Dis een ding om te kamp, maar iets heeltemal anders as die jongste toevoeging tot die familie sy opwagting in die grammadoelas maak, sê Leon Botha.



Tye verander. Verby is die dae dat jy deur die kar se voorruit die fliek op die inry se skerm kyk. Rook was toe ook nog hoogmode en die Camel Man het op daardie einste inryskerm oerwoude in sy Landie getem.

Deesdae is ons gesondheid- en omgewingsbewus. Die Camel Man is weg, saam met al die ander sigaretadvertensies. Kinders leer in die klas van die gat in die osoonlaag en ons praat oor aardverwarming. Ons fokus op gesond eet, gesond leef en op die natuur en die omgewing.

Verby is die dae dat ’n hoenderboudjie op die rooster bloot ’n hoenderboudjie was en jy nie twee keer daaroor gedink het nie. Deesdae moet die hoender free range wees. Op die groentepakkie moet ’n plakker wees waarop daar “Organies” staan. Ons let op na wat ons opskep, en free range en organies kry volpunte.

Daarmee saam vat jy nie meer die hysbak by jou werk nie. Jy moet oefen en jy klim die trappe. By die huis het jy drafskoene in die kas of ’n bergfiets in die garage. Verby is die dae dat jy net ’n swart dikwiel en ’n rooi Poskantoorfiets gekry het. As tekkies en wiele nie jou ding is nie, is jy ’n lid van die muurbalklub of jy slaan gholfballe. Óf jy swem of roei. Slegte gewoontes is uit. Dis die inding om aktief te wees.

Maar dit bly nie by draf, fietsry en swem nie. Daardie draffie van 5 km voor werk lei tot ’n Comrades. Fietsryers stroom na die Argus in die Kaap en die swemmers en roeiers doen onderskeidelik die Midmar en die Duzi.


Nou kyk, kamp is ook so. Kamp is ontspanning en deel van ’n gesonde leefstyl, maar kampeerders verskuif ook die doelpale, net soos die drawwers, fietsryers en swemmers. As jy begin kamp, begin jy klein. Jy slaan ’n tentjie langs die dam op. Maar dis nie lank nie of jy sleep saam met die familie en vriende ’n woonwa see toe vir jou jaarlikse vakansie.  En dan is kamp by die Gariepdam nie meer goed genoeg nie. Ook nie by die Noordkus en Hartenbos nie. Jy wil ook – nét een keer – jou lyf avonturier hou. Want jy hoor hoe lekker ander al in Etosha, die Okavangodelta en by die Karibameer gekamp het.

So dertig jaar terug, toe die Camel Man nog ’n rolmodel was, verskuif ek die doelpale Okavango toe. My oorlede oom Mike se familie woon immers skuins duskant die delta.

Oom Mike, oorspronklik van Hongarye, het tweedehandse karre verkoop om kos op die tafel te sit. Hy was kort-kort in Suid-Afrika om karre te koop wat hy dan weer in Botswana gaan verkoop het. Sy trots –wat hy vir homself gehou en nié gesmous het nie – was ’n swart Cadillac. Dit was nie sommer so ’n Cadillac nie. Dit was glo een van die ampsmotors van die eertydse eerste minister John Vorster.

Kleintyd het ek maar min verstaan wat oom Mike sê, want hy het net Engels gepraat. Maar daardie keer toe hy sy met sy groen Jeep Wagoneer die boot van Botswana tot by Zinkwazi in die KwaZulu-Natalse Noordkus gesleep het vir ’n familiekampvakansie, het die taalding glad nie meer tussen ons gestaan nie.


Nadat siekte en die dood oom Mike ingehaal het, neem sy dogter, Maggie, die karbesigheid oor. Sy laat weet hulle is op pad om in die Okavangodelta te gaan kamp en ek is welkom om saam te kom.

Eers met die aankomslag by hulle karbesigheid in Botswana sien ek wyle oom Mike staan op die punt om oupa te word. Daar is nie keer nie en Maggie met haar ronde boepie hou vol ons gaan kamp.

Ons is ’n klompie wat die pad vat in ’n Hilux en ’n Land Cruiser. Maggie is – magie en al – ook deel van die groep. Ons mik vir Third Bridge in Moremi. Dis ons basis vir die verkenning van die delta.

By Third Bridge sien jy hoe lyk regte leeuwêreld. Die kampplek is sonder ’n heining wat die ouens met die groot tande en pote uithou. Die staanplekke is sommer net skoongemaakte kolle in die bos.

Met ons eerste sonsopkoms in die Okavango is die koelboks, wat reg langs ons tweemantentjies gestaan het, skoonveld. Ons word yskoud toe ons die boks 50 m verder in die bos sien lê. Honger hiënas het dit al die pad gesleep, ’n deel van die een hoek afgebyt en die res van die boks lelik gekneus.

Twee aande of wat later word ons langverwagte kampeerdery in die Okavango kortgeknip, maar dié slag nie deur hiënas of leeus nie...

Nooky spring bleek in die gesig uit die Cruiser uit en hardloop tot by my afgedraaide ruit. Dis die laaste vraag wat ek wil hoor: “Kan jy ’n baba vang?”

Maggie kreun en steun in die tentjie langsaan.

Dit kan net een ding beteken...

Ons is in die grammadoelas, met g’n hospitaal of dokter naby nie. Hier’s nie eens ’n kantoor of  tiekiebboks sodat ons iemand kan bel nie. Selfone bestaan nog nie.

Tydmors kan ons nie. Ons moet pak en jaag om met die lang sandpaaie langs vir Maggie in die beskawing te kry.

Maggie ry voor in die Cruiser saam met haar man, Nooky. Ons volg in die Hilux. En toe slaan Nooky remme aan – in die middel van nêrens. Nooky spring bleek in die gesig uit die Cruiser uit en hardloop tot by my afgedraaide ruit. Dis die laaste vraag wat ek wil hoor: “Kan jy ’n baba vang?”

Dis buite die kwessie. Nou is hulp nog meer nodig. Dis báie dringend.

Die lodge ’n kilometer of wat verder langs die pad kon nie op ’n beter plek wees nie.

Ek kan nie meer mooi onthou wie wat aan die lodge se mense verduidelik het nie, maar alles het binne ’n oogwink gebeur.

Maggie is die kantoor in. Die personeel vee telefone, lêers en meubels uit die pad uit. Ons staan verlig buite die toe kantoordeur.

En toe gebeur dit. Klein Danvango gee sy eerste skreeu.