Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Huisgids
Die régte antwoord: Die 3 soorte vergaderings

Die Deeltitelskemasbestuurswet (Wet. 8 van 2011) maak voorsiening vir drie verskillende tipes vergaderings by deeltitelskemas.

Daar is trusteevergaderings, algemene jaarvergaderings en ander algemene vergaderings wat as spesiale algemene vergaderings bekend staan.

Daar is drie verskillende soorte vergaderings wanneer dit kom by die bestuur van deeltitelskemas.Foto: iSTOCK

Trusteevergaderings

Ingevolge art. 7 van die wet word die funksies en magte van ’n regspersoon deur die trustees van die regspersoon uitgeoefen.

Die trustees oefen hul pligte uit onderhewig aan die bepalings van die wet, die reëls en enige beperkings opgelê deur eienaars op ’n algemene vergadering van die regspersoon.

As die sogenaamde tweede been, naas die algemene vergadering van die lede, van ’n regspersoon speel die trustees ’n baie belangrike rol in die daaglikse werksaamhede van ’n regspersoon. Dit is vir die trustees relatief vinnig en eenvoudig om trusteevergaderings te belê ten einde besluite rakende die bestuur van ’n deeltitelskema te neem.

Trustees word deur die lede op die eerste algemene vergadering van die regspersoon en daarna op elke opeenvolgende algemene jaarvergadering verkies.

Aanhangsel 1 van die voorgeskrewe Bestuursreëls tot die Deeltitelskemasbestuursregulasies van 2016 het op trusteevergaderings en trusteebesluite betrekking. Die voorgeskrewe Reël 9 bepaal dat die trustees verplig is om te vergader ten einde die sake van die regspersoon uit te voer.

Die trustees is by magte om hul vergaderings uit te stel of andersins op die vergaderings te handel soos hulle goeddink. Natuurlik onderhewig aan die wet, die reëls en beginsel van die gemenereg wat van toepassing op vergaderings is.

Algemene jaarvergaderings

Algemene vergaderings is seker die belangrikste been van ’n regspersoon. Die hoofdoel van ’n algemene vergadering is om die opinie van die lede van die regspersoon te bekom. Hierdie opinie word uitgedruk by wyse van stemming op die vergadering.

Art. 6 van die wet het op vergaderings van regspersone betrekking. Art. 6(1) bepaal dat die vergaderings van regspersone in deeltitelskemas moet plaasvind op sulke tye en in sulke vorms soos deur die regspersoon bepaal.

Ingevolge art. 2 (8) van die wet moet die ontwikkelaar binne 60 dae vanaf die datum van die instelling van die regspersoon die eerste vergadering van die lede van ’n regspersoon belê.

Ingevolge Reël 17(1) van die voorgeskrewe bestuursreëls is ’n regspersoon verplig om ’n algemene jaarvergadering binne vier maande ná die einde van die regspersoon se finansiële jaar te hou.

Reël 17(2) van die bestuursreëls bepaal dat ’n regspersoon nie verplig is om altyd algemene jaarvergaderings te hou nie. Dit is in gevalle waar al die lede van die regspersoon skriftelik volgens die reëls daartoe toestem.

’n Algemene vergadering moet in die plaaslike munisipale area waarin die deeltitelskema is, gehou word, tensy die lede by wyse van ’n spesiale resolusie anders besluit.

Spesiale algemene vergaderings

Reël 17(3) van die voorgeskrewe bestuursreëls bepaal dat alle algemene vergaderings wat nie algemene jaarvergaderings is nie, as spesiale algemene vergaderings bekend staan.

Reël 17(4) bepaal dat die trustees by wyse van ’n besluit te eniger tyd ’n algemene vergadering kan belê.

Ingevolge die reël is die trustees egter verplig om ’n algemene vergadering te belê wanneer ’n skriftelike versoek afgelewer word wat onderteken is deur:

  • Lede wat geregtig is op 25% van die totale kwotas van al die dele; of
  • ’n Verbandhouer van verbande oor nie minder as 25% in getal van alle primêre dele.

Indien die trustees dan sou versuim om binne 14 dae só ’n vergadering te belê, sal sodanige lede of verbandhouer geregtig wees om die vergadering te belê.

Meer oor:  Ferdi Verryn  |  Vergaderings  |  Trustees  |  Eiendomme  |  Huisgids
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.