Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Huisgids
Data sleutel tot ’n beter ervaring

Dit is duidelik dat data al hoe waardevoller in die 21ste eeu word.

Data en tegnologie in die eiendomsbedryf is hier om te bly. Foto: iSTOCK

Hoewel die eiendomsbedryf dalk agter ander bedrywe is wat betref die effektiewe gebruik van data om dienste te verbeter, gee ’n paar innoverende ondernemings die pas aan.

“Die gesprek rondom tegnologie in die eiendomsbedryf was tot dusver grootliks gefokus daarop om tradisionele eiendomsagente deur virtuele dienste te vervang,” sê Schalk van der Merwe, konsessiehouer van die Rawson-eiendomsgroep in die Helderberg.

“Dit het natuurlik ’n paar mense in die bedryf ontstel, maar die nadeel hiervan is dat so baie mense opgesweep word deur die drama dat hulle vergeet van al die geleenthede wat data en tegnologie bied.”

Volgens Van der Merwe is die feit dat tegnologie die administratiewe deel van die eiendomsbedryf vergemaklik eintlik ’n groot pluspunt vir eiendomsagente.

“So baie van ons tyd as eiendomsagente word bestee aan die roetine-take wat met eiendomstransaksies verband hou,” verduidelik hy. “Die probleem is dat hierdie soort take nie hul volle waarde ten toon stel nie. Dit trek inderwaarheid ons aandag af van die belangrike dinge waarop ons moet fokus soos kliëntediens wat nooit deur tegnologie vervang sal word nie.”

Aangesien so baie eiendomsagente op die transaksionele kant van hul verantwoordelikhede fokus, sê Van der Merwe dat verbruikers vergeet het wat die waarde is wat hulle vir hul kommissie ontvang.

“Dis die rede waarom laekoste-, digitale eiendomsplatforms so suksesvol is. Nie omdat die tradisionele, ervare eiendomsagent nie waarde toevoeg nie, maar omdat die waarde nie op so ’n manier oorgedra word dat dit sigbaar, effektief of relevant vir vandag se eiendomseienaars is nie.”

Deur tegnologie, data en kunsmatige intelligensie te gebruik om te help met daaglikse take, glo Van der Merwe dat dit eiendomsagente die kans gee om die wanpersepsie reg te stel en te demonstreer hoe waardevol die diens kan wees.

“Die eintlike transaksie is eintlik ’n baie klein deel van die meeste verbruikers se eiendomsreise,” sê hy.

“Die moeilike dinge gebeur voor en ná die tyd – om die regte eiendom te kry en dan die regte goed daarmee te doen. Daar is baie inligting hieroor beskikbaar vir verbruikers, maar om die inligting te interpreteer binne die konteks van spesifieke doelwitte en omstandighede is nie altyd so maklik nie. Dit is waar die ondersteuning, advies en ervaring van ’n tegnologie-gedrewe eiendomsagent baie kan bydrae tot ’n verbeterde kliënte-ervaring.”

Die gebruik van tegnologie in die eiendomsbedryf stel egter nie net om eiendomsagente in staat om op dienslewering te fokus nie. Die gebruik van data kan ook ’n groot rol speel.

“Dit is veral kunsmatige intelligensie wat baie opwindende voordele inhou,” sê Van der Merwe, wat reeds data en kunsmatige intelligensie in sy Rawson-konsessies in die Helderberg gebruik.

“Ons kan byvoorbeeld kliënte se profiele gebruik om vir hulle meer relevante eiendomme voor te stel en langtermynverhoudinge op te bou wat lank voor en ná die eiendomstransaksie waardevol is.

“Die gebruik van data en kunsmatige intelligensie het ons in staat gestel om ’n volledige en insiggewende diens aan ons kliënte te bied sonder dat ons addisionele tyd by hulle nodig het. Vir ons was dit ’n reis na die vermoë om ’n meer gerieflike, effektiewe, waardevolle en relevante diens aan ons kliënte te bied.”

Alhoewel die verwagtinge van moderne verbruikers deurlopend verander, is dit veilig om aan te neem dat die rol van data en tegnologie hier is om te bly.

As eiendomsagente dit kan gebruik om ’n beter diens te lewer, kan dit ’n welkome inspuiting aan die bedryf verskaf.

  • Vir meer inligting stuur ’n e-pos na marketing@rawsonproperties.com.
Meer oor:  Huisgids  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.