Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Huisgids
Hereregte: Verligting vir kopers

Gedurende die 2020-begrotingsrede het die minister van finansies, Tito Mboweni, aangekondig dat ten einde die eiendomsmark te ondersteun hereregte aangepas word.

Die vermindering van hereregte is goeie nuus vir die eiendomsbedryf. Foto: iStock

Hierdie aanpassing verminder die hereregte wat betaalbaar is op vaste eiendom dwarsdeur die spektrum. Dis goeie nuus vir alle voornemende grondeienaars!

Enige persoon of regspersoon, soos ’n maatskappy wat grond of ’n vaste eiendom koop in Suid-Afrika, is aanspreeklik vir die betaling van hereregte.

Hereregte is ’n belasting wat betaalbaar is aan die staat deur alle kopers by die aankoop of verkryging van grond of vaste eiendom.

Hereregte is betaalbaar bo en behalwe die koopprys van die eiendom. Hereregte word gereguleer deur die Wet op Hereregte (Wet 40 van 1949).

Art. 2 van dié wet bepaal dat hereregte betaalbaar is op die waarde van enige eiendom wat deur enige persoon by wyse van ’n transaksie of op enige ander wyse verkry word, of op die bedrag waarmee die waarde van enige eiendom verhoog word.

Vir die doel van hereregte beteken eiendom:

  • grond;
  • enige aanhegting of “fixture” daaraan geheg;
  • ’n saaklike reg op grond;
  • enige reg op minerale,
  • ’n aandeel of belang in ’n “residensiële-eiendom-maatskappy” of
  • ’n aandeel in ’n aandeleblokskema.

Hereregte word bereken teen die skaal wat van tyd tot tyd deur die wetgewer bepaal word en is gekoppel aan die billike markwaarde van ’n eiendom soos op die datum van verkryging van die eiendom. Die persoon wat die eiendom koop, betaal die hereregte.

Die hereregte betaalbaar op eiendom bekom ná 1 Maart 2020 is soos volg:

  • Geen hereregte is betaalbaar op eiendom van tot en met R1 000 000.
  • Vir eiendom van R1 000 001 tot R1 375 000 word die hereregte bereken teen 3% van die waarde bo R1 000 000.
  • Vir eiendom van R1 375 001 tot R1 925 000 word die hereregte bereken teen 6% van die waarde bo R1 375 000. Plus ’n basistarief van R11 250.
  • Vir eiendom van R1 925 001 tot R2 475 000 word die hereregte bereken teen 8% van die waarde bo R1 925 000. Plus ’n basistarief van R44 250.
  • Vir eiendom van R2 475 001 tot R11 000 000 word die hereregte bereken teen 11% van die waarde bo R2 475 000. Plus ’n basistarief van R88 250.
  • Vir eiendom van R11 000 001 en meer word die hereregte bereken teen 13% van die waarde bo R11 000 000. Plus ’n basistarief van R1 026 000.

Art. 9 van die Wet op Hereregte maak voorsiening vir sekere uitsluitings waar hereregte nie betaalbaar is nie:

  • Owerheidsliggame;
  • Godsdienstige, liefdadigheids- of opvoedkundige instelllings;
  • Openbare hospitale;
  • Erfgename of legatarisse;
  • ’n Langslewende eggenoot;
  • Foute by registrasie;
  • Nietige transaksies;
  • Indien BTW betaalbaar is op die transaksie; ens.

Hereregte moet betaal word binne ses maande vanaf die datum van verkryging van die eiendom. ’n Boete van 10% per jaar is betaalbaar op die bedrag van onbetaalde hereregte ná die ses-maande-tydperk. Dit word bereken op elke voltooide maand.

Dit beteken dat geen hereregte betaalbaar is op eiendomme ter waarde van R1 000 000 en minder nie. Dit is voorwaar goeie nuus vir alle kopers en veral eerste kopers wat in die eiendomsmark wil inkom.

Hierdie nuwe, verminderde, tariewe is geldig vanaf 1 Maart 2020. Dit sal van toepassing wees op alle transaksie gesluit of kontrakte geteken ná 1 Maart 2020.

Die vorige tariewe is steeds van toepassing op transaksies of kontrakte gesluit voor 1 Maart 2020.

Meer oor:  Huisgids  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.