Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Huisgids
As noodlot tref en jy nie huur kan betaal

Die kredietverslaggroep Experian het onlangs berig dat verbruikers sukkel om by te hou met hul skuldterugbetalings en dat wanbetaling aan die toeneem is, selfs onder diegene wat nog altyd ’n goeie betalingsrekord gehad het. Redes hiervoor is die swak ekonomie wat in stygende lewenskoste, lae salarisverhogings en ’n toenemende risiko van afleggings en werkloosheid manifesteer.

Vir die meeste verbruikers is hul huur of huislening hul grootste maandelikse uitgawe. Dit is ook die belangrikste uitgawe omdat dit verseker dat jy ’n dak oor jou kop het. Maar wat moet jy doen as dit al hoe moeiliker word om jou maandelikse huur of huispaaiement te bekostig?

Stuart Manning, uitvoerende hoof van die Seeff Eiendomsgroep, sê dis belangrik om so gou as moontlik stappe te neem om die finansiële risiko te verminder.

Jy sal tot aksie moet oorgaan as jou finansiële vooruitsigte sleg lyk. Foto: iSTOCK

Jy kan nie huur betaal nie

’n Eerste opsie kan wees om ’n woonstel- of huismaat te kry om die koste te deel. As dit egter nie moontlik is nie is dit beter om so gou as moontlik met die verhuringsagent of eienaar van die eiendom te praat.

Stel hulle in kennis van die probleme en vind uit of ’n huurvermindering moontlik is. Dikwels sal ’n verhuurder bereid wees om die huur te verlaag om ’n goeie huurder te behou.

Sou jy egter vind dat selfs ’n huurvermindering nie sal help nie en jy eenvoudig nie kan voortgaan met jou bestaande huurkontrak nie, kan jy jou op die Wet op Verbruikersbeskerming beroep. Ingevolge dié wet kan jy dan 20 werksdae kennis gee om jou huurkontrak te kanselleer. Let egter daarop dat daar waarskynlik bykomende koste daaraan verbonde sal wees, maar dit sal gewoonlik nie meer as een maand se huur beloop nie. Deesdae maak huurkontrakte voorsiening vir kansellasiegelde. Gaan jou kontrak dus versigtig na.

Die kansellasie moet geskrewe wees en dit is belangrik dat alle korrespondensie altyd op skrif is. Die verhuurder mag nie jou deposito weerhou nie en dit moet ingevolge die Wet op Huurbehuising terugbetaal word binne ’n spesifieke tydperk. Die verhuurder mag egter ’n bedrag vir redelike herstelkoste verhaal indien daar enige skade aan die eiendom is, maar daar moet bewyse hiervan wees. Geskille kan na die huurbehuisingstribunaal verwys word.

Jy kan nie huislening betaal nie

Dit is moeiliker om uit ’n huisleningskontrak te kom as uit ’n huurkontrak, aangesien die eiendom verkoop moet word en dit lank kan neem. Die finansiële implikasies kan groot wees en jy moet optree sodra jy besef dat die maandelikse terugbetalings ’n uitdaging word. Hoe langer jy wag, hoe groter word die finansiële druk en aanspreeklikheid.

Begin met ’n oproep na die huisleningverskaffer. Banke is gewoond daaraan om mense met finansiële probleme te adviseer en kan help om oor ’n moontlike oplossing leiding te gee. Dit kan onder meer ’n kort opskorting van die terugbetalings insluit, ’n herstrukturering van die terugbetalings, ’n voorstel vir skuldkonsolidasie of ’n kombinasie van hierdie faktore.

As die probleem van ’n ernstiger aard is, is dit moontlik beter om jou eiendom te verkoop en dan te huur totdat jou finansiële posisie verbeter. In so ’n geval is daar die Seeff Express-verkoopprogram wat huiseienaars wat hulself in ’n finansiële verknorsing bevind, help deur die eiendom so vinnig as moontlik teen die beste prys te verkoop.

  • Besoek www.seeff.com vir jou naaste Seeff-tak.
Meer oor:  Experian  |  Eiendomme  |  Huisgids
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.