Dit is nooit lekker nie, en dit voel altyd of dit te veel geld kos. En hoewel ons verstaan dat jy gaan rondsoek vir die beste waarde vir geld, is dit nie altyd ’n goeie plan om Eerlike Eddie se winskoopbande van die week op jou wa te sit nie. Daar is ’n klomp dinge wat jy in ag moet neem.

Kyk na die vervaardiger

’n Goeie vertrekpunt is om te kyk hoe vervaardigers besluit op die bande waarmee hulle waens uit die fabriek kom. Clive Cox, Jurgens Ci se ontwikkelingsbestuurder, sê die eerste ding wat hulle in ag neem, is die grootte van die wielvelling.

“Dit kan wissel tussen 13-, 14- of 15 duim, maar dis meer ’n estetiese ding as enigiets anders,” sê Clive.

“Om die waarheid te sê beweeg ons weg van 13 duim-vellings omdat dit deesdae moeilik is om hulle in die hande te kry. Die meeste van ons woonwaens is op die oomblik op 14 duim- en ons boswaens op 15 duim-vellings.”

As die grootte van die velling vasgestel is, sê Clive, kyk hulle na die band self.

“Een van die allerbelangrikste faktore wat ons in ag neem, is of die band die wa se vrag kan dra. En daarvoor kyk ons na die wa se bruto voertuigmassa (BVM). Vir dié doeleindes gebruik ons die gewig van die swaarste wa in ons onderskeie reekse, soos byvoorbeeld die Exclusive. Ons vat dan sy BVM en gebruik die vragindeks vir bande wat internasionaal erken word om die geskikte band te kry. Dit geld dan vir al die waens in ’n betrokke reeks. As jy byvoorbeeld ’n enkelaswa het met ’n BVM van 2 000 kg, bepaal die wet dat elkeen van die wa se bande ’n gewig van 1 000 kg moet kan dra.”

Spoedvraat

Clive sê die tweede, ewe belangrike, oorweging is die spoedperk van die bande. “In terme van ons wetgewing, waar ons nie toegelaat word om vinniger as 120 km/h te ry nie, het ons dus bande nodig met ’n spoedperk van minstens 120 km/h.

“Die bande wat in Suid-Afrika beskikbaar is, is dus in staat om tot op ’n snelheid van 180 km/h of selfs vinniger te ry – nie dat jy só vinnig moet sleep nie. Maar die rede hoekom daar ’n spoedperk op bande is, hou verband met die samestelling van die rubber waarvan die band gemaak word. “Wanneer jy ry, bou daar hitte in jou bande op, en hulle word ontwikkel en vervaardig om te verseker dat die rubber in jou band teen daardie betrokke snelheid en hitte bymekaar bly. As jy dus teen 120 km/h ry en jou band het ’n spoedperk van net 80 km/h, kan jy seker wees daardie band gaan vroeër eerder as later bars. Dit is baie belangrik om te let op die spoedperk van die band, want dit kan tot groot problem lei as ’n mens ’n fout begaan.”

Jannie Breed

As die dravermoë en spoedperk uitgesorteer is, besluit Clive hulle oor die breedte van die band. 

“Ons kyk na 185 mm, 195 mm, 205 mm of wat ook al die geval is. Maar dit is van mindere belang as die vragindeks en spoedperk van die bande,” sê Clive.

Daarna stel hulle vas watter bande wat aan dié spesifikasies voldoen, is in die mark beskikbaar.

“Vir ons woonwaens gebruik ons kommersiële bande. Dit is soortgelyk aan dié wat op minibustaxi’s gebruik word, juis oor daardie bande se dravermoë. Ons sit nie gewone sedanmotorbande op ons woonwaens nie. “Ons kyk na wat in die mark beskikbaar is deur die onderskeie verskaffers. Om verstaanbare redes koop ons nie bande in die kleinhandelmark nie, maar eerder van mense wat dit invoer óf direk van die fabriek af. Ons neem dus beslis ook die prys van die band in ag en probeer vir ons klante besparings bewerkstellig.”


Die Spesifikasies

Al die inligting wat jy oor jou wa se bande benodig, staan op die band se sykant. Kom ons gebruik die voorbeeld van die band waarmee die Sprite Tourer SW, met ’n BVM van 1 450 kg, uit die fabriek kom  ’n 215/80 R 15 110 S-band. 

