Uit die aard van my werk moet ek soms terreininspeksies by skole in die Noord-Kaap doen waar infrastuktuurontwikkeling aan die gang is. Toe dit weer tyd word om in Port Nolloth ’n draai te gaan maak, het ek en Marina besluit om ’n paar dae by te las en Namakwaland ordentlik te verken. 

Ons het ons boswa agter Marina se Pajero 3.2 DI-D-kortbak, wat pas ’n sleepstang gekry het, gehaak en so vertrek ek, Jan “Draaitjies”, Marina (Meraai), Pumba (die Pajero) en Skilpadtepel (die boswa) op ’n taamlik onbeplande reis na en deur Namakwaland. 

Ek het wel twee van Gert Sarrisam se boeke oor sy grootwordjare in Namakwaland gelees en wou graag plekke soos Spoegrivier, Groenrivier, Bulletrap besoek. 

Laat wiel

Ons vertrek uit Kimberley en slaap op Springbok oor, handel die werkstories af deur skole op Upington en Lutzburg (Kakamas) te besoek en stop by Die Pienk Padstal.

Drieuur die middag hou ons op Springbok stil, maak ’n draai by die Springbok-hotel en saal af by die Kokerboom-motel se kampplek net buite die dorp. 

Dis nog nie blomseisoen nie, maar die madeliefies blom al klaar op die dorre aarde in die kampeerplek. 

Die volgende dag ry ons Matjieskloof toe, net buite Springbok, en vandaar na die Goegap-natuurreservaat. 

Wat ’n gesig! 

Dis ’n pragtige roete met blomme net waar jy kyk en ons sien ook gemsbokke en springbokke. 

Ons plan vir môre, wat so tussen die aand se braaiery uitgewerk is, is om eers Kamieskroon en dan Goegap toe te ry.

Agterpadlangs

Ons kies koers op ’n grondpad net oos van die N7, ’n mooi pad wat ons tot in Kamieskroon neem. Ná ’n laatontbyt langs die N7 mik ons terug Springbok toe op ’n grondpad net wes van die hoofweg. Ons ry Skilpad, ’n deel van die Namakwapark wat ons wou sien, per ongeluk mis (ons aanwysings was nie so lekker nie) maar ry deur mooi plase.

Dis paadjies langs droë rivierloop is gelukkig pragtig, maar hier en daar moet ’n mens jou storie ken. Pumba skrik egter vir niks nie en laatmiddag is ons terug op Springbok. Ons pak op, haak vir boswa en ry Goegap toe.

Die volgende dag is dit Port Nolloth toe via Bulletrap.

Ons vertrek vroegoggend en ry gou ’n draai by Matjieskloof verby om ’n uitsig oor die vallei in die rigting van Kommaggas te kry. Op pad Nababeep kies ons ’n grondpad en daar vat ons weer die agterpaaie.

Die ou myndorpie, Nababeep is ’n belewenis. ’n Mens sal seker nie dink jy kan dit van ’n myn sê nie, maar ek het in my lewe nog nie so ’n mooi myn gesien nie. Ons verken eers die dorpie, en toe is dit tyd vir Bulletrap. Ons ry aan die agterent van Nababeep uit, weer met ’n grondpad en sluit so 20 tot 30 kilometer later by die N7 aan. Nie ver daarvandaan nie, kry ons die afdraai na Nigramoep/Bulletrap en draai links af.

Hierdie roete is nie vir sensitiewe bestuurders nie; daar is ’n makliker roete via Steinkopf na Port Nolloth toe – alles teerpad. Ons doen aan by Bulletrap, maar die dorpie bestaan omtrent net uit die munisipaliteit en ’n groot pers huis.

En toe begin die sports!

Die mooi grondpad wat nog op party kaarte wys, bestaan eintlik nie meer nie.

Die pad is later net twee spore en ek sê vir Meraai ons gaan ons êrens vasloop, maar ek gaan nié die tyd van die dag omdraai nie! Seker so 3 kilometer verder word my woorde waar en staan ons voor ’n toe-hek en ’n motorhek regs daarvan met ’n valhek wat met boute vasgemaak.

“Meraatjie, ons het sleutels nodig… moersleutels,” sê ek vir my vrou.

Uit kom die gereedskapkis en binne ’n oogwink is ons deur, die hek agter ons weer toe en ons wat onwettig op ’n boer se plaas ry! Gelukkig sien ons ’n huis en besluit om daar te gaan aanmeld en om verskoning te vra. Daar is egter nie ’n mens by die huis nie en ons ry maar voort.

Namakwa toe

Ná die R355 is die pad erg verspoel en met die boswa neem dit ons omtrent 30 minute om die laaste 5 km tot by die hoof-grondpad te ry. Ons kom laatmiddag in Port Nolloth aan en skiet deur McDougallsbaai toe.

Vanaand kamp ons nie; ons is te moeg.

Die volgende dag wys ek Meraai hoe Port Nolloth se hawe, en die dorp lyk. Ons hou stil by ’n geroeste geel stoomlokomotief en toe ek weer vir Pumba wil aanskakel, hakkel die mannetjie lekker.

Solenoïed, dink ek dadelik terwyl die aansitter net klik, klik, klik. Gelukkig is daar skielik lewe en ons ry af na die ou hawe om vis en kreef te koop, maar toe ek weer vir Pumba wil aanskakel, gebeur daar net mooi niks.

Gelukkig is Pieter Dam, die plaaslike werktuigkundige beskikbaar en soos hy aan die solenoïed klop-klop, kry hy Pumba aan die gang, maar met die nuus dat ons só nie verder sal kan ry nie.

In die dorp kry ons ook nie ’n Pajero-solenoïed te koop nie en moet hoor dit gaan vier dae neem om een uit die Kaap te kry. Maar Pieter het ’n plan en vier uur later is ons weer op pad Hondeklipbaai en Namakwapark toe!

Grootmis en Kleinzee is op ons pad en as jy wel in blommeseisoen hier ry, kan jy gerus ’n plan maak om in die omgewing oor te slaap. Ons ry ook verby Koingnaas en Hondeklipbaai voor ons weer links draai binneland toe oppad na die Namakwa -nasionale park. (Lees hier wat Attie Hough van Hondeklipbaai te sê het oor blommekyk in die dorp en omgewing)

Hierdie is vygiewêreld en ons sien die pragtigste verskeidenheid – van pers tot pienk, geel en wit.

Die volgende dag kry ons diesel op Kamies, haak weer die boswa en vertrek na Groenriviermond. 

Mislik maar mooi

Dit is reënerig en die weer is mislik en koud, maar ons ry deur die mooiste wêreld op pad Groenriviermond toe.

Dis koud en onplesierig toe ons ’n ontbyt eet met die wind wat ’n barshou van die see se kant af waai, en toe begin dit nog reën ook!

Ons kom uiteindelik by die Namakwa Sands-myn uit en bereik die teerpad.

Op Bitterfontein moet hulle eers die kragopwekker aan die gang kry om diesel in te gooi.

Meraai besluit ons slaap oor op Loeriesfontein en die volgende dag ry ons met ’n teerpad Calvinia toe. Daar is die Hantamvleisfees toevallig aan die gang en ons kamp die volgende twee dae in die munisipale kampeerterrein.

Dis Sondagoggend en ons vertrek vroeg want dis tyd om huiswaarts te gaan en daar lê nog sowat 550 kilometer voor.

* Hierdie artikel het oorspronklik op 7 September 2017 op ons webwerf verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon sedertdien verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.