Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Huisgids
Eskom knou eiendomsmark

Ons eiendomsmark word toenemend negatief beïnvloed weens die onsekerheid wat Eskom se aankondiging oor beurtkrag vir die volgende 18 maande teweeg bring.

Mag Eskom in 2020 die ligte aanhou sodat die ekonomie nie verder skade ly nie. Foto: iStock

Twee maande gelede moes ons ons teen vlak 6-beurtkrag staal, wat onsekerheid laat toeneem het oor hoe volhoubaar Eskom krag kan voorsien in 2020.

Moody’s, wat binnekort moet besluit oor Suid-Afrika se moontlike afgradering na rommelstatus, hou Eskom met valkoë dop. Luidens die Internasionale Monetêre Fonds word Eskom as die grootste risiko vir ons land se geldsake en ekonomie beskou.

Geduld raak op met regeringsbeloftes wat nie vervul word nie, terwyl vaste beleggings en werklike produksiegroei onmoontlik is indien Eskom nie stabiel is en volhoubaar energie kan voorsien nie. Sodoende loop die uurglas leeg om buitelandse beleggers te lok. Boonop het ons belastingstelsel die klein persentasie van ons bevolking wat belasting betaal reeds uitgemergel. Ons regering moet besef dat dit nie positiewe vrugte gaan afwerp om korporatiewe instansies met selfs hoër belastings te teiken om leë staatskoffers aan te vul nie. Die gemiddelde korporatiewe belasting in lidlande van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling is minder as 24% – in Suid-Afrika is dit 28%. Dit maak ons op internasionale vlak nie mededingend genoeg om met alle plaaslike uitdagings en Eskom se kragonderbrekings nuwe en volhoubare beleggings te lok nie.

Die president se aankondiging in sy staatsrede verlede maand om myne (en sekere munisipaliteite) toe te laat om alternatiewe metodes te vind om krag op te wek/te koop en die bedryf geleidelik te desentraliseer, is beslis ’n stap in die regte rigting.

Veral op kommersiële gebied lyk die vooruitsigte vir vanjaar stagnant, met verwagtinge dat kantoorblokke se leegstaansyfers gaan verhoog – met ’n gepaardgaande afwaartse druk op huurpryse, kapitale depresiasie en lae enkelsyfer-eiendomsgroei. Die leegstaankoers in die prima kantoorsegment het die afgelope kwartaal ’n rekordhoogtepunt van 10,6% behaal. Rosebank loop op die oomblik die ergste deur, met ’n leegstaansyfer van 17,9%. Die South African PropertyOwners Association (Sapoa) berig dat 13 uit elke 100 prima kantoorgeboue ’n leegstaansyfer van meer as 30% het.

Die eiendomswaardeerder Erwin Rode berig dat die nasionale kantoorleegstaansyfer verlede kwartaal 11% was en noem onder meer dat Eskom se onvermoë om die ligte aan te hou, die kantoorsektor se hoop op herstel vir die volgende drie jaar sal kniehalter. Om die leegstaande kantoorruimte in ons land te vul, word 22 000 nuwe poste benodig – en dit gaan nie gebeur nie.

Ons werkloosheidsprobleem is erger as in enige ander land ter wêreld. In Suid-Afrika is ongeveer 10 miljoen mense werkloos teenoor 8,4 miljoen in 2014 – meer as Amerika en Duitsland se werkloses saam!

Hierdie statistieke se impak is ook duidelik te sien soos meer eiendomseienaars oppak, hul huise verkoop en emigreer – gevolglik laat die volgehoue hoër aanbod van eiendom in teenstelling met die aanvraag daarna pryse steeds daal.

Die meeste munisipaliteite word weens wanadministrasie en korrupsie deur bankrotskap in die gesig gestaar en dit gaan waarskynlik lei tot hoër verhogings in die inflasiekoers ten opsigte van erfbelasting en ander munisipale koste. Dit sal ’n direkte impak hê op stygende operasionele koste wat winsmarges oor die hele eiendomsmarkspektrum sal verlaag.

Elektrisiteitspryse het oor die afgelope dekade radikaal gestyg. Dit het in 2000 19,2% van die totale eiendom- operasionele koste uitgemaak in vergelyking met 29,8% verlede jaar. Die lae ekonomiese groeikoers van minder as 1% wat vir vanjaar voorspel word, is nie voldoende om kommersiële eiendom se leegstaansyfers te verbeter of stabiliseer nie, terwyl maandelikse huurpryse selfs verder kan daal ten einde leegstaande kantoor- en kommersiële spasie te kan verhuur – met ’n verdere negatiewe impak op die waarde van eiendom.

FNB het onlangs berig dat die finansiële druk verwante kommersiële verkope laasjaar van 39,5% in die derde kwartaal tot 47,11% in die laaste kwartaal laat styg het. Die persentasie was die hoogste in Kaapstad met 60,5%, gevolg deur Pretoria met 57,1% en 45% in die groter Johannesburgarea.

Dit is ’n weerspieëling van ons ekonomiese stagnasie oor die afgelope paar jaar.

  • Heiberg is hoof van Heiberg Estates. Kontak haar by heiberges­tates.com, admin@hei­bergestates. com of 012 362 4628.
Meer oor:  Huisgids  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.