Onthou...
* As jy jou rybewys gekry het in die dae toe hy nog in jou ID-boekie gepryk het, mag jy ’n woonwa sleep sonder enige ekstra papierwerk – jou ou kode 08-rybewys het in die nuwe stelsel ’n EB-rybewys geword. As jy jou rybewys ná 1998 gekry het (toe die nuwe kaartstelsel begin is) en jy haak niks groter as ’n bagasiewaentjie vir ekstra pakplek op die langpad of om Saterdae tuinvullis weg te ry nie, kan jy ook gerus wees. Die kode B-rybewys wat jy gekry het die dag toe jy uitpasseer het, is in die haak.

Stapsgewys tot ’n rybewys

Die eerste stap om ’n EB-rybewys te kry (die een waarmee jy mag sleep), is om ’n EB-Leerlingrybewys te kry. Dié toets is presies dieselfde een wat jy moes aflê vir jou kode B-rybewys, en jy moet weer die toets aflê, al het jy ’n kode B-rybewys.

Kry daai rooi L...

Terwyl jy as leerlingbestuurder ’n wa sleep, moet daar iemand in die kar saam met jou ry wat ’n sleeprybewys het. Jy moet ook ’n L-plakker agterop die wa plak.

Oefen solank. 

As jy eers jou leerlingrybewys het, kan jy ’n afspraak maak by die verkeerskantore om uit te passeer. Jy kan op hulle baan gaan oefen; daar is sekere tye wat die konstabels die baan juis hiervoor beskikbaar stel.

Toetstyd. 

Jy kan die sleeptoets binne minder as ’n uur klaarmaak. Die werftoets duur sowat 20 minute en die padtoets minder as ’n halfuur. Belê in ’n stel van daai ronde blindekolspieëltjies en plak hulle op jou spieëlverlengings – hulle kos nie ’n plaas se prys nie, maar kan jou baie help in die toets.

Wie’s in, en wie’s uit? 

Die bruto kombinasiemassa van die sleepvoertuig vir dié toets mag nie meer as 3 500 kg wees nie, terwyl die wa se BVM meer as 750 kg moet wees. Die wa wat jy vir die toets gebruik, hoef geen vrag te dra nie.

Pasop vir vreemdelinge. 

Lê die toets af met ’n sleepvoertuig en wa wat jy ken. Moenie dink ’n klein karretjie met ’n klein waentjie maak dinge makliker nie. Onthou, hoe nader die wa se wiele aan dié van die kar is, hoe makliker en skerper draai die wa wanneer jy terugstoot. As jy kan kies tussen ’n padwa of boswoonwa, gebruik die bos- woonwa. Hy is smaller as ’n padwa en maak sake makliker, veral wanneer jy in ’n smal gang moet terugstoot.

Haastige hond... 

Die werftoets moet binne 20 minute afgehandel word. Dit is die gesamentlike stophorlosietyd van elk van die ses items bymekaar getel. Die padtoets moet jy buite die toetswerf gaan ry – en dít moet langer as 20 minute duur, maar korter as 45 minute.

Ontspan die vere. 

Gedurende die werf-toets mag jy sonder ’n sitplekgordel bestuur.

Laat waai, ou kraai. Hou weg die ongeluksvoël. 

Afhangende van die toetssentrum kan die werftoets-items in enige volgorde gedoen word.

Hou weg die ongeluksvoël. 

Indien jy gedurdend die padtoets ’n ongeluk veroorsaak of in een beland wat jy kon vermy, is dit neusie verby. As ’n botsing onvermydelik was en die kar is agterna nog padwaardig, mag jy wel die toets voltooi.

Die werftoets

Voorritinspeksie. Voor jy in die kar klim, moet jy ’n inspeksie doen om seker te maak jou kar is padwaardig. Indien iets skort – dinge soos gladde bande – beskou die owerhede die kar as onpadwaardig en sal hulle die toets summier stop. Buiten die inspeksie op die kar moet jy ook jou wa nagaan. Dit behels dat jy kyk of die neuswiel in sy plek is, maar ook onder meer of die rem af, die wiele en ligte in orde, en die hoekstutte stewig opgetrek is.

