Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
By
Bevoorregting in perspektief

Sy is nie ’n vrygeborene nie, maar was te jonk om ’n direkte aandeel aan apartheid te gehad het. Maar sy is ook die erfgenaam van ’n bestel wat haar toegerus het om moontlikhede raak te sien en geleenthede aan te gryp. Dít is wat historiese bevoorregting beteken, skryf Lindie Koorts.

Bevoorregting
Bevoorregting. Skets: Hanlie Malan

Ek gaan dit eerlik erken: Toe ek aanvanklik die term “wit bevoorregting” gehoor het, het ek moeilik daaraan gesluk. Nie omdat ek dadelik gedink het dit is onwaar nie, maar omdat dit nie my beeld van myself, of my kennis van Afrikaner-geskiedenis akkuraat weerspieël nie.

Een van die vernaamste komponente van Afrikaner-geskiedenis, wat ek lank bestudeer het, is die armblanke-vraagstuk in die eerste helfte van die 20ste eeu, en die uitwerking daarvan op Afrikaner-nasionalisme.

Armblankes kan tog nie bevoorreg genoem word nie? Wit mense kan nie eenvoudig oor dieselfde kam geskeer word nie? Ons is veelvuldig en ons het uiteenlopende belewenisse van die geskiedenis. Die gedagte aan wit bevoorregting was dus vir my ’n simplistiese konsep wat die kompleksiteit van die geskiedenis ignoreer.

Moeilike kinderdae

En, soos ek sê, dit weerspieël nie my eiebeeld nie. Ek is die kind van ’n enkel-ma. Sy is ’n dinamiese vrou wat teen 35, met drie kinders tuis, die korporatiewe leer tot op direksievlak bestyg het – dít was die voorbeeld waarmee ek grootgeword het.

Maar my ouers se egskeiding en ’n korporatiewe kultuur wat vereis het dat professionele vroue moes voorgee hulle het nie gesinne nie, het ’n andersins rooskleurige verhaal in ’n nuwe rigting gestuur.

My ma het die korporatiewe wêreld vaarwel toegeroep en haar eie onderneming begin. Maar, soos wat met vele nuwe besighede gebeur, het haar eerste poging nie geslaag nie. Dit het ons ’n wesenlike finansiële knou toegedien.

Maar daardie knou het nie haar identiteit verander nie. Ons het na Johannesburg verhuis, en ek is na ’n spog-model C-skool in die noordelike voorstede gestuur, want my ma het daaraan geglo om ons in ’n omgewing groot te maak waar sukses die norm is.

Toe dit tyd word om universiteit toe te gaan, was daar nie werklik geld daarvoor nie, maar nooit het dit by ons opgekom dat ek nié sou gaan nie.

Tussen ’n klomp bedorwe rykmanskinders het ek klippe gekou en ons situasie by die huis in skaamte weggesteek. Daar het ek gesien hoe mense al die geld en geleenthede in die wêreld kan hê, maar dit nogtans kan verkwis. En ek het uiterse arrogansie beleef, wat my vandag nog laat rooi sien.

Dit het ’n drif in my wakker gemaak, en ek het besluit om myself op die enigste manier wat ek tot my beskikking gehad het te onderskei: deur kliphard te werk en akademies te presteer. En ek sou nie ophou voordat ek nie ’n doktorsgraad het nie.

Toe dit tyd word om universiteit toe te gaan, was daar nie werklik geld daarvoor nie, maar nooit het dit by ons opgekom dat ek nié sou gaan nie.

Deur my pa se maatskappy kon ek ’n beurs vir my eerste graad kry en met goeie punte kon ek merietebeurse kry om my lewenskoste te dek. Tydens my nagraadse studies was daar groter beurse, ek kon as navorsingsassistent, tutor en hulpbibliotekaris werk. En waar daar steeds gate was, kon ek dit met studielenings toestop – want my pa het sy huis besit en kon borg teken.

Ek het myself selfvoldaan op die skouer geklop.

Terwyl die rykmanskinders rondgeflenter het, het ek hard gewerk en elke geleentheid wat aan my gebied is, aangegryp. My sukses kon nie aan bevoorregting toegeskryf word nie, ek het my kant gebring.

Uit ’n ander hoek

Tot ek ’n paar treë terug gegee het, en my “suksesverhaal” vanuit ’n ander hoek betrag het.

Want my gesin het ’n enkele knou gekry, waarvan ons lank reeds herstel het – my ma floreer vandag in haar nuwe beroep. Ons kon herstel, want ons het ’n stewige basis gehad.

