Ek het met kamp grootgeword en my gesin is versot daarop. Daarom probeer ons om een keer per maand te gaan kamp, en ek moet sê ons kry dit tot dusver goed reg. Ek het egter besluit as ons so gereeld vir kort rukkies weggaan, wil ek nie vir ’n uur of twee sukkel om die kamp op te slaan nie, want dit beroof ons van waardevolle gesinstyd waarin ons eerder kan saam kuier.

Ek het toe besluit ’n teardrop-waentjie is net die ding vir ons – en ek het ook gedink dit sal lekker wees om hom self te bou. Ek het die ontwerp op die internet gekry en die spesifikasies na ’n plaaslike vervaardiger hier in ons omgewing geneem om vir my die onderstel te bou en die wa te laat registreer.

Daarna het ek hom self gebou en aanmekaargesit. Die bakwerk is van aluminium en ek het die elektriese bedrading ook self gedoen. Ons is baie tevrede met die waentjie, want hy gee vir ons alles wat ons nodig het as ons gaan kamp.

Binne het ons eers net ’n rak by ons voete gehad om ons goed in te pak, maar het later deurtjies gehang. Dit was omdat soveel mense die wa wil bekyk en ’n mens wil mos nie hê hulle moet jou onderklere sien as hulle daar inloer nie. In daardie kassies pak ons genoeg klere vir ’n week.

Alles waarmee ons gaan kamp, pas in die wa. Die rede hiervoor is dat ons die bed se sponsmatras in twee gesny het en hom dan voor teen die neus pak. So maak ons dan plek vir al die ander goed bo-op die bedraam.

Die waentjie is toegerus met onder meer ’n kampyskas en ’n neuskas, en het my uiteindelik in die omgewing van R35 000 gekos.


Hierdie artikel het oorspronklik in Wegsleep #88 (Mei 2016) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.