Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Huisgids
Badkamerwenke van ’n meester

Badkamers van ouds het nie veel aandag geniet tydens die ontwerp en versiering van huise nie. Die badkamer is beskou as ’n praktiese vertrek, meestal sonder enige unieke aspekte. Manual Brazao, die ontwikkelaar van ’n treffende, moderne woning in die Eagle Canyon-gholflandgoed in Johannesburg, het besluit om die huis se badkamers vanuit ’n ander oogpunt te benader. Sagte kleure, tydlose afwerkings en klassieke lyne is regdeur gebruik.

Die groot spieëls rond die hoofslaapkamer se badkamer perfek af.

Brazao glo dat die badkamer nie net ’n praktiese vertrek moet wees nie, maar ’n vertrek waar jy jou siel kan voed aan die einde van ’n lang dag. Hy het die perfekte balans verkry tussen praktiese en tydlose, elegante afwerkings – ontwerp, vervaardig en geïnstalleer deur Dezign A Door.

Brazao het besluit op ’n neutrale kleurskema van kraakvars wit, sagte room, warm bruin sowel as dieper en ryker kleurspatsels. Hierdie kleurkombinasies word baie doeltreffend gebruik om ’n rustige, tydlose en elegante gevoel te skep. Verskeie skakerings van dieselfde kleur word regdeur die badkamers herhaal, van die badkamerkassies, teëls en verf tot in die dekor. Dit is ’n baie slim idee, want sodoende verseker Brazao dat die gekose kleurskema regdeur die huis vloei.

Die badkamerkassies met stylvolle wit wasbakke.

Net soos Kippie en Kandas by mekaar pas, moet jou handvatsels pas by jou kas. Jou handvatsels rond jou kaste af. Brazao het besluit op die tydlose slim­line, matt black handvatsels. Vir daai tikkie speelsheid het hy besluit om die handvatsels horisontaal én vertikaal te installeer.

Floating vanities oftewel drywende badkamerkassies, was nog altyd sinoniem met die moderne styl, maar tye het verander. Vandag word baie meer aspekte in ag geneem. Jou persoonlike styl of selfs net die beskikbare vierkante meter kan ’n groot invloed op jou keuse van badkamerkassie hê.

Al vier die badkamers in hierdie huis, van die gastetoilet regdeur tot in die hoofslaapkamer, het floating vanities in verskillende style, kleure, dimensies en afwerkings. Elke badkamerkassie is elegant afgewerk met ’n suiwer wit keramiekwasbak wat bo-op die blad geïnstalleer is, gekombineer met klassieke silwer hardeware.

Die drywende badkamerkassies is subtiel en steel nie die fokus weg van die pragtige aksentpunte in elke vertrek nie. Die enkeldeurkassies het ook ’n addisionele kompartement aan die een kant van die kassie wat sorg vir bykomende pakplek.

In die bad kan ’n mens heerlik ontspan aan die einde van die dag.

Die hoofslaapkamer se badkamer slaan die asem weg! Die dubbele wasbakke, groot losstaande bad en reusagtige stort met groot glasdeure is rondom ’n sentrale sitarea gebou, stylvol afgerond met sagte matte en gemaklike sitplekke. Die Satin Overcast-deure verleen ’n skerp kontras teen die wit melamienkaste, ’n reuse-treffer vir hierdie vertrek. Natuurlik is die pragtige groot spieël, geraam in swart, nog ’n stylvolle byvoeging tot hierdie badkamer. ’n Pragtige geraamde spieël is altyd ’n aanwins vir enige badkamer. Die weelde van hierdie vertrek word verder beklemtoon deur die vloer-tot-dak marmer­teëls. Slim beligting rond die prentjie perfek af.

Nog ’n slim spasie idee van Brazao is om ’n “klerespens” in die badkamer te installeer, in plaas van in die slaapkamer. Variasies van die klerespens word reg deur die huis gesien. Hetsy die badkamer slegs die klerespens het, of ’n groter aantrekarea saam met die klerespens het, ons is mal oor die idee!

Elke badkamer in dié Eagle Canyon-huis het vloer-tot-dak­teëls en ’n groot glasstort. Die resultate is die totale gevoel van zen, rustigheid en ruimte in elke badkamer.

Hang jou klere in die handige “klerespens”.

Salig is die enigste woord om hierdie badkamers op te som. Die ideale ruimte om te ontspan en jou sorge weg te was ná ’n lang dag.

  • Vir meer inspirerende badkamer-idees, gaan na www.dezign­adoor.co.za.
Was die dag se sorge weg in ’n groot glasstort.
Meer oor:  Wenke  |  Badkamer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.