Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Huisgids
Boetes en deeltitelskemas

Is dit moontlik vir ’n regspersoon in ’n deeltitelskema om boetes teen die lede (eienaars) te hef en te verhaal?

Daar is gedrags- en bestuursreëls om na te kom in ’n deeltitelontwikkeling, anders kan jy dalk ’n boete opgelê word deur die HEV.Foto: iSTOCK

Die Appèlhof van Suid-Afrika het op 28 Maart 2019 beslis dat dit wettig is vir ’n huiseienaarsvereniging (hierna verwys as “HEV”) om spoedgrense binne die landgoed vir sy lede op te lê en af te dwing.

In die saak van Mount Edgecombe Country Club Estate Management Association II (RF) NPC versus Niemesh Singh en andere (323/2018) het die appèlhof die reg van ’n HEV om spoedgrense en boetes binne die landgoed op te lê, oorweeg.

Die hof het beslis dat ’n HEV by magte is om sy eie reëls, wat insluit spoedgrense vir die interne paaie, daar te stel en om boetes op te lê vir die oortreding daarvan. Hierdie reëls is egter slegs afdwingbaar teenoor die partye tot die kontrak (die eienaar en die HEV).

Die voorgestelde bestuursreël 25(5) soos vervat in die Deeltitelskemabestuursregulasies van 2016 tot die Deeltitelskemabestuurswet, Nr. 8 van 2011 (hierna verwys as die “Wet”) behandel bydraes en kostes deur lede in deeltitelskemas.

Die reël bepaal dat ’n regspersoon nie geregtig is om enige lid se rekening te debiteer met enige ander bedrag as die bydrae of kostes soos voor voorsiening gemaak in die wet of reëls nie. Die lid kan egter sy/haar toestemming hiervoor gee of dit kan gemagtig word deur ’n hofbevel of ander bevel.

’n Regspersoon is dus nie geregtig om enige boetes op die rekening van ’n lid (eienaar) van die regspersoon te voeg indien die reëls nie daarvoor voorsiening maak nie.

Enige boete of administratiewe geld of invorderingsgeld wat teen enige lid/eienaar gehef word deur die regspersoon sal onwettig wees tensy so ’n boete of geld deur die skema se bestuurs- of gedrags­reëls gemagtig is. Enige wysiging tot die voorgestelde reëls wat voorsiening maak vir boetes en gelde moet eers deur die ombudsman goedgekeur word.

Artikel 10 van die Wet maak voorsiening vir sogenaamde konsep- of voorgestelde reëls. Hierdie reëls bestaan uit die bestuursreëls en die gedragsreëls.

Die bestuursreëls kan gewysig word onderhewig aan die goedkeuring van enige wysiging deur die hoofombud.

’n Ontwikkelaar is by magte om die voorgeskrewe bestuursreëls, wanneer hy/sy aansoek doen om die opening van die deelregister, te vervang, aan te vul, te wysig of te herroep.

Die bestuursreëls kan ook van tyd tot tyd by wyse van ’n eenparige besluit (soos voorgeskryf in die regulasies) deur die lede van die regspersoon vervang, aangevul, gewysig of herroep word.

Die gedragsreëls kan ook gewysig word onderhewig aan die goedkeuring van enige wysiging deur die hoofombud.

’n Ontwikkelaar is by magte om die voorgeskrewe gedragsreëls, wanneer hy/sy aansoek doen om die opening van die deelregister, te vervang, aan te vul, te wysig of te herroep.

Ferdi Verryn

Die gedragsreëls kan ook van tyd tot tyd by wyse van ’n spesiale besluit (soos voorgeskryf in die regulasies) deur die lede van die regspersoon vervang, aangevul, gewysig of herroep word – met die voorbehoud dat enige gedragsreël nie onversoenbaar mag wees met enige voorgeskrewe bestuursreël soos hierbo na verwys nie.

Vir ’n boete of geld om wettig deur die regspersoon afgedwing te word, moet die reëls wettiglik gewysig word deur die nodige besluit geneem deur die lede, en deur die ombud goedgekeur word.

Wanneer ’n boete opgelê word, moet die lid redelike kennis gegee word dat die boete by sy/haar rekening gevoeg gaan word. Die eienaar moet ook die geleentheid gebied word om sy/haar kant van die saak aan die trustees of bestuursagent te stel.

Dit is belangrik om daarop te let dat enige reël (wysiging) redelik moet wees en in gelyke mate op alle eienaars van eenhede in die deeltitelskema van toepassing moet wees. Die trustees moet alle eienaars dieselfde behandel.

Meer oor:  Ferdi Verryn  |  Eiendomme  |  Huisgids
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.