Frikkie en Pop en Sarel en Meisie en gesels oor hoe lekker dit is om te kamp.

Want al ken hulle mekaar nie, ken hulle mekaar se tipe.