Jy benodig:

• ’n Koperpyp van ongeveer 1 m lank.

• ’n Plastiekpyp van 2 m lank soos dié in ’n vistenk.

• 2 koppelstukke vir die koperpyp en plastiekpyp.

• ’n Gasbottel en brander (verkieslik ’n groot sirkelvormige brander).

• ’n 12 V-pomp wat jy aan ’n battery of kar kan koppel.

• ’n waterdrom wat genoeg water hou vir stort.

• ’n 12 V-stort wat jy by die meeste buitelugwinkels kan koop.

Só maak jy:

Buig die koperpyp sodat dit in ’n spiraal oprol, amper soos jy ’n rol wors op ’n rooster sou oprol.

Sny die plastiekpyp middeldeur.

Sit die twee koppelstukke aan die twee punte van die koperpyp en heg die twee plastiekpype aan die koppelings op elkeen van die koperpyp se twee punte. Laat lê die twee punte van die plastiekpype in die waterdrom.

Koppel die waterpompie in jou waterhouer aan ’n battery en skakel dit aan. Die water sirkuleer nou deur die plastiekpypies, deur die koperpype wat op die oop vlamme rus en weer deur die waterdrom. As jy jou 12 V-stort se pompie in die waterdrom sit, kan jy lekker stort in water van 45-50 ºC.