Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Huisgids
Huurders móét reëls nakom

Is ’n huurder in ’n deeltitelskema gebonde aan die reëls van die deeltitelskema? Kan ’n huurder aanspreeklikheid ontken omdat hy/sy nie bewus was van die reëls nie?

’n Huurder is ook gebonde aan die reëls en moet die moets en moenies van ’n deeltitelkompleks gehoorsaam. Foto: iSTOCK

Deeltitelskemas in Suid-Afrika word deur drie wette gereguleer:

  • Die gewysigde Wet op Deeltitels (Wet 95 van 1986, soos gewysig). Hierdie wet handel met die registrasie-aspekte in deeltitelskemas;
  • Die Deeltitelskemasbestuurswet (Wet 8 van 2011) reguleer die bestuursaangeleenthede in deeltitelskemas; en
  • Die Gemeenskapskemas-ombuddienstewet (Wet 9 van 2011) se doel is om toegang tot opleiding, inligting en dokumentasie daar te stel en die publiek bewus te maak van hul regte en verpligtinge in gemeenskapskemas. Ook om gesonde bestuur in gemeenskap­skemas te bevorder en bestuur te monitor en om bekostigbare meganismes daar te stel om geskille in gemeenskapskemas te besleg.

Art. 2 (1) van die Deeltitelskemasbestuurswet bepaal dat op die datum waarop ’n ander persoon as die ontwikkelaar die eienaar van ’n eenheid in ’n deeltitelskema word, daardie persoon die regspersoon word.

Art. 10 van die Deeltitelskemasbestuurswet maak voorsiening daarvoor dat ’n deeltitelskema van die datum van die ontstaan daarvan deur reëls gereguleer en bestuur word. Dié reëls word voorgeskryf in die regulasies van die wet en bestaan uit die bestuurs- en gedragsreëls. Die reëls maak voorsiening vir die beheer, bestuur, administrasie, gebruik en genieting van die dele (eenhede) en die gemeenskaplike eiendom in deeltitelskemas.

Aanhangsel 1 en aanhangsel 2 van die Deeltitelskemasbestuursregulasie van 2016 skryf onderskeidelik bestuurs- en gedrags­reëls voor wat van toepassing is op deeltitelskemas. Art. 10(4) van dié wet bepaal dat hierdie voorgeskrewe bestuurs- en gedragsreëls van krag word op die datum van die ontstaan van die regspersoon. Dit het betrekking op die gebou(e) en grond, en is bindend op die regspersoon en die eienaars van die dele asook enige persoon wat ’n deel okkupeer.

Reël 3(2) van die voorgeskrewe bestuursreëls bepaal dat ’n lid van ’n regspersoon (eienaar) alle redelike stappe moet volg om te verseker dat daar voldoen word aan die gedragsreëls ingevolge art. 10(2)(b) van die wet deur enige huurder of ander okkupeerder van enige deel of gebruiksgebied. Dit sluit die lid se werknemers, gaste, besoekers en hul familielede in.

Reël 7(4) van die voorgeskrewe gedragsreëls bepaal dat ’n eienaar of okkupeerder van ’n eenheid verplig is om die gedragsreëls te gehoorsaam nieteenstaande enige bepaling tot die teendeel vervat in enige huurkontrak of enige toestaan van ’n reg tot okkupasie.

Ferdi Verryn

Die vraag ontstaan vervolgens hoe gaan ’n huurder bewus wees van die reëls wat van toepassings is? Artikel 5(8) van die Wet op Huurbehuising (Wet 50 van 1999, die “Huurwet”) bepaal dat ’n afskrif van enige huisreëls wat van toepassing mag wees op ’n woning aangeheg moet wees as aanhangsel by enige huurkontrak. Art. 5(9) van hierdie wet bepaal verder dat die verhuurder verplig is om te verseker dat daar voldoen word aan hierdie artikel.

Die Huurwet definieer ’n huurkontrak as enige ooreenkoms of huurkontrak aangegaan tussen ’n huurder en ’n verhuurder wat betrekking het op ’n woning vir behuisingsdoeleindes.

Die Huurwet definieer verder ’n woning om in te sluit enige huis, koshuis, hut, shack, woonstel, kamer, buitegebou, motorhuis of soortgelyke struktuur wat uitverhuur word, asook enige stoorkamer, buitegebou, motorhuis, aangetoonde parkeerarea wat uitverhuur word wat deel vorm van die huurkontrak.

Die Huurwet definieer huis­reëls as die reëls wat betrekking het op die beheer, bestuur, administrasie, gebruik en genieting van die verhuringseiendom.

’n Huurder in ’n deeltitelskema is dus, soos enige ander eienaar of bewoner, gebonde aan die reëls. ’n Verhuurder is nie noodwendig aanspreeklik vir alle optredes van ’n huurder nie, maar ’n huurder kan aanspreeklik gehou word vir die oortreding van die reëls.

Meer oor:  Ferdi Verryn  |  Eiendomme  |  Huurders  |  Huisgids
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Beeld Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.