Die 215 is die breedte van die band, in millimeter.
Die 80 is die profiel van die band, of dan die verhouding tussen die hoogte van die band se sykant teenoor sy breedte. Dit word uitgedruk as ’n persentasie.
Die R is vir “radiaal” wat basies beteken daar is lae versterking in die band wat dwars met die loopvlak loop.
Die 15 beteken die band is ontwerp om op ’n 15 duim-velling te pas.
Die 110 is die band se vragindeks. Volgens die indeks kan ’n band met ’n 110- indeks ’n gewig van 1 060 kg dra. Dit beteken die dravermoë van die twee bande op die wa is 2 120 kg.
Die S is die band se spoedperk, wat beteken hy is gemaak om tot op ’n snelheid van 180 km/h te ry.


Nuwe Tekkies

As dit dan tyd is om nuwe bande vir jou wa te koop, beveel Clive aan dat jy sover moontlik hou by die spesifikasies van die bande waarmee die woonwa uitgekom het. Maar wanneer is dit tyd om hulle te vervang? Volgens die Padverkeerswet is jou bande wettig as daar nog minstens 1 mm loopvlak oor is op die band. Die loopvlak moet reg oor die breedte en omtrek van die band eweredig wees, en die patroon moet steeds duidelik sigbaar wees.

Clive waarsku egter dat bande ook verval, selfs al het hulle nog meer as genoeg van hulle loopvlak oor. “Daardie rubbersamestelling van jou band het ’n vervaldatum en dit is gewoonlik rondom vyf jaar ná die vervaardigingsdatum,” sê hy. Die datum waarop jou band vervaardig is, is ook op die sykant aangebring. In die geval van die Tourer SW se band wat ons as voorbeeld gebruik, is dit die nommer 4313. Dit beteken die band is in die 43ste week van 2013 vervaardig, wat beteken dat hy hier teen middel Oktober 2018 verval.

“ ’n Mens hoor gereeld van mense wat veral met ouer woonwaens wat hulle ’n klompie jare nie gebruik het nie, gaan kamp en dan bars die band nadat hulle ’n kort afstand gery het. Dit is omdat die band verval het, selfs al was sy loopvlak nog goed,” sê Clive.

“Die ding wat ’n mens van woonwabande moet onthou, is dat hulle nooit regtig hulle lewensduur in terme van kilometers afgelê bereik nie. Dit is nie soos op jou kar waar jy 60 000-80 000 km met jou bande aflê nie. In dieselfde tydperk sal jou woonwa dalk net 15 000 km aflê. Maar jy moet hulle steeds ná vyf jaar vervang.”

Handhaaf ’n lae profiel

Maar hoe gemaak as jy jou wa wil opdollie met blink nuwe 17 duim-vellings en ’n stel laeprofielbande? Jy kan en mag dit doen, sê Clive, mits die velling én die band die vragindeks het om jou wa se BVM te kan dra.

Onthou, dit word deur twee gedeel – as jy dus nuwe vellings en bande op jou Tourer SW wil aanbring, moet hulle onderskeidelik ’n gewig van minstens 725 kg kan dra. Jy moet ook seker maak die algehele deursnee van die velling en die band is dieselfde as die standaardband waarmee die woonwa vrygestel word. Die rede hiervoor is jou wa se remme. Dit is gestel volgens die spesifikasies van die standaardvelling en band, en as jy dit oorskry, kan jy moeiliheid kry. Moet dus nie ’n groter velling aanbring en dan dieselfde profiel band gebruik as die standaard nie. Neem altyd die algehele deursnee van die kombinasie in ag.

Clive stel voor jy gesels met jou plaaslike handelaar en vertel hom van jou planne, om te hoor of dit sal werk.

Nog iets wat jy in ag moet neem wanneer jy nuwe vellings wil opsit, is die posisie van die middelpunt (waardeur die wielboute gaan). Clive sê dit moet ooreenstem met die wa se oorspronklike velling. “As die middelpunt verder weg van die onderstel af sit as die oorspronklike, kan jou band te naby aan die wa wees. En as hy te naby aan die onderstel sit, gaan jou band buite die wielboog uitsteek. En nie een van dié situasies is goed vir jou wa óf bande nie.”

Laat die wiele rol

Clive beveel aan dat jy jou wa se wiele minstens een keer per maand roteer wanneer hy vir lang tye by die huis staan. Bande wat lank stilstaan, plat af aan die onderkant – dís wat veroorsaak dat jy ’n klopgeluid hoor as jy die eerste keer in ’n lang ruk sleep. In terme van banddruk sê Clive jy moet jou laat lei deur die aanbeveling wat bo jou wa se wielboog aangebring is. “Vir padwaens is dit gewoonlik rondom 2,5 bar, afhangende van hoe swaar jou wa gelaai is. Hoe swaarder die wa, hoe nader moet jy die band aan sy maksimumbanddruk pomp.”