Daar was ekonomiese organisasies, soos Federale Volksbeleggings, wat in Afrikaanse besighede belê het. Een van sy eerste lenings was aan ’n jong Anton Rupert.

Ons identiteit van sukses het nie verander nie, die moeilike situasie was altyd net tydelik, en tersiêre studies was steeds vanselfsprekend. Ek was nie die eerste in my familie om te gaan studeer nie, en ons het geweet hoe om die stelsel te navigeer sodat ek my studies kon finansier. Die spogskool vol rykmanskinders het uitstekende onderwysers gehad, dus was die onderrig wat ek ontvang het van die hoogste gehalte.

Nooit was daar ’n kommer as ek sou siek word nie – ek is deur my pa se mediese fonds gedek. En terwyl ons saam met die res van Johannesburg bekommer het oor motorkapings en huisroof, was daar nie bendegeweld in die strate nie, en moes ek nie openbare vervoer in ’n lendelam minibus aandurf terwyl die koeëls om my suis nie.

Op soveel klein maniertjies wat ek nie tóé raakgesien het nie, was ek steeds bevoorreg, en het ek al die middele tot my beskikking gehad om die hoogste sport te bereik.

Helpmekaar-gees

Daar is ’n weerspieëling daarvan in die Afrikaner se geskiedenis. Ons roem ons op die Helpmekaar-gees en die kultuur van “selfdoen” wat in die eerste helfte van die 20ste eeu posgevat het.

Afrikaners het geld ingesamel en organisasies gestig om die armblankes op te hef. Die Helpmekaar Studiefonds, waaroor die historikus Anton Ehlers breedvoerig geskryf het, was een van die vernaamste voorbeelde daarvan.

Ek het eers besef watter selfvertroue ’n wit vel in Afrika mens gee toe ek die eerste keer in Engeland gaan navorsing doen het.

In sy eerste agt dekades het die fonds beurse aan meer as 6 300 talentvolle jong Afrikaners gegee. Onder hulle tel mense soos Chris Barnard, Frederik van Zyl Slabbert, Breyten Breytenbach, Pieter Dirk-Uys en Arno Carstens. Daar was ekonomiese organisasies, soos Federale Volksbeleggings, wat in Afrikaanse besighede belê het. Een van sy eerste lenings was aan ’n jong Anton Rupert.

Maar so ’n verhaal is ook gekoppel aan hoe Afrikaners hul politieke kapitaal ingespan het. Hulle het gestem vir ’n party wat hul belange vooropgestel het, en wat vir hulle strukture geskep het waarbinne hulle kon floreer – hetsy deur die bou van sterk instellings, hetsy deur “beskermingsmaatreëls” in die vorm van apartheid, wat swart mededinging van die baan gevee het.

Teen die 1960’s was die armblankevraagstuk iets van die verlede en het staatsamptenare en sakemanne (onder wie my twee oupas), soos die historikus Albert Grundlingh geskryf het, met hul ivoorkleurige Mercedes Benze gespog.

En wat het dit aan ons denkwyse gedoen, en aan die manier waarop ons die wêreld benader?

Wat bevoorregting beteken

Ek het eers besef watter selfvertroue ’n wit vel in Afrika mens gee toe ek die eerste keer in Engeland gaan navorsing doen het.

Lindie Koorts

Ek is na ’n 400 jaar oue herehuis buite Londen, die setel van die markies van Salisbury, wie se voorsaat teen die Boere oorlog gevoer het. Daar was geen sprake dat ek by die enorme voordeur sou ingaan nie – ek moes by ’n sy-ingang gaan aanklop, van waar ek na ’n neusoptrekkerige argivaris gelei is.

In só ’n omgewing dra ’n titel wat mens self verwerf het geen gewig teenoor ’n titel wat geërf is nie. Ek het myself vervies vir die meerderwaardigheid, want waar ek vandaan kom, staan ék boaan die sosiale rangleer. Dit was ’n oomblik van gewaarwording.

Tegnies is ek nie ’n vrygeborene nie; ek kan Nelson Mandela se vrylating onthou. Maar ek was ’n laerskoolkind toe hy president geword het, en te jonk om ooit vir die NP te kon stem. Het ek ’n direkte aandeel in apartheid gehad? Nee. Het ek hard gewerk om te kom tot waar ek is? Gewis. Word ek in my loopbaan deur ’n beleid soos regstellende aksie geraak? Ja.

Maar is ek ook die erfgenaam van ’n bestel wat my toegerus het om moontlikhede raak te sien en geleenthede aan te gryp? Ja. Dít is wat historiese bevoorregting, oor geslagte heen opgebou, beteken.

Meer oor:  Lindie Koorts  |  Apartheid  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.