Centurion, in die middelpunt van Gauteng, dit is waar jy moet wees!
As jy ’n ongelowige Thomas is, neem gou die Gautrein, kom kyk self – en word wys.
SuperSport Park en sy krieketlegendes sal jou verwelkom sodra jy by die Gautrein-stasie afklim.
Kom geniet ons heerlike sonskynweer en windlose dae, bly permanent hier tussen vriendelike mense en lewer ’n bydrae met jou kundigheid.
Indien jy vir eers net wil kom kuier om navorsing te doen, kom gou en kry die ware feite.
Die Centurion-meer met sy besoedelde water is die enigste klein probleempie in ons omgewing, so dit is nie nodig om kleinserig te wees nie, ons is eerlike mense hier wat niks wegsteek nie.
Die Rietvleidam-natuurreservaat met sy renosters, seekoeie, luiperds en ons vele geveerde vriende sal jou met bewondering laat staar en luister.
As die son sak is dit tyd om die babers te voer by Irene Country Lodge waar swart swane en kolganse rustig dobber op waters waarop son en wolke helder kleure weerkaats.
Die Jan Smuts-museum in Irene herinner jou dat jy op die skouers staan van groot geeste van lank voor jou tyd.
Stap op teen die Smutskoppie en bekyk die area met die besef: Al die mooi en lekker van ons omgewing het nie sommer uit die niks neergedaal nie.
Die hardwerkende en vriendelike Centurion-bewoners het dit alles saam tot stand gebring oor ’n baie lang tyd.
Moeg en honger ná al die opwinding? Hier is genoeg goeie restaurante: Die Bosvelder, The Godfather, Ocean Basket, Leriba Lodge, Spur, Craw Daddy’s en nog meer.
Of doen inkopies by een van die vele winkelsentrums as dit jou laat ontspan.
Geleenthede is bereikbaar en volop. Ry werk toe met die gerieflike snelweg in jou blinknuwe motor na groot stede soos Pretoria of Johannesburg. Of neem die Gautrein as jy dit verkies.
Die gewilde boomryke Irenemelkplaas met restaurant (nog een) en Rooihuiskraal-terrein met sy mak diere wag naweke vir jou en die gesin. Braai heerlik terwyl die kinders baljaar.
Hier is blyplek te kies en te keur.
Huur ’n woonplek naby die Gautrein-stasie en middestad of koop ’n groot huis in ’n landgoed as ruimte en die harde klein wit balletjie jou gelukkig maak.
Jou kinders sal mal wees oor die veilige, gerieflike Centurion met sy goeie skole, ’n minigholfbaan en partytjieplekke. Hier kan julle leef!
Huisgids het lesers wat in Centurion woon gevra om te skryf oor hoekom hulle so baie van dié area hou. Frans Labuschagne het die wenbrief geskryf, en hy wen ’n koopbewys van R2 000 van Stewart & Lloyds in Pretoria. Baie geluk! Ons volgende fokusarea is Pretoria-Noord: Florauna, Bergtuin en Akasia. As jy in een van dié buurte bly, skryf vir ons ’n brief van nie meer as 500 woorde nie oor hoekom dit so ’n lekker plek is om in te bly. Stuur dit voor Vrydag 21 Junie na huisgids@beeld.com. Jy is dalk ook ’n wenner!