Eddie Buitendag van Gansbaai het dié slim plan gesien toe hy onlangs saam met sy Namakwalandse swaer, Gideon Adriaanse, gaan kamp het. "Dis ’n windskerm vir my gasstoof, en eintlik bedoel vir daardie gietystermodelle met die vier pote – ek het hom effens aangepas en nou werk hy soos ’n bom." Hy verduidelik.

Ek het ’n metaalammunisiekis gevat en ’n gat in die voorkant gesny wat groot genoeg is sodat die gasstoof se pyp en beheerklep daardeur kan pas. Om die stoof te laat pas het ek net die agterste twee pote binnetoe gedraai.

Nou kan ek onverstoord op hom kook, sonder om my te bekommer oor die wind wat die hitte wegwaai. Die kans dat hy per ongeluk omgestamp kan word, is ook aansienlik skraler.

Wanneer ek klaar is, lig ek die stoof en draai hom dwars in die kas met die reëlaar en die pype aan die binnekant.

Dan maak ek hom toe met die kis se deksel en hy is reg om weg te pak of te vervoer.