Ek het dié waentjie, ’n Trail-a-Way, meer as 10 jaar gelede vir R800 gekoop. Soos ek verstaan, is dié waentjies in Durban gebou, maar die vervaardiger het glo tot niet gegaan. 

Die Trail-a-Way is van aluminium gemaak en weeg ’n skamele 56 kg. Ek moet sê hy spring ’n bietjie rond op die pad sonder ’n vrag, maar hy kan 250 kg dra – ek het al ’n dubbelbed op hom aangery. Jy kan hom selfs in jou kar se bagasiebak opvou en wegbêre wanneer jy hom nie gebruik nie.

’n Mens het geen gereedskap nodig om die Trail-a-Way op te slaan nie. Jy kan hom binne vyf minute opvou en van ’n karweier verander in ’n koffietafel wat in ’n klein woonstel sal pas.

Wanneer jy die waentjie nie gebruik nie, hoef hy dus nie buite te staan nie.

Ek het ’n daktent wat toevallig ook op die waentjie pas, maar het nog nie self daarin geslaap nie – dis maar net vir die kinders om in te speel.
Baie mense wou hom al by my koop, maar ek is nie seker of ek wil verkoop nie. Ek gebruik die waentjie nie regtig op die oomblik nie, maar ’n mens weet nooit wanneer jy ’n sleepwa gaan nodig kry nie.

• Hierdie artikel het oorspronklik in 2016 op ons webwerf verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.