Parallelle parkering. Vir dié oefening moet jy die wa afhaak en die kar na links en regs parallel parkeer. Indien jy die werftoets slaag, mag jy die padtoets volgende doen.

Die padtoets

Onthou, hoewel dit altyd veiliger is om bedagsaam en versigtig te bestuur, kan jy wel “strafpunte” kry as jy té stadig ry vir die verkeer om jou. Die rit vir die toets moet die volgende scenario’s insluit:
• ’n Deel van die roete moet ’n pad met minstens twee bane wees waar jy van baan moet verwissel.
• Jy moet deur ’n vierrigtingstopkruising ry, plus minstens vier kruisings wat óf ’n stopteken óf ’n verkeerslig het (by twee van dié moet jy regs draai). Dan moet jy ook deur twee toegeekruisings waar jy en die aankomende verkeer elk voorrang geniet.
• Jy mag geen kruising op die roete meer as een keer uit dieselfde rigting ry nie.
• Jy moet oor minstens twee kruisings met tweerigtingverkeer ry.

En sê nou maar ek het ’n swaarvoertuigrybewys? 

Swaarvoertuigrybewyse word verdeel in C, C1, EC en EC1. Met ’n C- en C1-rybewys mag jy steeds nie iets sleep nie, maar as jy ’n EC1-rybewys het, mag jy ’n kombinasie sleep waarvan die BKM tot 16 000 kg mag wees. Vir iets groters gaan jy ’n EC-rybewys agter jou naam moet hê. (En ’n taamlike groot staanplek. – Red.)

Wat van ryhuise? 

Die meeste ryhuise word gebou op die onderstel van ’n afleweringsvoertuig met ’n BVM van meer as 3 500 kg. Normaalweg sou die bestuurder van só ’n voertuig ’n C1-rybewys moes hê, maar die oomblik dat die voertuig as ’n ryhuis (motorhome) geklassifiseer word, verval daardie beperking en word die tarra-vereiste van toepassing: Solank die tarra nie 3 500 kg oorskry nie, kan jy die ryhuis met ’n gewone B-rybewys bestuur.

Wat maak ek in die buiteland? 

Suid-Afrika is deel van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), en alle lidlande se rybewyse word onderling erken. Jy hoef dus nie ’n internasionale rybewys te kry om in een van ons buurlande te bestuur nie.

Onthou sy verjaardag. 

Jou rybewys verval elke vyf jaar. Wanneer jy aansoek doen om ’n nuwe kaart, mag jy vir nog drie maande nadat die ou kaart verval het, wettig bestuur. Maak egter seker dat jy jou ou kaart en die kwitansie wat jy met jou heraansoek gekry het, ook byderhand het.Onthou sy verjaardag.

Sê nou my rybewyskaart is weg of gesteel?

Die goed kry mos soms voete. Wat doen jy dus as jou rybewys verdwyn? Kry ’n tydelike een by die naaste toetssentrum terwyl jy wag vir jou nuwe kaart.

Sê nou ek verloor my rybewys in die boendoes?

As jy nie naby die beskawing is om ’n tydelike rybewys te kry nie, mag jy ’n beëdigde verklaring by die polisie gaan aflê. Jy kan dan vir drie dae met dié
verklaring ry totdat jy by ’n toetssentrum kan uitkom. Sorg dat die inhoud van die verklaring die volgende duidelik uiteensit:

Hoekom jy nie die kaart het nie. Dit gaan moeilik wees om te verduidelik: “Jammer konstabel, maar ’n luiperd het my liksens opgevreet”, maar probeer maar.

Die kode rybewys wat jy het. Moenie nou probeer voorgee jy het ook ’n swaarvoertuiglisensie én een vir ’n motorfiets ook nie... 

Enige beperkings op jou rybewys. Dis nou goed soos dat jy ’n bril moet dra op die pad of net ’n outomatiese voertuig mag bestuur.

Waar die rybewys uitgereik is. Dis sodat die verkeersmanne kan grappies maak oor watter provinsie die beste bestuurders het.